Wye koninklike dekking herinner aan 1947-boikot

Johannes Froneman

Die dood van koningin Elizabeth II en die oorweldigende dekking wat deur die media — ook Afrikaanse koerante — daaraan gegee word, laat ʼn mens onwillekeurig dink aan die besluit in 1947 om geen dekking hoegenaamd in Die Transvaler aan die besoek van die Britse koningshuis te gee nie.

Hierdie besluit deur die redakteur, dr. HF Verwoerd, is al dikwels voorgehou as ʼn bewys van sy ideologiese denke en hardkoppigheid. Sy koerant was immers die enigste wat so ʼn boikot toegepas het.

Die joernalistiek-gesproke vreemde besluit om so ʼn groot nuusgebeurtenis te ignoreer, het nie sonder interne teenkanting plaasgevind nie. Die destydse nuusredakteur, Danie Malan, het in ʼn brief in Beeld (21 Maart, 1995) geskryf dat hy sy bes probeer het om Verwoerd van plan te laat verander.

Meer nog: die Transvaalse leier van die Nasionale Party (en latere premier), adv. Hans Strijdom, het ook druk op Verwoerd uitgeoefen om ter wille van die koerant berigte oor die koninklike besoek te plaas.

Verwoerd se biograaf, GD Scholtz, bestempel dit as ʼn “pynlike” meningsverskil tussen twee figure wat dit oor soveel sake roerend eens was — insluitende die republikeinse ideaal.

Die meningsverskil het selfs in die direksie ʼn draai gemaak. Die hele direksie was dit met Strijdom eens en die gevoel is genotuleer en aan die redakteur oorgedra, steeds sonder ʼn verandering in standpunt deur Verwoerd.

Terugskouend lyk Verwoerd se besluit na ʼn “joernalistieke stommiteit” (dr. At van Wyk), maar Die Transvaler was nie ʼn kommersieel gedrewe blad nie. Dit is gestig om die Nasionale Party se boodskap in die Noorde suiwer en sonder voorbehoud uit te dra.

Waar die republikeinse ideaal ʼn belangrike komponent van die NP se boodskap was, kon dit gelyk het na ʼn afwatering van die standpunt as aandag aan die besoek van die Britse koningshuis gegee sou word.

Meer nog: Verwoerd het dit as ʼn propaganda-poging gesien en wou op geen wyse meedoen aan die nouer skakeling met die Britse ryk nie. Trouens, hy het in ʼn brief aan Strijdom vyf redes geopper waarom hy gemeen het ʼn nuusboikot was gepas.

Dat mense na aan Verwoerd (insluitende Hans Strijdom) nie die keiharde boikot gesteun het nie, vertel darem ook ʼn verhaal.

Hoe ons vandag by nabaat oor die boikot sal oordeel, word bepaal deur dekades se politieke en kulturele grondverskuiwings. Ook deur dekades se glansryke dekking van veral Diana, prinses van Wallis, en ʼn algemene media-obsessie met “glanspersoonlikhede”.

Uiteindelik sou ʼn mens kon sê dat dekking van die Britse koningshuis — in die besonder die dood van die koningin — geen bedreiging van enige aard vir Afrikaners inhou nie. Suid-Afrika is in 1961 losgeknip van die Britse kroon, die blanke republiek (gebou op apartheidswetgewing) is as ʼn hersenskim ontbloot en die nuwe stryd om ʼn billike plek in die Afrikason word vandag grootliks vergestalt in ʼn dertigtal organisasies onder die Solidariteit Beweging-sambreel.

Dus, nuwe tye en nuwe uitdagings laat ons anders oor sake (insluitende mediadekking) oordeel.

Belangrik is ook die feit dat die media vandag oorweldigend kommersieel gedrewe is. Anders gestel: die media bied aan sy gehore wat hulle wil hê en waarvoor hulle bereid is om te betaal. En daar is soveel meer platforms waarop gehore gevoer word met wat hulle ook al wil hê.

Uitsonderings op die reël is daar wel, maar selfs ʼn nie-kommersiële digitale publikasie soos Maroela Media word sekerlik gekonfronteer met die vraag wat ʼn Verwoerd moes beantwoord: Dien hierdie berig(te) die groter doel van die publikasie? Is berigte oor hierdie of daardie oppervlakkige tema regtig die moeite werd, of sal dit geen skade doen nie én klieks genereer?

Want oorlewing hang tot ʼn groot mate af van aanvaarding deur die gehoor. Dié wys hulle deur hulle klieks.

Die vraag waarmee ernstige redaksies sit, is: Hoe vind ons as media ʼn balans tussen wat lesers graag wil lees (omdat dit lekker poeding is) en wat hulle behoort te lees (die noodsaaklike spinasie, soos Tim du Plessis dit een keer gestel het)?

Dit is sekerlik nie ʼn eenvoudige óf-óf-vraag nie; die meeste van ons het hopelik geleer om ʼn gebalanseerde bord kos te eet. Maar dit bly ʼn nimmereindigende vraag hoe daardie bord nuus moet lyk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Uit ‘n ander oogpunt gesien het die Engelse pers sedert Brittanje SA beset het uit hul pad gegaan om immigrante uit Europa wat hul as vyande gereken het, te beswadder veral na 1948 toe Afrikaners van Brittanje se oormag ontslae geraak het met die uiteindelik republiek. Ons besing nou die nice queen maar wag maar as grondgrype soos in Zim begin, toe Engeland stil stuipe begin kry het, dan hoor jy die treurmares of gaan ons Afrikaanse pers dit vrolik en gelate aanvaar en dit predik vir hul lesers?

Nettie ·

Die probleem is dat die Media nog volgens 1850 funksioneer. Hulle sien hulself as die publiek se “ouers” wat besluit spinasie is goed en nodig en wat tel as “poeding”. Die publiek het grootgeword. Die wye verskeidenheid het mense geleer hulle kan maar sonder die spinasie en eerder die blomkool kies as hulle wil. Of as hul slegs van poeding wil leef, is dit OOK hul eie keuse, en nie die media of joernaliste s’n nie!

Media moet nou aanpas. Gee vir ons ALLE geregte, in ewe grootte porsies en laat mense nou ten volle vryheid van keuse toe. In plaas van regulering van ons denke. Dis nie meer moontlik nie, want ons weet nou waar en het die vermoë om die geregte vir ons self op te spoor. Dan word dit baie duidelik watter media ons dieet vir ons wil reguleer en die propaganda word blootgelê. Dit laat ‘n wrang smaak in mense se mond en veroorsaak wantroue in so ‘n media en joernalis.

Piet Snot ·

Verwoerd het die stryd korrek geïdentifiseer as ideologies. Die vraag was nie wat ʼn koerant behoort te doen nie; dit was wat ʼn propagandablad moet doen.
Die stryd tussen idees het ʼn harde standpunt genoodsaak. Dit het mense gewys dis OK om op te staan teen die vreemde oorheerser.

MT ·

Na lees van hierdie meningstuk, kom daardie bekende Nederlandse spreekwoord onwilekeurig by my op: “Wiens brood men eet, diens woord men spreekt”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.