Weerstaan die verleidelike gemak van virtuele laers

Ernst van Zyl (Foto: Verskaf)

Hoewel die internet-era nog net ʼn paar dekades oud is, het dit reeds ons lewens, gedragspatrone en kommunikasie ingrypend en onherroeplik verander. Sosiale media is beslis nie die reële wêreld nie, maar jy is naïef as jy glo dat dit nie ons gedagtes en optredes – en dus ons realiteit – beïnvloed nie. Wat die virtuele wêreld en die reële wêreld betref, is dit belangrik om tussen is en invloed te onderskei.

Die kommentare op sosiale media is hoegenaamd nie ʼn akkurate steekproef vir wat die meeste mense oor die algemeen dink en voel nie. Daar lê egter waardevolle en bruikbare insigte te vinde in die bestudering daarvan.

Oor die afgelope paar jaar het ʼn groeiende groep Afrikaners hul aktiewe deelname aan die virtuele diskoers ʼn groot deel van hul daaglikse aktiwiteite begin maak. Vele Afrikaners het oënskynlik (weliswaar onbewustelik) na virtuele ruimtes gevlug om die gruwels, uitdagings en frustrasies van 21ste eeu Suid-Afrika te ontsnap.

ʼn Mens moet begrip hê daarvoor. Hier drom mense saam in virtuele laers waarbinne hulle stapels inhoud oor die wêreld daarbuite van reg oor die hele wêreld heen verbruik. Wat ongelukkig duidelik aan die gebeur is, is dat hierdie virtuele laers toenemend die reële wêreld deur ʼn skeefgetrekte, karikatuuragtige lens interpreteer. So groei die kloof tussen die virtuele diskoers aan die een kant en die menings en aksies aan die ander kant wat jy oor die algemeen in die reële wêreld teëkom.

Hele “bewegings” ontstaan deesdae aanlyn, wat soms uit duisende ondersteuners bestaan. Keer op keer, wanneer hierdie bewegings poog om hul aanlyn momentum in reële wêreldaksies om te skakel, sien ʼn mens dikwels slegs ʼn handvol mense opdaag. ʼn Voorbeeld hiervan is die groeiende lys van politieke partye wat al in hierdie sosialemedia-ekostelsel ontstaan én weer uitgesterf het. Honderdduisende aanlyn aanhangers spreek vuur en vlam hul begeerte uit om vir hierdie partye te stem. Wanneer verkiesingsdag egter aanbreek, verower daardie partye tot baie mense se verbasing nie eens een setel nie.

Talle Afrikaners het gewoond geraak aan die gerief en veiligheid van hul gemaklike virtuele vistenk, terwyl ander daarbuite in die rowwe see van die reële wêreld swem. Hoewel aanlyn menings en debatte beslis soms na die reële wêreld oorspoel, ervaar ek dat die kloof tussen hierdie twee wêrelde aanhou groei. Ek het onder ons mense al talle aanlyn bewegings met duisende passievolle aanhangers teëgekom waarvan ek nog nooit ʼn verteenwoordiger of selfs ʼn ondersteuner raakgeloop het nie.

Aanlyn diskoers word grotendeels gekenmerk deur gesprekke en debatte oor die beste oplossings vir die probleme waarmee ons worstel. Die nastreef van daadwerklike praktiese oplossings wat werk, is egter ʼn aktiwiteit wat genadeloos is teenoor idealistiese perfeksionisme met teoretiese oplossings. Perfeksie is die vyand van goed, maar ook van die werklikheid. Dit is net so nutteloos om perfekte, dog eenvoudige kitsoplossings vir die komplekse probleme van ons tyd na te jaag as om halsoorkop na die lugspieëling van ʼn oase in die Kalahari-woestyn te hardloop.

Dit is ʼn edele en nodige aktiwiteit – en een wat aangemoedig moet word – om aan die oop gesprek en stryd van idees oor oplossings vir ons uitdagings deel te neem. In ons hoogs gekommersialiseerde wêreld het selfs die stryd van idees egter ʼn verbruikersproduk geword. Te veel mense bestee ure van hul lewens om gedurig oplossings aanlyn te debatteer, net om later in hierdie stryd van idees in die verlammende web van oorontleding vasgevang te word.

Ongelukkig is dit ook gereeld die mees chroniese aanlyn ontleders onder ons wat die vinnigste en gretigste is om ander se pogings om idees in werklikheid te omskep, af te skiet en uitmekaar te skeur. Voordat ons idees dade word, is dit wys om dit te slyp deur middel van debat en opbouende kritiek. Hierdie stryd om idees moet egter dien as middel tot ʼn doel en nie in die doel self ontaard nie. Die doel moet altyd wees om die werklikheid te beïnvloed deur te bou. Dit is hoegenaamd nie voldoende om bloot net “wakker te word” deur blootstelling aan die regte idees nie. Ons moet ook uit die bed opstaan!

Ons mag – en móét – natuurlik die bemagtigende tegnologie tot ons beskikking ten volle gebruik. Ons moet egter daarteen waak om nie daarin te begin leef nie. ʼn Goeie voorbeeld is die politieke diskoers oor nuwe standbeelde in die Westerse wêreld. Terwyl ons teenstanders openbare ruimtes vul met onaantreklike standbeelde wat hul ideologiese waardes verteenwoordig, vul die meeste konserwatiewe mense op hul beurt die virtuele ruimtes met video’s van en sosialemediaplasings oor hoe onaantreklik hierdie standbeelde is.

ʼn Sentrale vraag van ons tyd is: Watter nuwe tegnologie moet ons omhels en wat moet ons verwerp? Ek het nog nie ʼn besliste antwoord nie, maar my bydrae tot die strewe na daardie ontwykende antwoord sou wees: Kom ons gebruik die tegnologie wat ons in staat stel om na die werklikheid terug te ontsnap en ʼn positiewe verskil te maak; en kom ons vermy die tegnologie wat ons in die irreële vasvang.

Neem dus ʼn ruskans van die virtuele wêreld – van “likes”, video’s en kommentare – en kom bou ʼn bietjie saam met ons aan ons toekoms in die reële wêreld van bladskud, beton en aksie. Ongemak, mislukking en onvolmaaktheid is onlosmaaklik deel van hierdie harde werklikheid, maar ʼn vrees vir sonbrand mag jou nie daarvan weerhou om uit die lugverkoelde huis te kom nie. CJ Langenhoven het hierdie gedagte mooi berym:

Die wêreld die draai:

Vir die swaar wintertyd om ons lande te saai –

Of om luilekkerlewend die ploeg te laat roes,

En daarna ons vrugte of onkruid te oes.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

skurweberg ·

Baie insigewende artikel, ek het so gehoop jy praat van die goue-draad wat sigbaar behoort te wees in ons kommentare en wat dit impliseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.