Weste moet optrede van Saoedi’s in Jemen veroordeel

Jemeense seuns stap deur die puin van ʼn huis wat vernietig is tydens lugaanvalle van die Saoedi-gesteunde koalisie in Sanaa, Jemenin Augustus 2016. Foto: Xinhua/Hani Ali/wire.africannewsagency.com

Sedert die oorlog in Jemen op 19 Maart 2015 begin het, is reeds meer as 10 000 mense in hierdie konflik dood. Selfs erger as die duisende sterftes is die meer as 240 000 mense in Jemen wat tans weens die oorlog aan hongersnood ly en die miljoene meer wat reeds voedseltekorte ervaar en wat moontlik ook binnekort deel van die ergste hongersnood tans in die wêreld sal wees. ’n Hele generasie burgers van Jemen se lewens is reeds deur die oorlog verwoes.

Jemen is ’n baie verdeelde land met byna die helfte van die bevolking wat Soenniete Moslems is en die ander helfte Sjiïete. Die Soenniete woon hoofsaaklik in die suide van die land en die Sjiïete in die noorde. Voor hereniging in 1990 was Noord-Jemen en Suid-Jemen vir honderde jare geskei. Die huidige oorlog spruit uit die Jemen Revolusie van 2011 tot 2012 wat die regering van Ali Abdullah Saleh, ’n Sjiïete Moslem, uit die kussings gelig het. Saleh is opgevolg deur Abd Rabbuh Mansur Al-Hadi, ’n Soenniet en Al-Hadi se regering het weer tot ’n opstand onder die Sjiïete Houthi’s aanleiding gegee.

Toe die Houthi-rebelle groot dele van die noorde van Jemen in 2015 beset het, het Soenniete-lande soos Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate, ingegryp en oorlog teen die Houthi’s verklaar. Die Houthi’s word tot ’n beperkte mate deur Iran ondersteun.

Hoewel sektariese verskille ’n definitiewe rol in die konflik in Jemen speel, speel ander faktore ook ’n belangrike rol. Dit sluit in die magstryd in die Midde-Ooste en Westerse bondgenootskappe. Dit is veral die Verenigde State van Amerika se blinde ondersteuning aan Saoedi-Arabië se aanvalle wat toenemend onverstaanbaar is en wat oor die afgelope dae deur die leierskap van vyf groot humanitêre organisasies veroordeel is. Oor die afgelope paar dae het daar ook vir die eerste keer ’n meer gekoördineerde en ernstige protesstem in die Amerikaanse kongres teen Amerika se ondersteuning vir Saoedi-Arabië se optrede in Jemen, na vore gekom.

Gedurende dieselfde week wat George H.W. Bush begrawe is, het ernstige vrae oor Amerika se internasionale beleid begin ontstaan. Bush word onthou vir sy verstandige en versigtige hantering van ingewikkelde internasionale krisisse soos die einde van die Koue Oorlog en Irak se inval in Koeweit. Na Bush se vertrek in 1992 het Amerika onder leiding van Bill Clinton, George W. Bush, Barack Obama en ook Donald Trump toenemend meer aggressief en intervensionisties begin optree en is gevaarlike bondgenootskappe versterk in plaas van heroorweeg. Een so ’n bondgenootskap is dié met Saoedi-Arabië.

Die fout wat die Amerikaners maak, is om te dink dat lande soos Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate goeie en getroue vriende is wat altyd in Amerika se belang sal optree. Verder word Amerikaanse optrede gedikteer deur die persepsie dat Iran boos en gevaarlik is en by elke konflik in die Midde-Ooste betrokke is. Beide hierdie persepsies is verkeerd.

Dit is hoogtyd dat Amerika en ander Westerse lande hard en duidelik die optrede van Saoedi-Arabië in Jemen veroordeel.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Herman Goosen ·

Ja, as dit nou maar so eenvoudig was. Dan was daar nooit ies soos derde wereld lande nie. Die problem is dat die Saudis geld het en is boonop nog een van die min bondgenote van die Weste in die Midde Ooste. Dus verwag ek dat die Weste sal paai en onderhandel in die agtergrond, maar nie openlik hul optrede ver sal veroordeel nie. Alles gaan oor politiese korrektheid en nie wie reg of verkeerd is nie

Gerhard ·

Nog iets wat moet gebeur is dat anti-VSA, anti-Trump en anti-Weste kommentators begin om meer eweredig kommentaar te lewer eerder as om behep met die VSA, Trump en die Weste te wees en vir ‘n slag kritiek lewer op die gedrag van Rusland wat gerus uit Die Oekraïners en ander buurstate se sake kan bly.

Ronnie ·

Geen land wat wapens aan die midde ooste verkoop kan verskoon word nie. Dit is skreiend wat in Jemen gebeur. Daar was berigte van betroubare bronne, wat daarop dui dat wapens wat bv kinders op ‘n bus gedood en gewond het, van die VSA en VK afkomstig is. Geen hoeveelheid geld en werksgeleenthede kan dit regverdig nie. Die VSA en die Weste het bloed aan hulle hande vir hulle aandeel. SA ingesluit.
As leier van die vrye wêreld rus ‘n groot verantwoordelikheid op Trump se skouers in hierdie opsig. Maar elke keer as hy sy mond hieroor oopmaak raak die bedrae geld en werksgeleenthede groter. Oningeligte mense glo hom en solank die huidige Senaat in beheer is sal niks verander nie.
Feit is die Saudis het, (wat ons van weet), 500 kamers gehuur vir militêre veterane in die Trump Internasionale Hotel tuis te gaan teen ‘n “afslag” prys van $768 per kamer. Die veterane se funksie was om beswaar te maak teen ‘n wet wat die Saudis opponeer het. Aanvanklik was hulle in hotelle in Noord Virginia, maar net na Trump die verkiesing gewen het, is hulle oorgeplaas na die Trump hotel.
Waarom sal Trump nou toegee dat MBS aandadig was aan die moord op Khashoggi en waarom sal hy probeer intree vir Jemen. Daar is net te veel geld te maak vir hom persoonlik.
Wie kan die betekenis van die vriendelike “high five” tussen Putin en MBS ontken? Ek vergiftig hulle, jy saag hulle op…

Johan ·

Die skrywer se uitspraak dat Amerika sy steun aan Saudi Arabië moet heroorweeg word geensins in sy skryfstuk gemotifeer nie – inteendeel, dit spreek van ‘n oppervlakkige insig oor ‘n uiters komplekse situasie

Herman ·

As Ameika nie aan die Saudis gaan wapens verkoop nie, gaan iemand anders. Amerika kan nie vir die oorlog in Yemen verantwoordelik wees nie.
Elke land is verantwoordelik vir homself, netso ons hier in Suid Afrika.

piper ·

kom ons gaam bly daar. hule syfers lyk beter aas ons syfers van meer as 50 moorde per dag en baie meer wat honger is.

John ·

Hoe bemoei Rusland hom in die sake van Sweety Tjoklits? Wie was grootliks betrokke by die Maidan-plein-opstande en wie se seun sit wydsbeen oor die oliepype van die Oekraine? Aan wie het Kiev en omstreke vroeer behoort asook die Krim-skieleiland? En watter land het die meeste personeel in lande elders in die wereld? Hoekom het Sweety net voor die beraad in Suid-Amerika sy skepe na die gevaarsone gestuur? En hoekom is die meeste van Navo se millitere mag in die Ukraine op Rusland se grens saamgetrek? En wie probeer sy aansien verhoog om weer herkies te word as My Sweetness en president van die broeiplek vir WO3?

Twakkie ·

Interessant dat skrywers altyd so presies weet wat sekere lande doen en ander móét doen. Ek weet pres. Trump se uitgesproke beleid is om nie in te meng in ander lande se interne probleme nie, behalwe waar chemiese wapens op burgerlikes gebruik word. Verder is sy beleid om alle Amerikaners weer werk te gee en fabrieke terug te bring VSA toe. Dus waarskynlik wapenfabrieke en verwerking van fossielbrandstowwe ook. Ook het hy gesê hy wil Amerika se troepe sover moontlik uit buitelandse konflik onttrek, tensy ‘n land die VSA bedreig, soos Noord-Korea. Sy beleid is glashelder en hy spreek dit gereeld in onderhoude uit. Mens weet dit as jy die onderhoude kyk en nie die verkeerde rapportering daarvan nie. En gelukkig laat hy hom nie deur menings van die media beïnvloed nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.