Wim se ideologiese onderrok hang uit

Lede van die DAK Netwerk, ʼn groep vir voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes, het die memorandum aan die US oorhandig. (Foto: Mia Slabbert)

Een van die merkwaardigste betogings ooit het verlede week op Stellenbosch plaasgevind. Dit was ’n betoging met verskeie onverwagse elemente.

Dié keer was dit nie, soos voor 1990, ’n betoging teen apartheid en rassisme nie, maar vír Afrikaans. En dit was nie, soos die oppervlakkige waarnemers moontlik sou kon aanneem, ’n betoging deur wit Afrikaners nie; die meeste van die betogers was bruin Afrikaanssprekendes.

Dit het gegaan oor die plaaslike universiteit se beleid om Afrikaans stap vir stap heeltemal uit te rangeer. Die einddoel, so lyk dit, is om die universiteit – al is dit eers oor ’n paar jaar – eentalig Engels te maak.

Terloops, die leser sal oplet dat ek nie die universiteit se naam hier noem nie. Onder die leiding van agtereenvolgende rektore – Chris Brink, wyle Russel Botman en nou Wim de Villiers – is die inrigting nie meer die Universiteit Stellenbosch (US) nie. Vir alle praktiese doeleindes is dit Stellenbosch University (SU).

’n Aantal aspekte van die betoging verdien om hier behandel te word.

Ten eerste: Die betoging was waardig en gedissiplineerd. Die aanwesiges het plakkate gedra, maar geen klippe is gegooi nie, daar is nie getoi-toi nie, niemand is aangerand nie, geen eiendom is beskadig nie, geen beledigings is rondgeslinger nie.

Aan die voorpunt het ’n aantal mense in akademiese gedrag geloop, wat ’n protesskrif aan dr. Leslie van Rooi, senior direkteur van sosiale impak en transformasie, oorhandig het. De Villiers was siek en kon dit nie self in ontvangs neem nie.

In die tweede plek: Die protesskrif het in die teken gestaan van onweerlegbare akademiese argumente ten gunste van moedertaalonderwys en die noodsaak om Afrikaans se belange te bevorder. Nié ten koste van enigiets of enigiemand nie, maar om die toekoms van Afrikaans – die moedertaal van miljoene mense in Suid-Afrika – te beveilig.

Natuurlik het só ’n protesskrif politieke implikasies. Maar dis nie primêr deur politiek gedryf nie. Dit het gegaan om praktiese pedagogiese sake.

Derdens: Die groep betogers het bestaan uit wit en bruin Afrikaanssprekendes. Die dae dat die kant wat hom vir Afrikaans se belange beywer, as verbitterde apartheidsaanhangers afgeskilder kan word, soos prof. Jonathan Jansen onlangs nog probeer doen het, is verby.

Natuurlik bevind ’n aantal verbitterde regse ekstremiste wat meen apartheid was fantasties, hulle ook onder die Afrikaansgesindes. Maar hulle het nie die inisiatief nie. Die inisiatief is in die hande van ’n ínklusiewe groep mense vir wie velkleur of afkoms geen rol speel nie; slegs die vraag of jy Afrikaans wil dien.

Dit is inderdaad die toekoms. Maak asseblief geen fout nie: Ek is ’n hartstogtelike Afrikaner wat graag my mense se belange wil bevorder. Dat ek – agter die liefde aan – in Nederland woon, verander niks hieraan nie.

Maar ek dink ook verder. Afrikaans (en die Afrikaners) se saak word, pragmaties gesien, die beste gedien deur bondgenote onder die bruin- en swart mense of wie ook al te vinde is. Die betoging het gewys dat as jy maar goed rondkyk, die bondgenote bestáán.

Iets wat hiermee saamhang, is die SU se uitgesproke weiering om Afrikaans as inheemse taal te erken, iets waarvoor verskeie taalgeleerdes hom behoorlik gelooi het. Daardie weiering is gegrond op ideologiese gronde, wat van Afrikaans inderwaarheid ’n indringertaal maak wat nie op enige regte of beskerming aanspraak kan maak nie.

Die ironie is dat die taal waarmee Afrikaans vervang moet word, Engels is. En Engels is glad geen inheemse taal hoegenaamd nie. Dis ’n taal wat klaargemaak van oorsee gekom het.

Afrikaans, dis waar, is ingrypend deur die Hollandse dialekte van die 17de en 18de eeu beïnvloed. Maar die taal is in Suid-Afrika in die monde van die vroeë Afrikaners, die slawe en Khois gevorm tot wat hy nou is – ’n erkende aparte taal wat duidelik van moderne Nederlands onderskei kan word.

Prof. Wim de Villiers. Foto: US

Volgens elke denkbare en ondenkbare definisie is Afrikaans ’n inheemse taal. Dat SU weier om dit as sodanig te erken, laat De Villiers se ideologiese onderrok ver, baie ver, uithang.

Van oraloor hoor ’n mens verhale van hoe daar skaars nog Afrikaans in die lesinglokale gebesig word. Hoe druk op dosente en studente uitgeoefen word om asseblief maar nie “the taal” te praat nie.

Die toppunt (of is dit dieptepunt?) was die onlangse berigte waarvolgens Afrikaanssprekende koshuisinwoners verbied is om Afrikaans met mekaar te praat, selfs al is geen ander student binne hoorafstand nie.

Die SU se buitengewoon flou reaksie was dat dit “nie universiteitsbeleid” is nie.

’n Mens moet seker aanvaar dat daardie verbod nêrens op skrif met die koshuisowerhede gekommunikeer is nie. En tog moet ’n mens jou afvra hoe dit dan so ver kon kom.

Die Britse historikus Ian Kershaw het verskeie boeke oor Adolf Hitler se Derde Ryk geskryf. Hy het ’n verklaring probeer vind waarom soveel lede van die Wehrmacht, die SS en die Gestapo (Geheime Staatspolizei) so geesdriftig aan die vervolging van die Jode deelgeneem het, selfs al was daar nooit ’n geskrewe Hitler-bevel daaroor nie.

Die antwoord is te vinde in die feit dat daar nooit ’n tekort aan ambisieuse mense was wat witvoetjie by die regering gesoek het nie. Kershaw noem dit “Working towards the Führer”.

Nou wil ek nie Nazi-Duitsland met die SU gelykstel nie. Maar in dié een opsig is dit ’n parallel: Die agtereenvolgende rektore – Brink, Botman en De Villiers – het ’n klimáát geskep, ’n strategiese rigting aangedui, en dit op talle verskillende maniere ondertoe gekommunikeer.

Dus, sonder dat De Villiers ooit vir sy ondergeskiktes uitdruklik beveel het om Afrikaans uit te rangeer, het sy algemene houding voldoende ingang gevind dat hulle besluit het “to work towards the Rector”. As dit nie sy goedkeuring weggedra het nie, kon hy blitsvinnig laat weet het: “Mense, nou gaan julle te ver”. Maar hy het nie. Inteendeel.

Die betoging was hopelik die eerste van meer. Nie dat dit sal help nie, want De Villiers is self op sy eie manier “working towards the Führer”, te wete die ANC. Die SU is onkeerbaar onderweg na ’n eentalige Engelse inrigting waar Afrikaans miskien in ’n donker hoekie of twee geduld sal word.

My gevoel is: Skryf die SU af. Ek het self my buitengewone professoraat op Stellenbosch uit protes teen die taalbeleid prysgegee en oorgeplaas na die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit.

Voornemende Afrikaanse studente kan daarom veel eerder oorweeg om na Potch te gaan of, namate Akademia meer studierigtings aanbied, na dié inrigting.

Afrikaans se sprekers sal steeds meer self moet doen om hul taal te beveilig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

En dis hoekom die protesoptog waarskynlik geen uitwerking sal hê nie. Want dit was vreedsaam. Mense in leiersposisies (veral die wat neig na kommunisme) verstaan net een taal…. Daai morele hoëgrond beteken net mooi niks.

Dries ·

Iemand moet geskuur word met Wim en dan geteer en veer word

OW ·

Baie goeie skrywe dr Scholts.Ek dink nie De Villiers het op sy eie veroorsaak dat afrikaans uit gerangeer word nie.Ek dink daar moes nog ‘n paar sleutel persone teenwoordig gewees het toe die besluit geneem is.Sulke besluite is na mening gewoonlik nie net van een persoon afkomstig nie.Geluk met die oorplasing van die buitegewone professoraatskap.

annie ·

Wim se kop-oor-dinges is nie ‘n nuutjie in SA se geskiedenis nie. Genl Botha wat gedurende die Anglo-Boereoorlog hand en tand teen die Britte geveg het, het na vrede beding is totaal verander van standpunt, so ook Jan Smuts wat die lyding van vroue en kinders in die konsentrasie-kampe met woede aangevat het, is betower deur die queen se weelde en draai teen sy mense. Ons ken De Klerk se tricks en nou Wimpsie se sweet-sweet talk. Nee wat. Al wat so bietjie nog bibber is ‘n ligte kla oor Afrikaans. Daar is min regte Afrikaners oor. So what?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.