Wat is die waarheid oor grondbesit?

Die grondpad wat loop na Dorpsplaas, digby Ermelo in Mpumalanga (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Ons sit ongelukkig vasgevang in ʼn samelewing waar die leuen in vele opsigte die norm geword het. Wanneer ʼn leuen genoeg vertel word, begin mense dit glo. Hulle vorm persepsies rondom die leuen en dit word dan die samelewing se “nuwe waarheid”.

Een so ʼn leuen gaan oor die geskiedenis van grondbesit, en dié leuen vorm die fondament van die argumentering van radikale groeperings. Omdat verskillende mense uiteenlopende, moeilik versoenbare waardestelsels het, sal dit sukkel om gemeenskaplike terrein te vind. Die vraag is: Wat is regtig die waarheid en hoe staaf ʼn mens dit?

Dit werk dikwels so dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf, maar dis verregaande om iets op te dis wat van alle waarheid ontbloot is omdat jý iets wil bewys. ʼn Opgetekende geskiedenis wat geskiedskrywers in hulle eie leeftyd neergestip het, behoort meer gewig te dra as iets wat 300 jaar later sonder enige stawende brondokumente opgetower word.

Grondbesit

Die Westerse beskouing van eiendomsreg is grootliks op privaat besitreg gegrond en word deur ʼn markgerigte ekonomie gesteun wat welvaartskepping aanhelp. Binne hierdie kultuur geld ʼn toerekeningsvatbaarheid en ʼn skeppende, toekomsgerigte ingesteldheid van entrepreneurs wat hard werk vir ʼn beter toekoms. Aan die ander kant is daar mense wat geen verantwoordelikheid aanvaar nie, wat wag vir môre en ander blameer vir hul slegte omstandighede wat nie verbeter nie. Hulle wag en verwag dat iemand vir hulle ʼn beter lewe moet skep. Intussen belas die staat deur wetgewing die welvaartskeppers deurlopend sodat hulle geld aangewend kan word om ander te bemagtig. So ʼn bestel is nie volhoubaar nie.

Dan is daar ook uiteenlopende beskouings oor grondbesit en die geskiedenis daarvan. Die redes vir hierdie verskillende uitkyke is legio. Aan die een kant is daar diegene wat die reg op privaat grondbesit koester en grond benut om welvaart te skep. Dit verg harde werk, kundigheid en verantwoordbaarheid.

Aan die ander kant van die geskiedenis was stamhoofde in tradisionele gebiede (die voormalige tuislande) die eienaars van grond en kon hulle volgelinge net met die goedgunstige vergunning van die stamhoof gebruiksreg op grond kry. Geen individuele swart persoon kon dus hul eie privaat grond besit nie. Hierdie benadering vind steeds uiting in uitsprake oor grondregte waar die staat (soos die stamhoof) alles moet besit en besluit wie kan wat met watter grond doen.

Welvaart

Wat presies is welvaart? Uit ʼn Westerse oogpunt is dit iets wat geskep moet word deur diegene (ʼn entrepreneur) wat die “regte” geleenthede raaksien, en met deurlopende harde werk word produksiefaktore (soos grondstowwe, kapitaal en arbeid) doeltreffend bestuur om winsgewend te word. Aan die ander kant is daar byvoorbeeld ʼn ANC-LP wat in ʼn onlangse gesprek laat blyk het dat hy geen idee gehad het dat welvaart iets is wat geskep moet word nie, maar gedink het dit bestaan maar net vanself. Dit is ʼn vergestalting van die beskouing dat mense vir môre moet wag, want daar sal mos gesorg word!

Mense wat hul grond behoorlik benut, het ʼn geleentheid om hulle besigheid positief te laat groei. Ongelukkig is etlike kleinboere vandag steeds van maatskaplike toelaes afhanklik om aan die lewe te bly ondanks die hektare grond waarmee hulle sit.

ʼn Voorbeeld van iemand wat wel die verantwoordelikheid aanvaar het van wat dit verg om ʼn suksesvolle boer te wees, is ʼn lid van TLU SA wat 27 jaar gelede as verteenwoordiger van ʼn maatskappy vier hektaar uitvalgrond by ʼn boer gehuur en met ʼn klein boerdery begin het. Tans verskaf hy werk aan ongeveer 100 mense en is sy boerdery ongeveer R300 miljoen werd. Hy is een van die grootste produsente van drie kommoditeite wat kos aan al die inwoners van Suid-Afrika verskaf. Die vraag is: Wat is die verskil tussen hierdie boer en al die kleinboere wat al jare lank op ongeveer 4 hektaar grond sit en steeds geen vordering maak nie?

Vandag mag enigiemand in die land enige eiendom koop. Dit beteken elkeen kan bates bymekaar maak as hulle daarvoor werk. Wat word dus bedoel met woorde soos “inklusief”?

Komplekse geskiedenis

Die Khoi-San was die eerste inwoners in Suider-Afrika. Verskillende swart stamme het daarna mettertyd uit die noorde van Afrika na die suide getrek en hulle op verskeie plekke gevestig, elk onderskeibare volkere met hul eie gesag. Hierdie stamme het die Khoi-San eenvoudig verdryf en/ of vermoor en die grond beset.

Wit mense het ook na die binneland inbeweeg, maar vanuit die suide, nadat die gewraakte Jan van Riebeeck ʼn verversingstasie gevestig het wat die begin was van handel in die suide van die land met die wêreld. Vele wit mense kan vandag verskeie traktate en ooreenkomste wys namate hulle ʼn vreedsame naasbestaan probeer vestig het met die onderskeie swart stamme wat verspreid oor Suider-Afrika gewoon het.

Wanneer ʼn mens oor grondbesit praat, kan die geskiedenis rondom die Difaqane nie verswyg word nie. Dis maklik om vandag te sê dat ander bevolkingsgroepe die skuld moet dra vir alles wat in die geskiedenis skeefgeloop het. Die werklikheid is dat geen bevolkingsgroep vanuit die oogpunt van ander bevolkingsgroepe ʼn “skoon” geskiedenis het nie.

Eiendomsreg

Met die aanvaarding van ʼn nuwe Grondwet in 1994 was die ooreenkoms dat al die inwoners van Suid-Afrika gelyk is en dat almal ewe veel regte, maar ook ewe veel verantwoordelikhede, sal hê. Dit staan elkeen vry om beskikbare eiendom op die mark te koop, en daar is nogal baie. Daarvoor kry die wettige eienaar ʼn titelakte wat die staat honoreer. Niemand wat ʼn titelakte het, het sy grond gesteel nie. TLU SA het verskeie jare gelede ʼn R100 000-beloning beloof aan enigiemand wat kan bewys dat enige van ons lede sy grond gesteel het. Ons geld is steeds veilig in die bank.

Ondanks die groot bedrae geld wat die ANC-regering al met verskillende programme aan grondoordragte bestee het, kan hulle weinig indien enige positiewe resultate bewys. Indien al die mense wat danksy dié programme grond gekry het, inderdaad bemagtig is, moes ons mos nou al ʼn florerende swart kommersiële landbousektor gehad het. Daar is ʼn wanpersepsie oor presies wat bemagtiging behels. Die wyse waarop mense sogenaamd bemagtig word, is ʼn klug.

Natuurlik is daar suksesverhale van verskeie swart entrepreneurs wat in eie reg grond gekoop het, maar as mense in die normale verloop van sake herkapitaliseer moet word, is daar mos fout met die model of die jokkie.

Individue of groepe wat vandag daarop aandring dat grond aan die sogenaamde regmatige eienaars teruggegee word, beweeg op dun ys. As die argument geldig sou wees, kan sommige van hulle self geen aanspraak op grond hê nie, want wit én swart mense is almal tweedegenerasie-inwoners in die land.

Die toekoms

Mense moet besef ons is op ʼn punt in die geskiedenis waar ons land se ontwikkeling of verval van óns afhang. Ons kan almal daartoe bydra om môre ʼn beter dag te maak. Maar behalwe dat dit ʼn toekomsgerigtheid en harde werk verg, verg dit ook dat jy eers hand in eie boesem steek voor jy iets of iemand oor jou persoonlike swak omstandighede blameer. Begin by jouself. Ons kan niks aan die positiewe en negatiewe dinge in ons land se geskiedenis doen nie, maar ons kán en móét aan ons toekoms werk.

Die inwoners van Suid-Afrika sal tot die besef moet kom dat die ANC-regering se beleidstoepassing ons almal se toekoms negatief beïnvloed. Daar is geen probleem wat die inwoners vandag ervaar wat nie regstreeks of onregstreeks met die huidige beleidsomgewing verbind kan word nie. Mense begin sommer al die eerste dag ná ʼn verkiesing betoog oor dienslewering. Al wat gaan help is as elke inwoner in alle opsigte die verantwoordelikheid vir die toekoms op hulleself neem – ook by die stembus.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sokrates ·

Mense kan en sal nooit “gelyk” wees nie. Die kinders in jou huis is nie eens “gelyk” aan mekaar nie. Hulle verskil in terme van talente, kognitiewe vermoëns, persoonlikheidseienskappe, gedragspatrone en nog vele ander faktore. Daarom sal hulle uitkomstes ook nie “gelyk” wees nie, en partykeer benut hulle boonop ook nie hulle geleenthede op n “gelyke” manier nie……. Wat mense egter is, is “gelykwaardig”, bloot omdat jy mens is, soos alle ander mense. Alle mense verdien dus wel respek en gelyke geleenthede. Daar is n groot verskil tussen gelykheid en gelykwaardigheid. Party politici se gehamer op “gelykheid” verklap n totale gebrek aan insig in die menslike aard en in die rol van eie verantwoordelikheid……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.