Wat as?

Wat as daar nou ‘n derde wêreldoorlog uitbreek?

Dit klink dalk vergesog, en wat het ‘n Suid-Afrikaanse boer daarmee te doen?

Ek was einde 2009 op uitnodiging van Ghadaffi saam met ‘n paar kollegas in Libie, waar sy regering vir ons goed ontwikkelde, maar onbenutte plase aangebied het. Vandaar het ek en Charl Senekal, tans die wêreld se grootste individuele suikerboer, ‘n Chinese afvaardiging in Sharm el Shaik, Egipte, oor moontlike samewerking en handel op landbougebied gaan sien. Beide besoeke het op niks uitgeloop nie, omdat ons met sekere voorwaardes en omstandighede ongemaklik gevoel het. Tog het die talle gesprekke oor die ekonomie, politiek en die toekoms, ‘n perspektief uit ‘n nuwe hoek gegee, een wat hierdie vraag noop.

Die VSA is diep in geldnood. ‘n Ter elfder-ure kongresbesluit om ongewensde stappe te neem om die wolf van die deur af weg te hou, het hul moeilikheid hoogstens uitgestel, beslis nie afgestel nie. ‘n Groot deel van hulle skuld lê by die Chinese. Caterpillar waarsku in Julie vanjaar dat die Chinese ekonomie ook oorverhit; iets waaroor Time Magazine in April 2007 al ‘n voorspelling gewaag het. Verlede maand het hulle kort geval op hulle betalingsbalans.

Europa sukkel met bankrot lande in die Suide; Griekeland, Italië, Spanje en Portugal. Die Noordelike lande, wat moet uithelp, raak by die dag meer traag om dit te doen. Japan is na ‘n reuse aardbewing, gevolg deur ‘n tsunami en gepaardgaande skade by ‘n kernkragstasie ekonomies gekwes, en moet sy herstelpad oor ‘n strawwe internasionale handelsterrein vind waar daar nêrens surplus geld rondlê nie. Die sogenaamde “ryk” Noordelike halfrond het ernstige finansiële probleme, en sal iets verbeeldingryk moet doen om daar uit te kom.

Dit geld minder vir die Arabiese lande. Hulle het baie olie, en baie geld. Tot onlangs was die rol van magtige diktators met gesofistikeerde militêre vermoëns oral langs die Middellandse see nog ‘n uitdaging, maar sedert die begin van 2011 het die “Arabiese lente” korte mette van hulle gemaak. Enkeles wat nog verbete aan mag vas klou, moet al hulle aandag en energie daaraan spandeer.

‘n Wêreldoorlog kan ‘n wonderlike finansiële uitkoms vir die VSA en Europa wees. Dit skep ‘n ekonomie van sy eie, en kan oor ‘n kort tydjie enorme geleenthede bied om ‘n betalingsbalans positief om te draai. Dit maak besigheidsin, al is dit die enigste sin. Die omgewing is, veral in die nadraai van die Arabiese Lente en gepaardgaande verwarring en verswakking in die Midde-Ooste, gunstig vir Westerse state om belange in en om Europa te beskerm.

Oor Afrika hoef die VSA en Europa hulle nie te bekommer nie. Egipte is van balans af, en Libië is uitgeknikker. Net Suid-Afrika kon dalk ‘n bydrae gelewer het, as daar nog iets van gevegsgereedheid in die weermag oor was.

Wat die groot vraag aan die orde bring: wat as daar so ‘n derde wêreldoorlog uitbreek? Gegewe die verwarrende seine wat Suid-Afrika met sy buitelandse beleid uitstuur, en sy onlangse geskiedenis met die keuse van vennote en alliansies – aan watter kant van so ‘n oorlog sou Suid-Afrika betrap word? En wat beteken dit in terme van bedreigings en geleenthede vir ons, die Suid-Afrikaanse boere?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Theo de Jager

Meer oor die skrywer: Theo de Jager

Theo de Jager is Adjunkpresident van Agri-SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

paulsolidariteit ·

Oorlog maak nie ekonomies sin as ‘n “finansiële uitkoms” nie, behalwe as ‘n rookskerm en rede om hulpbronne onder dwang van bestaande toepasings tot oorlog te herlei.

Diegene wat verwys na die sterk ekonomiese groei ná sekere vernietigende oorloë, verwar die herstel van oorlogskade of die herleiding van hulpbronne van “botter” na “gewere” met die skep van meer welvaart.

As oorlog ekonomies goed was, sou dit ook ekonomies goed wees om geboue se ruite stukkend te gooi, want dit skep dan soveel werk vir die glasmakers. Die ongesiene gevolg is egter dat die hulpbronne wat aan ‘n nuwe ruite gewy moet word, hoewel dit die glasmaker bly maak, nie aan iets anders gewy kan word nie, byvoorbeeld ganse nuwe huis.

Natuurlik, as mens ‘n buitestaander is terwyl ‘n oorlog tussen andere woed, soos die glasblaser, kan netto voordeel wel uit die oorlog getrek word. Neem ‘n vereenvoudigde voorbeeld van ‘n land wat slegs die vermoë het om oorlogstuig en ammunisie te vervaardig. Indien daar geen oorlog is nie, sal so ‘n land swaarkry, omdat daar geen mark vir sy produkte is nie. Indien daar wel ‘n oorlog is, sal so land floreer.
Natuurlik is hierdie voorbeeld veels te eenvoudig, aangesien daar in die werklikheid vele ander faktore is wat ook ‘n rol speel, soos die beskikbaarheid van kapitaal en die ineengestrengeldheid van wêreldhandel. So selfs vir ‘n buitestaander is ‘n oorlog tussen ander partye nie noodwendig voordelig nie.

Louis du Plessis ·

Theo ~

1 Jy skryf hierbo: “‘n Wêreldoorlog kan ‘n wonderlike finansiële uitkoms vir die VSA en Europa wees. Dit skep ‘n ekonomie van sy eie, en kan oor ‘n kort tydjie enorme geleenthede bied om ‘n betalingsbalans positief om te draai. Dit maak besigheidsin, al is dit die enigste sin.”

2 Dit sou werklik gaaf wees om te weet hoe ‘n “wêreldoorlog” vir die VSA en Europa “besigheidsin” kan maak.

3 Hoekom sou die VSA-strateë enigsins moontlike mededigers militêr wil aanval? Neem byvoorbeeld die Sjinese Volksrepubliek, wat allerweë gesien word as ‘n opkomende wêreldmag. Die VSA-weermag beskik tans oor meer as twintig keer die aantal kernplofkoppe as die Sjinese Volksbevrydingsleër, en as beteikening ingereken word, meer as honderd keer die aantal kernplofkoppe wat ‘n spesifieke gebied akkuraat kan tref. In die formidabele Amerikaanse slaankrag speel die internasionale veggroepe wat opereer saam met elf vliegdekskepe ‘n kernrol. Die Sjinese het nog nie hulle eerste vliegdekskip klaar gebou nie.

4 Maar selfs indien die VSA ‘n aanval loods, hoe beset jy wêreldstede soos Tokio of Meksikostad of Beijieng? Dis prakties onmoontlik.

5 Voorts, in aansluiting by Paulsolidariteit se sinvolle perspektief: Hoe maak sulke verwoesting hoegenaamd “besigheidsin”? Handel tussen Wes en Oos is deesdae volkome ineengestrengel. Die Europese Unie dui gereeld aan watter omvattende handelsbande hulle handhaaf met lande soos Japan, Sjina, Taiwan en Suid-Korea. Dat Amerikaanse burgers deurlopend Sjinese verbruiksgoedere aankoop, het bygedra dat Sjina tans oor meer as 800 triljoen Amerikaanse $ beskik. Kredietprobleme in enige area kan kort voor lank lei tot nywerheidswanorde en hongersnood in ‘n ander area, binne hierdie geïntegreerde ekonomiese stelsel waarna die historikus Ian Morris verwys as Chimerica. Goedere en dienste van Wes en Oos, Noord en Suid word elke maand meer van mekaar afhanklik binne die proses van globalisering.

6 Vir probleme soos waarmee die Grieke tans worstel, is daar oplossings wat besigheidsin maak. Een daarvan is dat ekonomies aktiewe indiwidue en instellings, ook en veral state, binne hulle vermoë sal leef. Maar oorlog, om nie te praat van ‘n wêreldoorlog nie, is nie ‘n uitweg nie. Inteendeel!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.