Wêreld die naaste aan ʼn kernoorlog in 60 jaar

Nikita Chroesjtsjof en John F. Kennedy (Foto: AFP)

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog was die Kubaanse missielkrisis van 1962 die naaste wat die wêreld nog aan ʼn kernoorlog gekom het. Ná die mislukte Bay of Pigs-inval deur Kubaanse uitgewekenes met die ondersteuning van die Amerikaanse regering, en nadat die VSA ballistiese missiele in Italië en Turkye ontplooi het, het die Sowjetunie op versoek van die kommunistiese regime in Kuba soortgelyke missiele op dié eiland, slegs 140 kilometer vanaf die Amerikaanse deelstaat Florida, ontplooi.

Ná 35 dae waartydens die spanning en kanse op ʼn volskaalse kernoorlog tussen die VSA en die Sowjetunie toegeneem het, het pres. John F. Kennedy en die Sowjet-eerste sekretaris Nikita Chroesjtsjof ʼn ooreenkoms bereik waarna die Sowjetunie sy missiele uit Kuba verwyder het en die VSA ingestem het om nie weer te probeer om Kuba in te val nie.

Verlede week het die Russiese president Wladimir Poetin gedreig om kernwapens in die ooste van Oekraïne te gebruik. In dieselfde toespraak het hy gesê dat die Weste nie moet dink hy bluf nie. Voor Poetin se dreigemente het verskeie ander senior Russiese regeringslui reeds met die gebruik van kernwapens gedreig.

Wolodimir Zelenski, president van Oekraïne. (Foto: Oekraïnse presidensie via AFP)

Dreigemente oor die gebruik van kernwapens is ʼn direkte gevolg van ʼn toenemend desperate Russiese regering wat besig is om die oorlog in Oekraïne te verloor. Poetin het die afgelope weke twee drastiese stappe aangekondig om sy land se rampspoedige posisie in die oorlog te probeer verbeter. Eerstens is diensplig vir sowat 300 000 soldate uit die Russiese burgermag aangekondig. Hierdie persone beskik oor weinig militêre opleiding en 100 000’e jongmans het die afgelope paar weke uit Rusland gevlug om diensplig vry te spring. Die besluit om diensplig vir lede uit die burgermagte in te stel, volg nadat soveel as 80 000 van die aanvanklike 190 000 Russiese soldate wat aan die oorlog in Oekraïne deelgeneem het, reeds weens dood of besering uit aksie is.

Tweedens het Poetin referendums in vier streke in die ooste en suidooste van Oekraïne aangekondig. Groot dele van hierdie vier streke word tans deur die regering van Oekraïne beheer en Rusland is juis besig om in hierdie gebiede veld te verloor. Die referendums, wat wêreldwyd as ʼn klug afgemaak is, met talle voorbeelde van gevalle waar mense in die teenwoordigheid van Russiese soldate verplig was om te stem, het egter geleentheid aan Poetin gegee om die oorlog dramaties te eskaleer. Poetin voer nou aan dat dié vier streke, wat na afloop van die referendums deur Rusland geannekseer is (ʼn anneksasie wat nie eers deur noue Russiese bondgenote soos Serwië, Indië, China of die Sentraal-Asiatiese state erken word nie) Russiese grondgebied is en dat die oorlog dus nou op Russiese grondgebied plaasvind. Poetin maak dan die verregaande punt dat Russiese grondgebied, wat natuurlik nie Russiese grondgebied is nie, met kernwapens beskerm kan word.

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Grigory SYSOYEV / SPUTNIK / AFP)

Die aankondigings van die afgelope twee weke bevestig vrese dat Poetin slegs een weg uit die konflik sien en dit is voortdurende eskalasie van konflik totdat hy sy doelwitte bereik of sy opponente na die onderhandelingstafel dwing. Die Russe het veral die afgelope vier weke groot verliese aan tenks, weermagvoertuie, wapens en ammunisie gely. Die Russe is tans duidelik op die verloorpad en Poetin het hom toenemend in ʼn hoek vasgekeer. Dit maak Poetin baie gevaarlik en skep ʼn plofbare situasie wat net so gevaarlik, of selfs gevaarliker is as die Kubaanse missielkrisis van 1962.

Poetin het duidelik in Februarie sy eie weermag se vermoë oorskat, terwyl hy die vermoë van Oekraïne se bevolking om rondom nasionale belang te verenig en hul eie weermag te ondersteun, onderskat het. Poetin se grootste oordeelsfout was egter sy berekening oor hoe die Weste op ʼn Russiese inval in Oekraïne sou reageer. ʼn Erg verdeelde Weste het sy verskille opsy geskuif en in sy reaksie op die oorlog verenig, terwyl die meeste Europese lande hulself bereid verklaar het om ʼn duur ekonomiese prys en selfs ʼn energiekrisis te verduur ten einde Rusland vir die koelbloedige oorlog van aggressie in Oekraïne te straf.

Poetin het verlede Vrydag tydens sy toespraak van 37 minute, waartydens hy die anneksasie aangekondig het, meer op die Weste, en in die besonder die VSA, as op die oorlog in Oekraïne gefokus. Dit is duidelik dat Poetin die oorlog as ʼn oorlog tussen Rusland en die Weste beskou. Voorts probeer Poetin die gebruik van kernwapens regverdig deur te beweer dat die Weste ʼn veiligheidsbedreiging vir Rusland inhou.

Geen Westerse land het sedert die einde van die Koue Oorlog egter enige veiligheidsbedreiging vir Rusland ingehou nie. Wat wel besig is om te gebeur, is dat Poetin se imperialistiese idees oor ʼn groter Russiese Ryk, wat talle voormalige Sowjetstate insluit, misluk. Poetin en Rusland word al hoe meer geïsoleer en sou ʼn skikking nie binnekort bereik word nie, kan hierdie isolasie toeneem of tot militêre konflik tussen Rusland en die Weste eskaleer.

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

Die huidige gevaarlike spanning tussen Rusland en die Weste herinner aan die tydperk in Europa tussen die einde van die Eerste Wêreldoorlog en die Nazi’s se oorname van Duitsland in 1933. Die Verdrag van Locarno tussen Duitsland, Brittanje, Frankryk, Italië en België is in 1925 onderteken as opvolger van die Vrede van Versailles en was juis ʼn poging om verhoudinge te normaliseer. Die verdrag is egter nooit met die nodige erns ingestel nie.

Ekonomiese onstabiliteit was die katalisator vir konflik. Met aandelemarkte wat in 1929 in duie gestort het, het die ekonomiese krisis in Duitsland verdiep. Teen 1931 het werkloosheid in Duitsland tot vyf miljoen gestyg. Die Duitse kanselier, Heinrich Brüning het tydens ʼn ontmoeting in 1932 in Genève met die leiers van die VSA, Brittanje en Frankryk gesmeek om finansiële hulp. Nadat die Franse hulp geweier het, het Brüning as kanselier bedank. Hitler sou hom opvolg.

Die tydperk tussen die einde van die Eerste Wêreldoorlog en Hitler se verkiesingsoorwinning aan die einde van 1932 was ʼn tydperk van verbeurde geleenthede vir langtermynvrede in Europa.

Tydens die regerings van Mikhail Gorbatsjof en Boris Jeltsin was daar heelwat verspeelde kanse vir ʼn herskikking van die verhouding tussen Rusland en die Weste. Die Minsk-ooreenkoms wat in 2014 tussen Oekraïne, Rusland en Westerse lande onderhandel en onderteken is, kon nie daarin slaag om konflik te verhoed nie. Rusland, Oekraïne en die Weste het nie genoeg gedoen om die Minsk-ooreenkoms te implementeer nie. Nog verspeelde kanse.

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Die Amerikaanse president Joe Biden het Donderdagaand na ʼn Armageddon-scenario verwys sou ʼn kernoorlog tussen Rusland en die Weste uitbreek. Die probleem tans is dat Poetin desperaat is om Rusland se vernederende posisie in die oorlog om te keer. Die vraag is hoe ver hy sal gaan om te wen en watter risiko’s hy bereid is om te neem? Op die oomblik weet niemand wat die alternatiewe vir ʼn voortdurende eskalasie in konflik is nie.

Die enigste huidige opsies is ʼn volhoubare, onderhandelde skikking of dat Poetin deur ʼn rewolusie of staatsgreep uit die kussings gelig moet word en Rusland hom gevolglik uit Oekraïne onttrek. Dit lyk egter of Poetin nog in volle beheer van die Russiese regering is.

ʼn Onderhandelde skikking sou dus ʼn manier moet vind om te verseker dat Oekraïne se soewereiniteit herstel word, terwyl daar na die bepalings van die Minsk-ooreenkoms teruggekeer word. Poetin skakel egter so ʼn opsie tans uit. Die mees logiese huidige scenario is dus ʼn uitgerekte oorlog wat verder eskaleer en wat waarskynlik groter veiligheidsrisiko’s vir die hele Europa kan inhou en wat uiteindelik die hele wêreld se ekonomiese aktiwiteit, voedselsekerheid en geopolitieke verhoudinge kan raak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Treurwilger ·

Joe Biden, die leier van die Weste, skree die ooglopende wat almal voor vrees: “Nuclear Armageddon is imminent”.
Het hy ‘n oplossing of ten minste ‘n samesprekingsplan? Nee.
Biden dwing geen agting of respek af buite die weste nie. Die Saudi-olie-baronne se optrede is bewys daarvan.

Ek kan my net voorstel hoe voorste politieke-kommentators sou baljaar met die beledigings as Trump nou in die Withuis gesit het.

Meer John Mearsheimer en minder Joe Biden sou van die wêreld ‘n beter plek gemaak het.

Dooierus ·

Jammer maar John Mearsheimer behoort in dieselfde rooiboot as Trump ,Biden en Poetin.
Let op sy gebrek aan bekommernis oor Poetin se diktatoriale beheer en sy militante ambisies. Poetin se verregaande uitsprake oor sy motiewe vir die oorlog word deur hom afgewater. Mearsheimer plaas byvoorbeeld min gewig op Poetin se seining wat Oekraïne se soewereiniteit ontken en wat Russiese nasionalisme aandryf. Mearsheimer neem ook nie Poetin se stelling wat die val van die Sowjetunie as ‘n tragedie betreur ernstig op nie, en ook nie Poetin se imperialistiese visie nie.
Let ook op sy valse seining oor Poetin se vrees om ondermyn te word. ‘n Diktator se greep op mag is egter moreel onregverdig, en Poetin se begeerte om ‘n wurggreep oor Rusland te behou, is onverdedigbaar. Maar al die morele oorwegings stem nie ooreen met Mearsheimer se siening nie.

Ons verdien beter leiers in die wereld.

Republikein in die Wes Kaap ·

Intussen is Pole en ‘n paar ander lande gereed om hul verlore grondgebied in wes Oekraïne terug te vat te midde van die chaos. Oekraïne kan tot 50% van hul grond verloor. Zelinski moet Kissinger en Elon Musk se raad aanvaar en die Donbas prys gee. Maar Amerika geniet die oorlog.

Andre ·

Dit klink ook maar of Oekraine maar saamgestel is uit grondgebied van ander lande.

Republikein in die Wes Kaap ·

“Grensland” het oor honderde jare deur verskeie fases van uitbreiding en inkrimping gegaan. Afstammeling van die Vikings het daar nes geskop. Baie bloedige oorloë is daar geveg. Die Skandinawiërs, Romeine, Grieke en Ottomane was daar. Die Oostenrykers, Pruise en Kosakke was daar. Die Russiese tsaars het groot gedeeltes beheer. Die Sowjet Unie het daarna vreemdes uitgedryf. Hitler se tenks het later ingerol en van die vroeë besetters het hulle agtergevolg. Die Sowjet Unie het almal later weer uitgedryf. Dertig jaar na die verbrokkeling van die Sowjet Unie is daar nog steeds onafgehandelde sake.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.