Wat is die kanse vir ʼn Afrikanerstaat?

(Argieffoto: Pixabay)

In die vorige twee artikels is daar gekyk na die ontstaan van state en onderskeid getref tussen veral Europese state, wat oor eeue organies ontstaan het, en Europese kolonies, wat hulle onafhanklikheid deur ʼn anti-koloniale stryd verkry het.

Suid-Afrika is ook ʼn voormalige kolonie, maar verskil van die meeste kolonies in die opsig dat dit ook ʼn prominente inheemse wit bevolking het en daarom reeds vroeër as ander kolonies selfbestuur gekry het.

Verder is Suid-Afrika se koloniale geskiedenis ook ouer, met meer skakerings as die van die ander kolonies in Afrika: dit was reeds in die laat 17de eeu ʼn Nederlandse kolonie oftewel ʼn handelspos van die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanie (VOC) en vanaf die vroeë 19de eeu ʼn Britse kolonie. Dit geld egter net vir die Kaap self, die binneland is eers veel later ontdek en getem.

In die tweede helfte van die 19de eeu het binne Suid-Afrika reeds vroeë voorbeelde van onafhanklike state bestaan, naamlik die twee Boererepublieke − Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaanse Republiek. Ten spyte van hulle relatief kortstondige bestaan van sowat 50 jaar was dit tot in die 21ste eeu ʼn bron van inspirasie vir ʼn onafhanklike Boere- oftewel Afrikanerstaat. Die twee Boererepublieke is na die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 as provinsies ingesmelt in die groter geheel-Suid-Afrika onder Britse beheer, wat egter reeds in 1910 as Unie van Suid-Afrika selfbestuur verkry het. Die Afrikaner se strewe in die 20ste eeu was nie meer om hulle vryheid in een of meer Afrikanerstate te herwin nie, maar om die Unie van Suid-Afrika tot hulle voordeel te gebruik: ʼn projek wat baie suksesvol was, in so ʼn mate dat Suid-Afrika vanaf 1961 met die republiekwording in elke opsig onder beheer van die Afrikaner was en na hulle idees gevorm is, al het hulle die land met vele ander volke gedeel. Die idee van ʼn Afrikanerstaat het eers in die laat 20ste eeu, toe die magsverlies op die horison was, weer na vore gekom. ʼn Onderhandelde partisie as alternatief tot apartheid, aan die een kant, en ʼn swart, sosialistiese magsoorname, aan die ander kant, is in akademiese kringe wel al vir ʼn geruime tyd gedebatteer.

ʼn Idee waarvoor die tyd nog nie ryp was

Die strewe na ʼn eie Afrikanerstaat het altyd die dilemma gehad dat, wanneer die politieke omstandighede dalk gunstig was, die steun daarvoor gering was; en toe die steun daarvoor opgetel het, die omstandighede daarvoor nie meer gunstig was nie.

Toe die Nasionale Party, wat gebiedskeiding voorgestaan het, aan bewind was, het die Afrikaners die hele Suid-Afrika as hulle vaderland beskou en op elke plek betreklik goeie lewensomstandighede gehad en hulle taal en kultuur as beskerm gesien. Later, met die dreigende magsverlies en die onderhandelinge oor die nuwe, swart oorheersde Suid-Afrika, was daar ʼn (skraal) moontlikheid, sou die Afrikaner saamgestaan het, om selfbeskikking in ʼn deel van die land te onderhandel; die steun was egter nie daar nie.

In die 1970’s is die moontlikheid van ʼn eie Afrikanerstaat die eerste keer ernstig binne die dinkskrum SABRA (Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-Aangeleenthede) gedebatteer, maar die regering van John Vorster was nie daarvoor te vinde nie. Die beleid van territoriale skeiding was onveranderd dat swart gebiede uit Suid-Afrika uitgesny moet word om die land sodoende “witter” te maak. Die geweldige demografiese groei van die swart bevolking is daarby nie voldoende in berekening gebring nie. In die 1980’s, veral met die inwerkingstelling van die nuwe grondwet van 1984, wat die idee van territoriale skeiding effektiewelik tersyde gestel het, het ʼn groep binne SABRA en die Konserwatiewe Party (KP) openlik die idee van ʼn eie Afrikanerstaat bepleit en deur die Vereniging van die Oranjewerkers selfs eerste praktiese uitvoering daaraan gegee. Die steun op grondvlak het egter ontbreek, selfs onder Afrikaners, en die NP regering het meer en meer wegbeweeg van die idee van gebiedskeiding heen na een verenigde Suid-Afrika met groepsregte. In die 1990’s, met die ontbanning van die ANC, het die skaal nog sterker geneig na sentralisasie en die samevoeging van alle territoriale onderdele soos die onafhanklike en outonome tuislande tot een “onverdeelde, verenigde en demokratiese (bedoelende sosialistiese) Suid-Afrika”, volgens die ANC.

Nogtans het die beweging vir ʼn Afrikanerstaat die geleentheid gehad om binne Kodesa (Konvensie vir ʼn Demokratiese Suid-Afrika) hulle saak te stel. Hulle is egter erg verswak deurdat die KP as amptelike opposisie (en by tye ʼn ernstige kompetisie vir die NP-regering) nie aan die beraad deelgeneem het nie en geen plan vir ʼn post-apartheid-Suid-Afrika gehad het nie. In die vorm van die Afrikaner-Volksfront (AVF), in bondgenootskap met swart tuislandleiers selfs nog sterker as COSAG (Concerned South Africans Group), het daar wel vir ʼn kort tyd ʼn beweging ontstaan met die nodige gewig om ʼn Afrikanerstaat te kon beding, selfs met militêre middele. In ruil vir ʼn vreedsame oorgangsproses heen na ʼn swart beheerde Suid-Afrika, sou die AVF ʼn Afrikanerstaat of ten minste ʼn outonome gebied kon beding het mits die Afrikanerstaat in die gebied was wat Avstig en SABRA voorgestel het: in die Noordwes-Kaap, wat sonder té groot ekonomiese en demografiese ontwrigtings uit Suid-Afrika uitgesny kon word.

Of dit dan werklik tot ʼn Afrikanerstaat sou ontwikkel het, is wel ʼn ander vraag. Met die skeuring van die AVF en die haastige stigting van die Vryheidsfront onder generaal Constand Viljoen kort voor die algemene verkiesing van 1994, het die posisie van die voorstanders van ʼn Afrikanerstaat verder verswak. Die laaste kans om dalk nog iets soos ʼn Afrikanerstaat te kon beding het, was in die eerste termyn van die nuwe regering tussen 1994 en 1999 met die Volkstaatraad, ʼn parlementêre komitee bestaande uit volksstaatgesinde Afrikaners wat die moontlikhede ondersoek het. Sou die Volkstaatraad en die Vryheidsfront hulle kragte gebondel het en eenstemmig op die Noordweskaap-korridor besluit het, kon die regering dalk hier toegegee het in ʼn tyd waar akkommodering van die Afrikaner nog as belangrik beskou is.

Geen nuwe idee nie

Die idee om Suid-Afrika volgens etniese of rasselyne te verdeel was voor die hand liggend. Alhoewel veral die blankes oor die hele land versprei is en nêrens ʼn meerderheid vorm nie, is swartmense weens die geskiedenis en trekbewegings in die Noorde en Ooste van die land gekonsentreerd. Indien Suid-Afrika in twee dele verdeel sou word, soos onder andere die Duitse wetenskaplikes Baron Klaus von der Ropp und Jürgen Blenk in die 1970’s voorgestel het, sou dit sin maak om ʼn lyn van Port Elizabeth oor Bloemfontein tot Sishen/ Kuruman en die Botswana-grens te trek, met wit mense en bruin mense suid-wes van die lyn in die meerderheid, en swart mense noord-oos van die lyn in die meerderheid. Die land se ekonomie was en is egter so ineengestrengel en groot getalle wit mense leef juis in die Transvaal en veral in Johannesburg en Pretoria, die ekonomiese hartkamer van die land noord van die lyn, en natuurlik talle swartmense suid van die lyn, dat ʼn verdeling groot ontwrigting sou veroorsaak.

Daar was in elk geval twee kompeterende idees: die van ʼn minderheidstaat vir wit mense (van elke taalgroep) en bruin mense, en die volkstaat- of Afrikanerstaat-idee: ʼn staat vir die Afrikaner, of soms ook Boere genoem, Afrikaanssprekende wit mense, met die oorblywende deel as gemengde staat vir die res. Hier was die sentiment sterk vir die ou Boererepublieke, Transvaal en Oranje-Vrystaat, of ten minste dele daarvan.

Die argument, wat veral deur die Boerestaatparty en later die Volksraad gevolg is, was die regsargument: die twee Boererepublieke was soewereine en erkende state en hulle staatlikheid is wederregtelik en met geweld deur Groot-Brittanje weggeneem. Dit moes dus herstel word deur ʼn regsaksie by die Verenigde Nasies (VN). Dat state kom en gaan en geen onveranderlike reg op ewige bestaan het nie, en dat geen wêreldliggaam kan besluit dat state wat ondergegaan het weer herstel moet word, is daarby buite rekening gelaat.

ʼn Ander denkrigting was om eerder ʼn Afrikanerstaat daar te stel waar die Afrikaner is, wat sou beteken dat dorpe en stede met sterk Afrikanerkonsentrasies omlyn moes word, en dat nie-Afrikaners oortuig moes word om te trek. Dit was die voorstelle vanuit die AVF en ook van dele van die Konserwatiewe Party asook die Oranjewerkers.

Die derde denkrigting was die van prof. Carel Boshoff en die Afrikaner-Vryheidstigting: om ʼn yl bevolkte en ekonomies onaantreklike gebied in die Noordwes-Kaap te kies en dit deur pioniers van die grond af nuut as staat met eie arbeid op te bou na die model van Israel. Alhoewel dit ook nie tot ʼn Afrikanerstaat gelei het nie, is dit so ver die model wat die verste gevorder het en in die vorm van Orania reeds ʼn werkende modelstad met praktiese selfbeskikking het.

Nog ʼn denkrigting is, pleks van ʼn wit rassestaat, ʼn minderhedestaat of ʼn etniese Afrikanerstaat, die stigting van ʼn Afrikaanse taalstaat in die Wes-Kaap, waar Afrikaanssprekende wit mense, oftewel Afrikaners, asook bruin mense saam ʼn aansienlike meerderheid vorm. Verder is die voordeel dat die gebied reeds as aparte provinsie afgebaken is en nie deur die ANC regeer word nie. Die Duitse wetenskaplike, dr. Christian Böttger, het in sy boek Autonomie für die Afrikaanse Nation. Ein Superethnos in Südafrika van 2020 die idee in diepte ondersoek en bepleit. Hy praat van ʼn “superethnos”, bedoelende iets wat ʼn kombinasie van verskillende volke is wat nogtans deur een wesenlike element bymekaar gehou word, in dié geval taal en ʼn gemeenskaplike grondgebied. Met groeiende steun vir groter selfseggenskap, selfs onafhanklikheid vir die Wes-Kaap, is die opsie dalk op die lang termyn die waarskynlikste een, ook omdat dit internasionaal die mees aanvaarbare opsie is.

Alhoewel ʼn Afrikanerstaat tans onwaarskynlik lyk, is die idee geensins dood nie. Trouens, die versugting is daar, maar min mense is bereid om hulle lot in te gooi by iets waarvan die uitkoms onseker is. Soos wat omstandighede verander (en die geskiedenis wys dat dit skielik en onverwags kan gebeur), sal die plan van ʼn eie staat vir Afrikaners vorentoe weer mense kan begeester. So iets kan egter nie ryp gedruk word nie.

Die omstandighede vir ʼn Afrikanerstaat is tans denkbaar sleg: die regering is heeltemal daarteen gekant, ten spyte van ʼn toegewing tydens die grondwetlike onderhandelinge met artikel 235. ʼn Regeringsverandering, waarbinne ʼn pro-Afrikanerstaatparty ʼn sterk rol speel, lyk tans baie skraal. Die internasionale toneel, wat in die vroeë 1990’s nog gunstig vir selfbeskikking was, is vandag totaal ingestel op globalisering en wil eerder met state ten gunste van multinasionale organisasies wegdoen pleks om nuwe state te help skep. Laastens, die Afrikaner het ook nie meer die invloed en mag wat hulle selfs nog in die 1990’s gehad het nie en emigrasie, individualisering en ontstamming het die saak verder vererger. Aan die ander kant lei die ontnugtering met Suid-Afrika en die toenemende hekkies om te kan emigreer tot die besef dat net jy as deel van ʼn volk jou toekoms kan skep. Dit sal weer tot ʼn herwaardering van selfbeskikking lei. Die groei van Orania wys dat die idee werkbaar en toenemend aantreklik is.

Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Harley Davidson ·

Die duitsers het Duitsland, die grieke het griekeland gee vir die Afrikaner sy eie land waar almal kan bly sonder enige diskriminasie soos bv die Wes Kaap daar moet net wegebreek word van die Suid-Afrika soos hy nou is anders sink ons almal.

Piet parys ·

Die probleem is die Afrikaner gaan nie n land kry nie . Jy sal moet veg ,annekseer en of oorneem met alle mag anders sal dit nie gebeur nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek is bevrees dis nou te laat vir ‘n Afrikaner staat.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek is pro afstig, maar twyfel of ‘n wit staat sal werk.

annie ·

Nie alle blink planne draai blink uit nie. Afrikaners het destyds verwoed alles agtergelaat, hul waens gepak en uiteindelik met groot skade, skande en groot lewensverlies weer onder Britse heerskappy opgeëindig. Probeer nou ‘n plasie of net ‘n klein huisie in die Kaap koop. Toe volg die Dorslandtrek met dieselfde gevolge. Nou probeer sekere Afrikaners weer koningkraai soos in die has been verlede: Third time lucky? Wie gaan die koning wees Buys of Mulder oor die versukkeldes iewers nêrens?

Andrew ·

plasie (seker wyn) en n klein huisie (seker op die strand) in die Kaap was daai tyd ook nie vir almal bekostigbaar nie.

VaalDonkie ·

Andrew, my “huisie” is in ‘n rowwer area hier in die Kaap maar hy was R2m omdat hy ‘n dubbel garage het. Die woonstel in Durbanville wat ons gehuur het wou die eienaar R1.6m voor he. Ons het net gelag en uitgetrek.

Andrew ·

Die probleem met die weskaap is dat dit geensins n Afrikaanse taalstaat sal wees nie. Jammer maar Afrikaans is nie in die meerderheid daar nie en is hulle meer geneig om te smag na globalissering (ver-engelsing) , en soek hulle net onafhangkliheid om met die “gemors” weg te doen. Soos altyd met die snobs , not on my dore step. Nee wat Orania sal dit oor tyd wees dankie.

VaalDonkie ·

Waarvan praat jy? Tussen ons Afrikaners en die Kleurlinge het ons ‘n meerderheid en ons praat almal omtrent Afrikaans. Dis net die 500 souties en Jode in die Suidelike voorstede wat Engels praat. Ons Ingels-Ingels maar net met die “africans”.

Petrus Albertus ·

Ja, die ware “last outpost”is nie Durban nie maar eintlik Kaapstad met sommige eksklusiewe buurtes daar wat slegs Engels kan praat – wat nie eers ooit in Johannesburg die geval was nie. Soos iemand eenkeer gesê het, begin ‘n skool in die Kaap met ‘n hoogdrawende Nederlandse naam en verander dan die voertaal na Engels toe en dan het jy ‘n eg Kaapse instelling.

WynandM ·

…jy moet biedjie meer in die Wes Kaap kom, moet nie net in Kaapstad bly en Tafelberg en die Waterfront besoek nie :-). Ry biedjie uit die suidelike voorstede en middestad, dan vergelyk jy die besigheidstaal (of onderwystaal) van die oorgrote WesKaap met die besigheidstaal van ander dele in die land – jy moet na die groter area kyk en nie net na die klein anamolieë kyk nie.

WynandM ·

Selfs onder Britse beheer was daar meer wit Afrikaners in die Kaap as elders, maar ek verstaan jou gevoel, daar is/was ook baie liberale. Behalwe die suidelike voorstede van Kaapstad en miskien Knysna is die Wes-Kaap ‘n plek waar Afrikaans seevier – waar jy nog in die oorgrote winkels/besighede/restaurante ens in Afrikaans kommunikeer. Ek kan jou verseker daar is baie Afrikaners in die Wes Kaap wat wil wegbreek. Die dilemma is, as dit net lyk of die wegbreek aksie eksklusief deur ‘n “spul Boere” gereel word, is dit klaar “gedoem”. Hopelik swaai meer mense na ‘n federale of outomome staat idee soos dinge agteruitgaan. Die invloei v “Oos Kapenaars” is verder ‘n negatiewe faktor. ‘n Mens kan maar net hoop die Wes Kaap kry stadigaan meer magte (polisie, onderwys) want dinge lyk nie goed. Terloops ek het niks teen Orania nie, dis ‘n baie goeie inisiatief wat ek steun en ek haal my hoed af vir hulle. Mag daar nog sulke plekke ontwikkel. Ons benodig meer as een oplossing.

Ceef ·

Andrew, jy’s reg. Afrikaans is steeds ‘n meerderheid maar hierdie prentjie is vinnig besig om te verander. In 2011 was Afrikaans die eerste taal by 49% in die WK maar daar het massiewe semigrasie plaasgevind van OK onder die Xhosas. Xhosa-sprekendes behoort teen vandag 30% plus te wees en Afrikaans tussen 42 – 45%. Swartmense sal ook reeds teen vandag bykans 40% van die bevolking uitmaak en Kleurlinge hier rondom 45% en Blankes rondom 13 – 14%. WK sal teen 2030 ‘n Swart meerderheid hê. WK het ‘n miljoen minder Blankes as wat daar in die Rand woonagtig is. Afskeiding vir die WK sal nooit gebeur nie. Ek’s nuuskierig om te wees wat die nuutste senssyfers sê…

Republikein in die Wes Kaap ·

Ceef, as ek so deur die sensus en die OVK se syfers gaan lyk dit tog of dié migrante wel in sekere streke in die WK konsentreer. Veral in Kaapstad (vlaktes), Tuinroete, Theewater, Overberg, S’bosch, Paarl en Matzikama. Daar is streke waar Afrikaanse wittes en bruines steeds in die meerderheid is, ten minste vir nou. Dis in hierdie streke waar gewerk kan word vir afstigting. ‘n Gebied van 25 000 vierkante km is groot genoeg. Dis groter as Israel. Afstigters moet vergeet van hele WK.

Awie ·

Dis moontlik maar nie onder huidge ANC regime nie, regering en stelsel sal moet verander voor dit gunstig is vir so ‘n staat- staat moet ook teen kusstreke grens en ‘n hawe hê vir uit-en invoere. Selfstandig en onafhanklikheid net onder ‘n federale/konfederale stelsel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die stomme ANC gaan sy hande volhê met probleme in die binneland en KZN. Hulle sal bly wees indien streke wil wegbreek.

AJ ·

Net soos die Apartheid ‘plan’ misluk het, het die Rainbow Nation plan, óók misluk!

Watter plan is volgende?

Voorstel:

Dekoloniseer die streek!

1. Laat skrap die SUID AFRIKA WET van 1909.

2. Belê ‘n Streekskonvensie (CODESA) vir die Suidelike Afrika streek om NUWE LANDSGRENSE te bepaal.

3. Stig nuwe state (lande) provinsies, kantonne ensovoorts op konsensus basis.

4. Sluit onderlinge verdrae en ooreenkomste.

5. Voeg bymekaar wat by mekaar hoort uit eie oortuiging en vrye wil! (beskerm groepsregte!)

Republikein in die Wes Kaap ·

Op makro vlak, ja. Maar begin eerder werk op mikrovlak, kry mense agter jou en bou dan op na bo. As jy weer sien kan jy afstig.

AJ ·

Dit is nie net ‘n Afrikaner probleem nie!

Suid Afrika was ‘onwerkbaar’ en onregeerbaar vanuit die staanspoor met uniewording in 1910 omdat die (Europa) vasgelegde landsgrense NIE korrespondeer met die volkverspreiding van die streek nie.

Só byvoorbeeld bevind die Tswana ‘nasie’ hulle in 4 onafhanklike state naamlik SA, Botswana, Zambië en Namibië.

Dit is een van die redes waarom die historiese (én huidige) landsgrense van Suid Afrika nie werk nie.

Die Afrikaners se strewe na ‘n onafhanklike staat staan ‘n beter kans op sukses as dit beplan word met die ondersteuning van ander nasies byvoorbeeld die Swazis, Zoeloes, Xhosas ensovoorts.

annie ·

Dus, net die ANC-kaders is rassisties en swak bestuurders en veral geneig tot plunder? Alle ander, wit, bruin ens wat Afrikaans praat is goeie mense wat saam sal werk en die saak van die groep eerste stel en veral witmense as hul leiers sal aanvaar, hard werk en finansiëel selfstandig wees? Gou besef wanneer hul nie geskik is vir leierskap en sekere werk nie? Binne twee dae is die goeie swart huiswerkers en kinderopassers weer op hul pos… na smeekbede en groter salarisaanbiedinge.

Werner ·

Met die lees van kommentare is dit duidelik dat baie min Orania al besoek het. Ek wil almal aanmoedig om dit ‘n prioriteit te maak om Orania te besoek binne die volgende jaar. Al is dit net om te kom lag vir die klomp agterlike rassiste, kom maak ‘n draai. Dit mag dalk net jou opinie verander oor die werkbaarheid van ‘n Afrikanerstaat

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek twyfel of Orania ooit ‘n republiek sal word.

Werner ·

Weereens, kom kyk. Kom. Doen dit. Jou opinie sal baie meer werd wees nadat jy ‘n draai gemaak het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek het niks teen Orania en sy mense nie. Blykbaar woeker julle. Maar vir my en ander kommentators gaan dit oor die mootlikheid van totale afstigting van Suid Afrika. Met ander woorde, om nie meer deel te wees van SA nie, om nie belasting vir die regime te betaal nie, om nie meer deel te wees van die politieke bedeling nie, om eie landswette te maak, om as ‘n staat met grense erken te word deur ander lande in terme van internasionale wette. Orania sal nie daai pad kan loop nie. Julle is en bly Suid Afrikaners.

Werner ·

Dalk is jy reg, dalk nie. Wat wèl waar is, is dat geen ander strewe vir Afrikaneronafhanklikheid naastenby so ver gevorderd is as Orania nie. Dis omdat die mense van Orania doen, nie praat en wens nie. ‘n Ander belangrike ding om te onthou is dat, ondanks geen de jure onafhaklikheid nie, Orania se mense daagliks de facto onafhanklikheid geniet (buiten vir belasting).

Ook is ons nie bloot Suid-Afrikaners nie. Ons kan na instellings gaan sonder om aangeval te word, soos in Klerksdorp. Hier is geen rassespanning nie. Geen BEE. So kan ek aangaan. Om die waarheid te sê, dis nogal baie anders as Suid-Afrika.

As mens net na die horison van totale ontafhanklikheid vaskyk, mis jy die stappe na onafhanklikheid op die grond.

Kom maak ‘n draai en ervaar dit eerstehands.

Marianna ·

Hoekom kan mense in SA nie saamleef soos in Namibia nie? Die Namibiers het die verlede agtergelaat toe hulle onafhanklik geword het. Dit word nooit in die openbaar deur die regering weer uit die doodskiste gegrawe en opgedis nie soos ons telkemale met die sweep van Apartheid, Kolonialisme en Rassisme geslaan word as dinge nie volgens hulle planne verloop nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gaan dit rerig so goed daar? Glo nie dis Utopia nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.