Watse bloeiende beskawing voor 1652?

Die laaste weke was daar ’n taamlik opgewonde – soms histeriese – debat oor ’n geskiedenisboek wat onlangs verskyn het. Ek verwys na Patric Tariq Mellet se The Lie of 1652, waarin hy probeer bewys dat daar dekades voor Jan van Riebeeck se koms ’n bloeiende, lewendige beskawing onder die Khoi aan die Kaap bestaan het, en dat daardie beskawing wreed deur die kolonialistiese wit mense verdruk en uitgewis is.

Laat ek begin met ’n stelling wat onmiddellik my óngeloofwaardigheid sal bevestig: Ek het Mellet se boek nie gelees nie; wel ’n tiental uittreksels en bydraes van homself en sy kritici aan die debat. Met dié – belangrike – voorbehoud meen ek dat ek tog wel ’n (hopelik) nugter bydrae tot die gesprek kan lewer.

Voordat ons verder met Mellet gaan, kom ons wy eers enkele paragrawe aan die aard van die historiese wetenskap en die taak van die historikus. In my lewe as akademiese historikus was daar twee kollegas wat bepalend vir my benadering was.

In sy intreerede as ereprofessor aan die ou Randse Afrikaanse Universiteit oor Die Taak van die Historikus het my vader, dr. G.D. Scholtz, in 1968 gemeen geen historikus kan absoluut objektief wees nie. Maar, het hy voortgegaan, die vraag is of die historikus moet toelaat dat sy voorliefde of afkeer van ’n saak beslissend vir sy werk moet wees.

Die antwoord is “nee”, het hy gemeen: “’n Historikus wat die prooi van sy eie subjektiewe gevoelens is wanneer hy die pen opneem, is geen ware historikus in die ware sin van die woord nie. Hy is dit nie, omdat dit vir hom totaal onmoontlik is om hom selfs vir ’n oomblik van sy onderwerp te distansieer en na die waarheid te soek.”

Die ander is die vermaarde Franse historikus Marc Bloch, wat ook oor die probleem van objektiwiteit besin het.

In ’n boek wat in Engels onder die titel The Historian’s Craft gepubliseer is, het Bloch geskryf daar is ooreenkomste tussen die werk van die historikus en die regter – albei soek na die waarheid. Maar as hulle dit gevind het, skei hul paaie: Die regter moet ’n vonnis uitspreek; die taak van die historikus is verby.

“If the judgement only followed the explanation, the reader could simply skip it. Unfortunately, the habit of passing judgements leads to a loss of taste of explanations. When the passions of the past blend with the prejudices of the present, human reality is reduced to a picture in black and white. … When all is said and done, a single word, ‘understanding’, is the beacon light of our studies.”

Wat ’n mens hieruit kan distilleer, is dat die taak van die historikus drieërlei is: Om die verlede so eerlik moontlik te rekonstrueer, om dit te analiseer en om dit te verstaan.

Let wel, as jy dit wérklik wil verstaan, help dit nie om die verlede met die passie van die huidige tyd te benader nie. Daar is byvoorbeeld op sigself niks mee verkeerd om die antieke wêreld se gebruikmaking van slawerny teen die agtergrond van ons teenswoordige begrip van menseregte vir jouself te veroordeel nie, maar die oomblik dat jy toelaat dat daardie morele oordeel jou professionele rekonstruksie, analise en verstaan van die destydse samelewings vertroebel, ontspoor jy as historikus.

’n Ewe belangrike punt is dat die geskiedeniswetenskap ’n prinsipiële onderskeid tussen féíte en vertólking maak.

Jy moet die feite so eerlik moontlik openbaar. Jy mag nie die feite wat jou narratief steun, oorbeklemtoon en dié wat dit ondermyn, onderbeklemtoon of selfs verswyg nie.

Maar dis terselfdertyd moontlik en legitiem om op grond van dieselfde feite tot uiteenlopende vertolkings te kom. Elke mens is immers die produk van sy tyd en omgewing; niémand is ooit 100% objektief nie.

Ek, synde ’n Afrikaner, sal byvoorbeeld anders na die Britse konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog kyk as ’n Engelse jingo-historikus uit die eerste helfte van die 20ste eeu. Maar selfs dán is daar ’n grens wat ook ék nie mag oorskry nie.

Dus het ek in my boekie Waarom die Boere die oorlog verloor het (1999) verkies om die konsentrasiekampe teen die agtergrond van die dissipline van teeninsurgensieoorlog te ontleed. Die teorie van teeninsurgensie leer naamlik dat guerrillas slegs suksesvol kan wees as hulle die steun van die plaaslike bevolking het. Wat die Engelse dus in die jare 1900-’02 gedoen het, was eenvoudig om die plaaslike bevolking massaal te verwyder en in kampe op te sluit.

Só het hulle by wyse van spreke die Boerekommando’s se suurstof stelselmatig afgesny. Dít was een van die belangrikste redes waarom die Boere uiteindelik verloor het.

Siedaar ’n manier om ’n onderwerp wat by elke reggeaarde Afrikaner – ook by my – morele afsku teweeg bring, op ’n akademies-wetenskaplike manier te benader wat nie die analise en begrip van die gebeurtenis vertroebel nie.

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Nou terug na Mellet. Nogmaals, ek het Mellet se boek nie gelees nie, maar ek neem wel die verwoestende kommentaar in ag van drie professionele historici wie se werk ek hoog ag: drs. Dan Sleigh, Rodney Warwick en Albert Blake.

Al drie skeur Mellet se boek volledig uitmekaar. Om mee te begin, sê hulle, is sy féíte verdag, want talle van die bewerings wat hy as feite aanbied, is aantoonbaar verkeerd en word in elk geval nie deur behoorlike navorsing (verwysings en eindnotas) gesteun nie.

Mellet noem die Kaap van voor 1652 byvoorbeeld ’n “hawe”, wat die indruk wek van ’n dorp met ’n georganiseerde plek waar goedere af- en opgelaai word. Meer as ’n ankerplek met beperkte handel was dit egter nie – dis juis hoekom die VOC ’n behoorlike hawe daar gevestig het.

Voorts ignoreer Mellet die feit dat dit regdeur die geskiedenis gebeur het dat swakker kulture deur sterkeres opsy gestoot is. Dit kan ’n mens betreur, maar dit regverdig nie swak geskiedskrywing nie.

Voorts blyk dit dat Mellet se werk gedryf word deur ’n enorme morele woede oor die – weliswaar onbetwisbare – onreg van rassediskriminasie en apartheid. As jy lees hoe Mellet se jeug weens armoede en ’n gebroke gesinslewe min of meer hel op aarde was, kan jy as mens en as Christen nie anders as om mededoë met hom (en sy woede) te hê nie.

Maar dit maak nie sy klaarblyklik skeeftrek van die geskiedenis rég nie. As jy, ook as iemand wat géén opgeleide historikus is nie, jou hand aan geskiedskrywing waag, moet jy verwag om op dieselfde manier beoordeel te word as enige ander historikus met hoeveel grade en publikasies agter sy of haar naam.

Op grond van die normaalweg hoogs betroubare oordeel van Sleigh, Warwick en Blake oor Mellet se werk, kan ’n mens dus nie anders as om die uitgewer, Tafelberg, te kritiseer dat hy só ’n swak stuk geskiedskrywing gepubliseer het nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Frans ·

Daar is tog verskillende vlakke van beskawing en sou ‘n mens die van die mense van Suidelike Afrika waaroor die skrywer van “The lie of 1652’ so semel meet teenoor bv.die antieke gemeenskappe
“Maya, Inca, Olmec and Aztec” was hul doodeenvoudig primatief en op die onderste trappies van die beskawingsleer.

Kokerboom ·

Wat het die mnr Melet gerook?
Kom met bewyse voorendag !!!Dinge wat die toets van die tyd weerstaan het!!

annie ·

‘n Mens sou wel ook wou vra hoe joernalistiek en geskiedskrywing dan sou verskil aangesien beide handel oor dit wat plaasgevind het… hoewel eergister en nòù seker verskillende emosionele skokke en samehangende wyshede oplewer (en nòù voorspellings oor mòre afdwing). En dan onthou ons dat almal gewetens het en ons onsself graag flous en wil oortuig dat dit wat ons kwytraak waar moet klink om verby daai ewige gewete te kom. Dit is die vraag wat Mr TarIQ asb moet antwoord: Wat wil hy graag bereik met sy geskrif en hoe gelukkig is sy ideologiese geheue met sy prestasie?

Suzette ·

Sal verseker nie die moeite doen om mellet se boek te lees nie – stel nie belang in iemand wat leuens vir die waarheid verkoop nie. Miskien moet mellet eerder ordentlike navorsing doen voor hy sy hand op papier sit.

domheks ·

Tafelberg uitgewers is net so skuldig soos mellet. Laat jou dink aan die eiland met al die snert stories van hooggeplaaste mans. Oppas daai ou het selfdood gepleeg.

Derek ·

Indien almal van ons boeke moet skryf oor een of ander woede binne ons, sal daar te min boek winkels wees. Dit is deel van groei van elke mens en nie noodwendig die skuld van rassisme nie. Baie blankes het ook moeilik groot geword en nie gebaat by die vorige regering, “Apartheid” was teenoor blankes ook gepleeg, godsdiens n goeie voorbeeld. Geskiedenis met dus nie gebruik word om jou woede te verkwantifiseer vir enige rede nie, veral as dit nie feitlik korrek is nie, maar moet net aangewend word as deel van ontwikkeling of om iets te leer daaruit.

Therese ·

G.D. Scholtz se vereistes vir ‘n goeie historikus (1968) is net so op die hedendaagse joernalis van toepassing.
” ‘n Historikus (joernalis) wat die prooi van sy eie subjektiewe gevoelens is wanneer hy die pen opneem, is geen ware historikus (joernalis) in die ware sin van die woord nie … ”
Net soos Mellet se “swak stuk geskiedskrywing gedryf is deur ‘n enorme morele woede”, is verslaggewing oor byvoorbeeld die Trump-administrasie grootliks gedryf deur ‘n enorme morele afkeur.
Geskiedskrywers en verslaggewers wêreldwyd moet met arendsoë dopgehou word.

Dirk Mostert ·

Geskiedenis is my stokperdjie. Daar is waarskynlik meer geskiedenis-handboeke op my rakke as in die plaaslike biblioteek. T.o.v. die interpretasie van wereldpolitiek verskil ek meestal met Leopold Scholtz. Sy negatiewe houding teenoor Trump en Putin weerspieel m.i. sy beinvloeding deur NWO-beheerde media. In hierdie geval is ons egter eens. Wat die Kaap voor 1652 betref, die Khoi “beskawing” het toe nog nie die wiel ontdek nie. Daar was geen Khoi-geboude hawe nie. Europese skepe wat soms in die baai anker gegooi het, het geen tekens van beskawing soos klipgeboue, strate, damme aangetref nie.

Misky ·

Ek het nou Mellet se profiel gaan naslaan en hy is n uitgesproke ANC volgeling en nie skaam om te sê nie. Nou verstaan ek hoekom hy so siening het en glo wat hy glo…. shame

Heinrich ·

DIs net ‘n klein foutjie; hulle het vergeet om dit onder die ‘Fiksie’ gedeelte te klassifiseer.

RS ·

Nonsens wat uit n desperate poging vir aandag op sy oudag op gedis word. Verder ook uiters onvanpas en roekeloos om so n boek met sulke aantuigings te skryf in n tyd waar verdeeldheid al meer word.

Vrijburger ·

Huh! Kretiek op ‘n uitgewer, nogal? Oooo, Tafelberg is nie in die Naspers / Media24 kraal nie.

Vrijburger ·

“Laat ek begin met ’n stelling wat onmiddellik my óngeloofwaardigheid sal bevestig.”
Hoor-hoor!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.