Welvaartbelasting – kan Suid-Afrika dit bekostig?

belasting-ekonomiese-druk-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die Davis-belastingkomitee se uitnodiging aan belangepartye om voorleggings oor die wenslikheid en werkbaarheid van ’n welvaartbelasting vir Suid-Afrika te maak gaan ongetwyfeld wye reaksie ontlok.

Die voorgestelde vorms wat die belasting in Suid-Afrika kan aanneem, sluit ’n grondbelasting (waarskynlik ’n belasting op landbougrond, of grond bo ’n vasgestelde oppervlak), ’n nasionale belasting op die waarde van eiendom (benewens munisipale erfbelasting), asook ’n jaarlikse welvaartbelasting (basies ’n jaarlikse boedelbelasting, en nie net met afsterwe nie) in.

Hanneke Farrand, belastingdirekteur van die regsfirma ENS, sê die inwerkingstelling van ’n welvaartbelasting is nie haalbaar nie, veral in die lig van die onlangse verhogings in ander sogenaamde welvaartbelastings (kapitaalwinsbelasting en terughoudingsbelasting op dividende). Dividendbelasting is tydens die Februarie-begroting met 33% verhoog. “Indië het onlangs sy welvaartbelasting geskrap en administrasie, waaronder die nienakoming deur belastingbetalers en probleme met die waardasie van bates, as rede vir die besluit aangevoer.”

Dit blyk ook dat die belasting se bydrae tot die staat se koffers in Indië nie juis wesenlik was nie, sê Farrand. In Spanje is ’n welvaartbelasting vir ’n vasgestelde tydperk ingestel in ’n poging om inkomste vir die staat te genereer.

Keith Engel, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns (SAIT), sê die Davis-komitee se voorgestelde belastings verteenwoordig ’n bykomende las vir die middelklas en welvarende mense, na gelang van die drempels wat ingestel kan word. “Al drie (voorgestelde) belastings is jaarlikse welvaartbelastings. Die net-effek is net nog ’n belastingverhoging,” sê hy.

“Baie mense betaal reeds meer as 50% van hul inkomste aan belasting indien BTW en ander onregstreekse belastings in ag geneem word. ’n Nuwe belasting kan net die breekpunt vir baie mense beteken.”

Farrand sê welvaartbelasting in Suid-Afrika sluit boedelbelasting, skenkingsbelasting en hereregte in. Ontwikkelende lande wat ook welvaartbelastings ingestel het, sluit Rusland, Indië (nog in die vorm van kapitaalwinsbelasting) en China in.

Hoewel China nie ’n afsonderlike welvaartbelasting, of belastings op erflatings, boedels of skenkings het nie, is daar egter ’n belasting op die vermeerdering van grondwaarde. Die progressiewe koers wissel tussen 30% en 60%.

In Rusland is belastings op erflatings en skenkings in 2006 geskrap. Individue kan egter inkomstebelasting betaal op eiendom wat hulle as ’n geskenk ontvang het, na gelang van die tipe eiendom en die bron daarvan.

Dan Foster, belastingdirekteur van die regsfirma Webber Wentzel en visevoorsitter van SAIT se persoonlikebelastingwerkgroep, sê daar is internasionaal ’n magdom navorsing gedoen oor die wenslikheid of werkbaarheid van ’n welvaartbelasting.

Baie van die navorsing dui daarop dat die belastinginkomste ná die instelling daarvan nie wesenlik is nie.

Welvaartbelastings se oogmerk is nie noodwendig altyd om ’n reuse-inkomste te genereer nie, maar dit word gesien as ’n vorm van “sosiale hervorming” (social engineering).

“Vir die mense wat dit moet betaal, is dit egter pynlik. ’n Mens moet in ag neem dat dit die middelklas gaan wees wat gaan ly, soos met die meeste belastings,” sê hy. Foster is lugtig vir nóg belastings in Suid-Afrika. Belasting lei tot die vernietiging van welvaart, laer beleggings, laer groei en minder belasting om in te vorder.

Farrand sê om te verseker dat só ’n belasting “bekostigbaar” is in terme van nakoming en administratiewe koste sal “welvaart” duidelik gedefinieer moet word. “Die meganismes vir die administrasie daarvan moet toeganklik wees, en die spesifieke grense daarvan moet maklik verstaanbaar wees.”

Oorwegings in terme van wanneer en hoe bates gewaardeer gaan word, sal in die fynste besonderhede uiteengesit moet word om wanvertolkings (vir uitbuiting deur belastingowerhede en nienakoming deur belastingbetalers) te vermy.

Farrand meen Suid-Afrika se bestaande belastingbasis kan verbeter deur bloot meer op die doeltreffende bestuur en administrasie van boedelbelasting te fokus. Dit sal ook help as belasting wat reeds ingevorder is, reg aangewend word. Die sperdatum vir die indiening van die voorleggings is einde Mei 2017.

  • Hierdie artikel is verskaf deur AfriSake ʼn niewinsgewende sakeregtewaghond.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Swanna ·

Nou raak ons (Zuma en kaders) geld gierig. Het seker hierdie idee by sy vriende die Kuptas gekry juis omdat hulle ook van Indie is.

John ·

?.. dis nou afgeskaf in Indie. Die Guptas kan nou gerus weer terugkeer na hul geboorteland…

Looi hulle ·

JA WAT looi die rykes .. (noem my maar jaloers) maar die arrogansie van die rykes veroorsaak dat al die klem gele word op WHITE MONOPOLY CAPITAL, dit is omdat hulle so wintie en uitgesproke is en hulle geld in almal se kele afdruk. AS die wittes eerder met hulle oorvloed ander mense wil help, sal dit beter gaan, maar hulle is so geldgierig en SPOG eerder met hulle geld as wat hulle ander wat swaarkry help . so LOOI HULLE< dwing hulle om die armes te help. Daar is wittes met 'n handvol plase, met 'n handvol huise .. waaruit hulle huge inkomstes genereer, maar kyk nooit waar hulle ander kan help nie, koop op bankrotveilings ander mense se plekke op vir 'n appel en 'n ei, verkoop huise onder huurders wat sukkel se alies uit .. neewat .. ek het geen tyd vir mense wat MAMMON aanbid nie .. TAX hulle!

Lees weer ·

Lees weer. Dis die middelklas wat die kortste end gaan trek. Ek lei af dit sluit jou ook in. So moet “hulle” nog steeds “gelooi” word? Die rykes ken al die skuiwergate in die belastingswet – dis waarom hul ryk bly

Anoniem ·

Die eend wat die goue eiers lê, kan nutuurlik haar vlerkies sprei en wegvlieg…

Voeltjie ·

Hoekom is hulle nie al weg nie? Hulle weet in ‘n ander land gaan hulle nie so maklik geld maak
uit die armes nie, en al het jy R18 miljoen hier in SA het jy net 1 miljoen pond in UK .. sal ook net ‘n ou klein huisietjie daar kan beskostig .. so VLIEG maar !!

Piet Pompies ·

Ek verstik amper aan ‘n 1000 000 Zim doller toe ek die berig lees, as ek nog meer belasting moet betaal sal ons ontbyt kos moet oorskakel van Dogmor na Pick&Pay brand hondekos, die puttey uit die venster rame grou en eet vir meer volume kos……

Ice ·

Dis jammer belasting word afgetrek van jou salaris af (as jy nou nie jou eie besigheid het nie). Hoekom moet ons vir ‘n dief belasting betaal wat hy steel en ons dan nog steeds moor ook en sleg praat?

Koos1 ·

As my eiendom se waarde groei met R246 miljoen, sal ek belasting daarop moet betaal? Veral in die feit at dit ‘n “skenking” was?

Ralph ·

ek wil net vir Looi hulle se dat dit is die ryk mense is wat werk skep so laat daar liewer meer rykes wees wat meer belasting betaal sodat meer mense werk kan he! Ek anvaar jy werk ook vir een van die “rykes” so as daai ryke nou ook arm is gaan hy nie meer belasting kan betaal nie en gaan jy heel moontlik ook nie meer werk he nie!so oppas waarvoor jy wens

Piet Badenhorst ·

Nog Belasting… miskien. Parrasitering. . moenie.
Nog n bewys dat die gulsigheid van die huidige regering op n ramp afstuur.
Hulle het nie n idee hoe om Welvaard te skep nie.
Afrika weet nie en wend hom tot Parrasitering.

Piet Badenhorst ·

Nog Belasting… miskien. Parrasitering. . moenie.
Nog n bewys dat die gulsigheid van die huidige regering op n ramp afstuur.
Hulle het nie n idee hoe om Welvaard te skep nie.
Afrika weet nie en wend hom tot Parrasitering.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.