Wat is die situasie met outonomie in Suid-Afrika?

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

In die vorige artikel is nie-territoriale, oftewel kulturele outonomie, bespreek. In die genoemde gevalle het die minderheid in ʼn spesifieke staat of state ʼn moederland, wat namens sy minderheid elders verdrae met ander state sluit, sy minderhede befonds en sorg dat hulle beskerm word. Dit geld veral in Europa.

In Suid-Afrika is die situasie heelwat anders: die Afrikaners as mees prominente minderheid het geen moederland nie (die Sotho’s, Tswanas en Swazi’s het dit wel in die vorm van hulle etniese moederlande Lesotho, Botswana en eSwatini), en geniet ook andersins min internasionale steun. Verder volg die regerende ANC ʼn beleid van sentralisasie en wil juis wegdoen met spesifieke etniese belange, ten spyte van sporadiese lof vir “diversiteit”. Suid-Afrika se Grondwet het wel twee artikels wat iets oor gemeenskappe en selfbeskikking sê.

Artikel 185 verwys na die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe. Die hoofdoelwitte van die kommissie is volgens die Grondwet “om respek, vrede, verdraagsaamheid, menslikheid en nasionale eenheid tussen die verskillende taal-, godsdiens- en kultuurgroepe te bevorder op die basis van gelykheid, nie-diskriminasie en vrye assosiasie”. Verder het die kommissie die funksie om vraagstukke wat die betrokke gemeenskappe raak te monitor, na te vors, raad en terugvoering te gee, daaroor op te voed en in te lig, asook om historiese erfenis te ontwikkel en gemeenskapsrade te erken.

Dit klink alles goed en is natuurlik ook lofwaardige doelwitte, maar die Artikel 185-kommissie se doel is nie die erkenning en bevordering van kultuurgemeenskappe se selfstandigheid en identiteit nie, maar om die ANC se nasieboudoelwitte te bevorder. Juis omdat die kommissie se mandaat so wyd en so vaag is, en die kommissie boonop nog verteenwoordigend saamgestel moet wees, beteken dit vir minderhede en spesifiek vir die Afrikaner min.

Suid-Afrika gee geen werklike erkenning aan sy minderhede nie, omdat aan die een kant die siening bestaan dat Suid-Afrika ʼn land vir almal is en almal net Suid-Afrikaners is, ongeag ras, taal, kultuur, godsdiens, ensovoorts, maar aan die ander kant word gedurig van wit en swart gepraat; van eersgenoemde in negatiewe terme. Die strewe na erkenning van ʼn ras as gemeenskap is problematies, want ʼn ras het nie ʼn taal, kultuur, geskiedenis of godsdiens nie, slegs ʼn breë fisiese ooreenkoms en genetiese afkoms. As die Afrikaner egter as etniese minderheid erken wil word, dan vra natuurlik talle ander groepe “wat dan van ons?”. Nog elke debat oor erkenning van die Afrikaner, selfs net van die Afrikaanse taalgroep, word gewoonlik verongeluk deur ʼn apartheid- en wit bevoorregting-beskuldiging. Dit maak die situasie so anders as in talle ander wêrelddele, waar minderhede met voorheen onderdruktes en benadeeldes gelyk gestel word.

Artikel 235, die sogenaamde selfbeskikkingsklousule, is die enigste artikel van die Grondwet wat nog steeds nie in wetgewing vervat is nie. Dit lees: “Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking, soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.”

Regsgeleerdes het al baie gedink en geskryf oor hierdie artikel en wat dit mag beteken. Van alle artikels is dit seker die een wat die verste gaan en wat kulturele selfbeskikking en selfs interne territoriale selfbeskikking moontlik maak. Dit is egter spesifiek so omskryf dat dit slegs ʼn toelatende, nie ʼn afdwingbare en eisende artikel is nie. Ten beste kan dit dus so geïnterpreteer word dat pogings tot selfbeskikking wat privaat onderneem word, soos die gemeenskappe van Orania en Kleinfontein, nie in stryd met die Grondwet is nie. Ook kulturele, nie-territoriale selfbeskikking behoort hierdeur gedek te word, maar dan is daar natuurlik weer die eis van nie-diskriminasie wat die oprigting en bedryf van enige kulturele en taalinstellings wat “eksklusief” is, bemoeilik.

Behalwe vir die kollektiewe artikels is daar natuurlik ook die beginsel van die soewereine enkeling (private outonomie) uit die Romeinse reg, wat die basis van die Westerse en ook die Suid-Afrikaanse reg is. Dit is ʼn liberaal-individuele beginsel, maar versterk die moontlikheid dat vele enkelinge as groep op private wyse ʼn vereniging stig wat ʼn kulturele doelwit nastreef. Groepsregte op byvoorbeeld onderwys in eie taal klink in Suid-Afrika na voorregte soek, maar die mensereg tot onderwys in jou eie taal kan niemand ernstig kritiseer nie.

Is private kulturele outonomie prakties moontlik en op watter terreine?

Internasionale voorbeelde:

Die eerste prys vir etniese minderhede is altyd om wetlike erkenning van die staat te kry, want dit beteken ook gewoonlik befondsing deur belastinggeld om hulle strukture in stand te hou. Dit geld veral in Europa en deels ook in Asië, waar state uit ʼn “staatsvolk” en een of meer etniese minderhede uit buurstate bestaan. In state waar die reg van die enkeling voorop staan, soos in die VSA, is daar gewoonlik geen spesiale erkenning en befondsing van etniese minderhede nie (omdat daar geen staatsvolk is nie), met uitsondering van die Indiane, maar daar is oorgenoeg ruimte vir private kulturele outonomie.

Voorbeelde is die talle etniese buurte in bykans elke stad van die VSA (Chinatown, Little Italy, Little Havana, Joodse buurte, ensovoorts), waar die minderheid se taal saam met Engels gepraat word, waar kulturele verenigings, kerke, winkels, soms ook skole, ensovoorts van die betrokke etniese groep is. Dit geld ook vir ander “Nuwe Wêreld” state soos Kanada, Argentinië, Brasilië, Australië en Suid-Afrika, ensovoorts, trouens, deesdae kom dit ook toenemend in Europa voor met hele buurte waar byvoorbeeld Moslem-oorheersend is. Dit word soms as verryking gesien (gewoonlik in die nuwe wêreld state) en soms as bedreiging (meestal in Europa). Pogings om deur middel van wetgewing “ghettoïsering” te verhoed het nog niks opgelewer nie. Dit is asof dit ʼn natuurwet is dat mense hulle eie etniese gemeenskappe soek.

Geleenthede vir die Afrikaner:

Soos bo bespreek is daar niks wat ʼn groep mense belet om hulle kultuur privaat en selfgefinansierd uit te leef nie. Uit die aard van die saak geld vrye assosiasie. Niemand kan egter meer namens die volk praat nie, en niemand mag onder die huidige omstandighede van uiterste sensitiwiteit oor diskriminasie uitgesluit word nie. In praktyk sluit egter talle verenigings wat rondom ʼn spesifieke doelwit gebou is, ander mense uit: ʼn kerk sluit nie-Christene uit, ʼn skaak- of gholfklub sluit mense uit wat nie belang stel in dié spesifieke sport nie, ʼn klub vir hoogs intelligente mense soos Mensa sluit diegene uit wat nie ʼn IK bo ʼn sekere vlak het nie, die vrouelandbou-unie sluit mans uit. In Chinatown mag jy as nie-Chinees ook bly, maar jy gaan nie baie tuis voel nie.

Wat private kulturele outonomie moeilik maak is die koste, want burgers moet belasting betaal en dan nog steeds dit wat hulle privaat wil bedryf, finansier. Daarom is dit in feitlik alle gevalle van kulturele, nie-territoriale outonomie so belangrik dat óf die betrokke staat óf die moederland help met befondsing van kulturele instellings, skole en universiteite.

Die laagste en maklikste vlak van private kulturele outonomie is die stig en bedryf van kultuurverenigings, iets wat in Suid-Afrika moontlik is en al lankal gebeur. Uit die aard van die saak was so iets in die verlede makliker vir Afrikaners met ʼn ondersteunende regering.

Private onderwys is ook in Suid-Afrika moontlik, wat reeds ʼn belangrike stap is. Daar is lande waar privaat onderwys aan vele vereiste onderwerp word en deur die staat as onwenslik beskou word of heeltemal verbode is, maar Suid-Afrika het danksy die Britse tradisie talle privaatskole, ook rondom taal, godsdiens en etos. ʼn Private universiteit is moontlik (Akademia is die bewys) maar dit is ʼn pioniersterrein en beslis duur en ingewikkeld. In die VSA is byvoorbeeld talle private universiteite.

Private woonbuurte is ook ʼn algemene verskynsel in Suid-Afrika, maar behalwe Orania en Kleinfontein het nie een ʼn spesifieke taal- en kultuurvereiste nie. ʼn Verklaarde private Afrikaner-woonbuurt sal weer ruik na uitsluiting en diskriminasie, maar niks verhoed ʼn privaat woonbuurt om in praktyk kultureel Afrikaans te wees nie, omdat almal − of amper almal − wat daar woon Afrikaners is. ʼn Aftreeoord van ʼn Afrikaanse kerk in die Suid-Kaap is de facto ʼn Afrikaner-aftreeoord.

Daar is orals oor die wêreld heen maatskappydorpe of -woonbuurte, en so sou ook ʼn woonbuurt vir Solidariteit- en AfriForum-lede denkbaar wees, byvoorbeeld in die vorm van aftree in ʼn privaat buurt as ledevoordeel. Die ATKV-vakansieoorde vir lede is ook so iets, al is dit vir seisoenale en nie permanente woon nie.

Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.