Wat het die mynbouhandves, die grondkwessie en ujamaa in gemeen?    

tanzanie-se-ujamaa

Julius Nyerere, die eerste president van ‘n onafhanklike Tanzanië, het die idee van Ujamaa ingestel. Foto: Lowimpact.org

Die grondkwessie is ʼn baie aktuele onderwerp en ontlok gevaarlike uitsprake en tydens verlede week se onderhandelinge oor die mynbouhandves, was dit nie lank nie voordat een van die radikale deelnemers die mynhuise gedreig het met ʼn “as julle nie eienaarskap van julle myne wil prysgee nie, sal dit gevat word soos wat plase gevat gaan word”.

Gelukkig het die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, ingetree en gewaarsku teen “ekstremisme” in die handvesdebat, bedoelende dat ekstreme argumente en dreigemente eintlik ongeloofwaardig is. Een van die mynhuise se uitvoerende hoofde wou dan ook weet wat die aktivis met die 60% niewinsgewende myne gaan maak as hy dit het, want dit is werklik nie slim om iemand anders se skuldlas van honderde miljoene rande oor te neem nie. Weereens het minister Mantashe ingetree en verduidelik dat toe hy nog ʼn mynwerker was, hy altyd ʼn myn wou bestuur, maar dat hy nou besef dat dit ʼn baie moeilike taak is en dat ʼn myn onder sy beheer baie vinnig ten gronde sal gaan.

Soos Mantashe egter tereg opmerk, is dit baie moeilik om ʼn myn te bestuur, maar so het ek al vroeg in my lewe uitgevind hoe moeilik dit is om ʼn plaas te besit en te bestuur. My pa was ʼn suikerrietboer en was sy lewe lank by landbou betrokke. Ek het egter geen erg aan boerdery gehad nie en wou iets eenvoudiger in die lewe doen. My gevoel oor landbou is bevestig die dag toe my pa my vertel het watter vaardighede ʼn boer benodig. Benewens die landbouergedeelte is ʼn boer op sy plaas ʼn veearts, ʼn predikant en berader, ʼn rekenmeester, ʼn ekonoom, ʼn motorwerktuigkundige, ʼn bemarker, ʼn weervoorspeller, ʼn personeelbestuurder, ʼn kontrakteprokureur, ʼn swaarvoertuigbestuurder, ʼn statistikus, ʼn beroepsjagter, ʼn grondkundige en ʼn plantkundige. Wat egter intussen daarby gevoeg moet word, is dat ʼn boer deesdae ook ʼn soldaat moet wees en, weens die grondonteieningsdebat, ook ʼn politikus.

Die populistiese gronddebat

Daar was tot dusver ʼn gespeksvakuum wat deur populiste gevul word. Die voorbok aan die populistiese kant is die EFF-leier, Julius Malema, wat al talle opruiende toesprake oor die onderwerp gemaak het. So het hy byvoorbeeld verlede week aangedui dat dit EFF-beleid is dat nie wit of swart enige grond mag besit nie, maar dat alles in staatsbesit moet wees. Boere sal dan die grond bewerk, maar hoef geen huur vir die grond te betaal nie. ʼn Mens wonder net of die saadjie van die sosialistiese idee by hom geplant is voor hy of ná hy die ANC verlaat het.

Die eksklusiewe nasionale grondberaad wat die week plaasvind se strategiese fout is dat die groeperinge wat toutrek, nie genooi is nie. Dit is juis diegene wie se hande brand soos hulle uit beginsel aan hul standpunte vasklou, wat deel van die debat moet wees. Hierdie is die moeilike roete, maar laat geen ruimte vir kunsmatigheid nie en sal uiteindelik ʼn volhoubare oplossing bied. Dit help nie dat die mense wat net weerskante van die tou staan en nie omgee as die streep effe oorgesteek word nie, met mekaar gesels nie. Laasgenoemde verteenwoordigers van boere word na valse vrede gelok, met volhoubaarheid en geregtigheid wat uiteindelik agterwee gelaat word. In afwagting op ʼn inklusiewe platform waar alle rolspelers en belanghebbende partye gesprekke met mekaar kan voer, moet daar solank na nog argumente en voorbeelde gekyk word wat hopelik eendag die voorstanders van grondgrype tot beter insigte sal bring. Die beste plek om lesse vir die grondkwessies in Afrika te vind, is in Afrika self. Die grondles uit Zimbabwe is alombekend en dit bied genoegsame bewys van die impak wat dit op ʼn land en sy buurlande het, maar Tanzanië se grondplanne ná onafhanklikwording bied nog ʼn belangrike les.

Tanzanië se ujamaa

Julius Nyerere, Tanzanië se eerste postkoloniale president in die vroeë sestigerjare van die vorige eeu, het ʼn sosialistiese hervormingsprogram, bekend as “ujamaa” en wat in Swahili “familiegroeperings” (of sosialistiese groeperinge) beteken, van stapel gestuur. Ujamaa was ʼn program om gemeenskappe in “boerderynedersettings” te laat saamwoon met die doel om “landbousosialisme” te vestig. Ujamaa het op grootskaalse armoede uitgeloop.

Hoewel Tanzanië se grondkwessie nie op historiese uitsettings betrekking gehad het nie, toon Ujamaa talle raakpunte met Suid-Afrika se grondhervormingsplanne in soverre dit ten doel gehad het om boere hul individuele grondregte te ontsê en deur die nasionalisering van boerdery te poog om klasverskille tussen die “grondbesitters en die grondloses” af te breek. Ujamaa se ideologiese onderbou en die Tanzaniese regering se verskuilde agenda, maak dit verder relevant tot die Suid-Afrikaanse situasie.

Nyerere het met die bekendstelling van ujamaa aangedui dat dit deel van Tanzanië se weg na sosialisme sal wees. So het ujamaa gepaardgegaan met die Sowjet-styl-kommunisme met die nasionalisering van privaat grond as deel van die staat se ekonomiese beplanning. Karl Marx het dit “primitiewe kommunisme” genoem.

Ujamaa moes deur regeringsbeleid ʼn utopie skep en populêre transformasie sou met grondvlaksteun gepaardgaan. Die Keniaanse intellektueel, Ali Mazrui, het egter na die projek as ʼn “romantiese spel” wat ander Afrika lande bekoor verwys. Ujamaa was verder ʼn poging om gemeenskappe te herorganiseer om uiteindelik politieke beheer oor hulle te kon uitoefen – met ander woorde, deur landsburgers strategies te plaas, versterk dit die regering se beheer oor die samelewing. Ujamaa se agenda was die sentralisering van landbou en nie die bemagtiging van die burgery nie, ten spyte daarvan dat Nyerere geglo het dat landbouproduksie die basis van ʼn ontwikkelende staat soos Tanzanië moet wees.

Aangesien die regering nie genoegsame steun aan die gemeenskaplike boere gebied het nie, moes die grondbewoners later op eertydse kennis oor selfstandigheid en oorlewingstrategieë begin staatmaak. Ujamaa het nie net weens gebrekkige steun deur die staat misluk nie, maar daar was eksterne faktore soos droogtes en vloede wat die brose bestaansboerderye vinnig vernietig het omrede surpluslandbouproduksie nie in hul beplanning ingebou was nie. Surplusproduksie is nie net belangrik vir voorsorg vir die maer jare nie, maar is ook nodig om inkomste deur uitvoere te verdien.

Die Wêreldbank het juis in 1981 in die gesaghebbende Berg-verslag wat op oorsake vir armoede in Afrika gefokus het, bevind dat Afrika-regerings se onvermoë om aansporings in te stel wat landbouproduksie verhoog met die oog op uitvoere, tesame met staatsinmenging in die ekonomie, die grootste oorsaak van armoede in Afrika was.

 Ná Nyerere se bewind was Tanzanië een van die armste lande in Afrika. Toe die ujamaa-projek uiteindelik teen rondom 1980 tot ʼn einde geloop het, was Tanzanië se landbouproduksie 40% onder die vlak van wat die Wêreldbank as normale produksie beskou het. In 1992 het 72,6% van die Tanzaniese bevolking onder die broodlyn gelewe (wat toe op $1,25 per dag gereken was) en in 2009 het 68% van die bevolking steeds in armoede geleef.

Om drie dekades later van die nagevolge van ujamaa weg te kom, het Tanzanië se vorige president, Jakaya Kikwete, in 2009 die Kilimo Kwanza-veldtog (“boerdery eerste”) aangekondig. Die regering het deur dié inisiatief die modernisering van landbou en privaat eienaarskap en privaat inisiatiewe aangemoedig om veral kommersiële belange en landbouproduksie van groot en middelslagboere te bevorder. Dit was egter nie ʼn groot sukses nie weens die onvermoë van die meeste boere om ná jare van sosialistiese indoktrinasie weer nuut te dink.

Ujamaa en Suid-Afrika

Vir ons lê die les van ujamaa nie net in die negatiewe gevolge daarvan opgesluit nie, maar dit beklemtoon ook die groot gaping tussen ideologie en werklikheid en die uitdaging om die geskiedenis en die hede te takel.

Benewens die onrusbarende uitlatings wat president Cyril Ramaphosa begin maak het voordat hy nog behoorlik grond gevat het in sy nuwe amp, het Malema met sy kalwers begin ploeg en begin grond vat. Nou het adjunkpresident David Mabuza tydens sy eerste vraesessie verlede week in die parlement aangedui “dat diegene wat grondloos is, grond moet kry omrede grond die middel is wat mense laat oorleef”.

Deur bloot Zimbabwe, ujamaa en die Wêreldbank se Berg-verslag as verwysing te gebruik, behoort politici tot hul sinne te kom wat grondgrype betref. Dit is duidelik wat die uiteinde gaan wees.

Waar daar onreg plaasgevind het, moet dit reggestel word op die gepaste wyse sonder dat ʼn nuwe onreg geskep word en onskuldige boere, hul werkers en uiteindelik die land die prys daarvoor moet betaal. Dan moet die begunstigdes ook besef dat hulle deur die voorgestelde model bloot ingesuig word in uitgediende sosialistiese en kommunistiese praktyke en dat hulle eendag gaan agterkom dat hulle ge-ujamaa is.

Aan die mynboukant word ʼn inklusiewe konsultasieproses gevolg en parallellopend met die grondonteieningsdebat gaan die onderhandelinge tussen alle belanghebbende partye oor die nuwe mynbouhandves vandeesweek voort. Dit is ʼn debat van ʼn ietwat ander aard want alle mineraalregte behoort reeds aan die staat, maar die feit dat 60% van ons myne marginaal of niewinsgewend is, en nagenoeg 70 000 mynwerkers sedert 2013 hul werk verloor het, moet die rooi ligte laat flikker oor ʼn bedryf wat weens oorregulering agteruit boer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Jerry ·

Swartmense se strewe na sosialisme het die voorlaaste oorgangsfase bereik met grondonteiening sonder vergoeding. Met net een fase oor na die versnelde grondonteieningsfase, begin swartmense die eindstreep sien. Selfs in die DA begin geplante sosialiste hulle stemme dik maak, maar dit eers daar gelaat. Planne en pogings om sosialisme te stop is blote wensdenkery, omrede dit die vrymaak van swartmense uitbeeld en na 40 jaar van ideologiese onderrig, hul denke en psige totaal oorheers. Op die beste kan jy dit vertraag en ook maar net totdat die howe teen jou begin draai en die massas gemobiliseer word om deur geweld jou te intimideer. Die plan waarby die Afrikaner nog by kan baat, is ongetwyfeld om versoenend te onderhandel met CR vir n plekkie in die Afrika son, alhoewel ek reken dat die uurglas vir versoening nie meer veel sand in het nie. Vreedsame oorgang na sosialisme is ongetwyfeld SA se voorland tydens CR en die gematige ANC administrasie se termyn. Die anargiefase, gepaardgaande met swart op wit en swart op swart geweld sal inwerking tree die dag wat n radikale Zuma tipe anargis weer aan bewind kom en begin plunder. My beskeie opinie is dat gegewe die fase se gevaarligte wat flikker en sosialistiese ideologiese vooruitsigte, dat Suid Afrikaners wat nog kan en graag wil emigreer dit maar liefs nie vir veel langer as CR se termyn moet uitstel nie.

Oom Kalahari ·

Die hele Afrika deur gaan gebuk onder hongersnood en kan selfsugtige optredes van die verledes nie geleer word feur die jare heen nie. Met blanke boere terug in Zambiee se lanbou program, is daar alreeds oplewing en gaan Zambiee vooruitstrewend begin raak. Dit het deur & deur bewys, moenie krap waar dit nie jeuk nie.

Pietman ·

Mooi, logiese en sinvolle kommentaar. Die mense wat dit moet lees en verstaan doen dit nie. Logika, meriete, rasionele denke en gesonde verstand is nie faktore wat gewig dra by besluitnemers nie. Hulle het geen ander keuse as om die grondkwessie as basis vir politieke steun en verkiesingsbeloftes te gebruik nie, so hulle gaan hardloop met die een. Die ANC lede wat grond besit kan ‘n goeie voorbeeld stel deur die grond wat hulle besit vrywillig aan die staat te oorhandig om hulle goeie intensies te demonstreer – dink hoeveel aansien gaan CR en ander politieke leiers kry as hulle die voorbeeeld volg!! Of het hulle dalk nog nie besef dat hulle eie grond ook in die gedrang gaan kom nie. Wonder maar net.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.