Zimbabwe se tweede dwaling

emmerson mnangagwa 02

Emmerson Mnangagwa. Foto: ANA.

Al die aanduidings is dat Zimbabwe se tweede “bevryding” net so katastrofies gaan wees as die eerste. Die land gaan onder Emmerson Mnangagwa net nog verder terugsak in die moeras van korrupsie, armoede en wanbestuur wat Robert Mugabe geskep het.

Premier Ian Smith van Rhodesië was reg toe hy in 1965 noord gekyk en besluit het dat Afrika se regerings nie werk nie. Sy verwysingsraamwerk was die Kongo, Idi Amin se Uganda en die korrupte en gewelddadige bestuur in lande soos Zaïre, Zambië, Malawi en die ander lande waar eksentrieke despote in beheer was. Hoekom sal dit in Rhodesië werk?

Smith het net een keer oor sy oordeel getwyfel, maar ná 50 jaar was hy steeds reg.

Ná talle vrugtelose onderhandelinge met Brittanje – wat ʼn swart meerderheidsregering as voorwaarde vir onafhanklikheid wou hê – het Smith in 1965 ʼn eensydige onafhanklikheidsverklaring (UDI) verklaar.

Die gevolg was ʼn 15 jaar lange bosoorlog. Dit is aangehelp deur kommunistiese magte en het sowat 30 000 lewens geëis, baie deur

landmyne van Sowjet-oorsprong. Suid-Afrika het ʼn groot ondersteunende rol vir die Rhodesiese regering gespeel, ook met die verskaffing van doelgerigte voertuie. Dit het gelei tot die ontwikkeling van die Hippo, Casspir, Mamba en Njala.

Premier John Vorster het gaandeweg al minder ondersteuning verleen omdat hy sy eie inisiatiewe met Afrika-lande van stapel laat loop het. Die land moes spoedig ook sy eie bosoorlog in Angola en Namibië veg.

Smith het in 1980 bes gegee en die regering aan Mugabe en sy party oorhandig.

Dit was die gevolg van die Lancaster House-ooreenkoms met Brittanje. Omdat 70% van die landbougrond deur die wit minderheid van 5% van die bevolking besit is, het Brittanje agt jaar lank vergoeding van $35 miljoen aan boere wie se grond onteien is, betaal, maar dit gestaak toe dit blyk dat baie van die plase aan Mugabe se kaders en nie aan die armes nie oorhandig is.

Van 1999 tot 2004 het die mielieproduksie met 74% gedaal. Die ekonomie het ineengestort, inflasie het by tye tot 3 000% gemeet, werkloosheid het tot 70% gestyg en tot die uitvloei van Zimbabwiërs gelei – meestal na Suid-Afrika.

Smith se twyfel

Smith se eerste ontmoeting met Mugabe was ʼn dag nadat Mugabe die mag oorgeneem het.

Hy is met ʼn warm handdruk gegroet deur ʼn man wat gesê het hy is bewus daarvan dat hy ʼn juweel van ʼn land oorgeneem het. Hy het onderneem om die voortreflike infrastruktuur en voldoende moderne ekonomie verder uit te bou.

“Hier was ʼn man,” het Smith gesê, “wat soos ‘n gebalanseerde en gesofistikeerde een gepraat het. Ek het gedink as hy dit in die praktyk toepas, sal dit goed gaan.”

Feit is dat Mugabe, warm handdruk en al, reeds besig was om die vernietiging van sy Matabele-teenstanders te beplan. Dit word bereken dat tot 20 000 Matabeles – Zimbabwiese bronne gee ʼn syfer van 100 000 – die lewe gelaat het in die veldtog van moord en marteling wat met die hulp van Noord-Koreaanse, Sowjet- en Chinese troepe gepleeg is. Die nuwe bevryder van 2017 – Mnangagwa – het ʼn sentrale rol in dié operasie teen Mugabe (ʼn Shona) se politieke teenstander, Joshua Nkomo, gespeel.

Die Mugabe met die vriendelike handdruk het spoedig die verpersoonliking geword van ʼn korrupte, gewelddadige en amorele Afrika-diktator – net soos Smith aan sy ondersteuners voorspel het.

Vrees bestaan tans in Zimbabwe dat “die krokodil met bloed aan sy hande” hierdie optrede sal hervat. Matabeles dring reeds aan op afstigting van Zimbabwe, iets wat nie sonder erge bloedvergieting sal geskied nie.

Rhodesië was ʼn wenland

Die Verenigde Nasies se jaarboek van voedsel en landbou het Rhodesië in sy 1975-jaarboek tweede in die wêreld geplaas betreffende die opbrengste van  mielies, koring, sojabone en grondbone asook eerste in katoenverbouing.

Rhodesië se Virginiese tabak was boaan die wêreldlys vir gehalte en opbrengs. Hy was die grootste verbouer van sitrus en sy mielies is op die wêreldtoneel gereeld onder die voorste drie geplaas. Saam met sy koffie, tee, suiker, vrugte, groente en blomme het sy produksie van beesvleis loshande die grootste bydrae tot die ekonomie gemaak. Daarbenewens het dit werk aan ongeveer eenderde van die totale arbeidsmag verskaf.

Vandag is Zimbabwe een van die armste lande ter wêreld. Goed gevaar, ou Bob!

Begin van die agteruitgang

En tog was Zimbabwe in 1997 nog die Afrika-ekonomie wat die vinnigste gegroei het. Die geletterdheidsyfer het van 50% tot 85% toegeneem. ʼn Mens sien nog die tekens daarvan in die groot getalle gegradueerde Zimbabwiërs wat tans minderwaardige werk in Suid-Afrika verrig.

Die groot agteruitgang het om en by die draai van die eeu gebeur toe Mugabe begin het met die onteiening van honderde wit plase. Hierdie gevallestudie van Pat Ashton van Engeland toon hoe dit gebeur het:

Ashton het Mugabe se gematigde retoriek vertrou, ʼn plaas gekoop en sy laaste paaiement in 2001 betaal. Ashton en die meeste van die ander wit boere het 70% van die land se bewerkbare grond besit met titelaktes wat Mugabe se regering uitgereik het.

Sy plaas was baie produktief met ʼn opbrengs van $80 000 per jaar.

Sy werkers het nie genoeg verdien om hul eie grond te koop nie (“Ek moes waarskynlik meer gedoen het om hulle selfversorgend te maak”), maar hy het vir hulle ʼn blyplek met 90 huise, ʼn ontspanningsaal, ʼn sokkerveld en ʼn kliniek gebou.

In Julie 2001 het sowat 50 nabygeleë mense onder leiding van regeringsamptenare besit van sy plaas geneem. Hulle het pondokke in die middel van Ashton se mielie- en tabaklanderye opgerig en sy mielie- en tabaklande vernietig, sy besproeiingspype vernietig en sy werkers aangerand. ʼn Jaar later het ʼn klomp veterane van die bevrydingsoorlog opgedaag, Ashton aangerand en verdryf en besit geneem van die reeds verwoeste plaas.

Solidariteit met muishonde

Ondanks al die getuienis van Mugabe se verwoesting – Zimbabwe se geldeenheid het ʼn bespotting geword en hy kon nie eens die ink en papier vir die druk van note invoer nie – is hy op sy besoeke aan Suid-Afrika deur groot skares en presidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma soos ʼn held ontvang.

Dieselfde verwelkomings wag op Mnangagwa. Westerlinge sal Afrika se solidariteit met muishonde nooit begryp nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Eish ·

Die eerste artikel oor die opnuut bevryde Zimbabwe met die waarheid vierkantig onder oë. Ongegronde opportunisme is wyd deur die media gepropageer met die afsetting van Mugabe.
Hoofstuk 2 van die verval het aangebreek, soos die skrywer tereg uitwys. Nugtere beredenering met die geskiedenis as onomstootlike bewys. Tekenend van dié helhool se toekoms ook, waar misdadigers op straat dię in gevangeskap met 10 000 teen een oortref.

Ella ·

En so gaan dit hier ook. Dalk teen n stadiger pas maar dit gebeur elke dag. Ons lyk maar net soos in die Noorde. My hart bloei vir ons, eens, mooi Suid-Afika.

John ·

Karel Jung, die gerekende psigoanalis het destyds na sy reis deur ons kontinent gese Afrika sal eerder Westerlinge aftrek na sy vlak as wat die buitewereld Afrika sal kan verander en ophef. Volgens hom is Afrika rigied gerig op sy eie en almal by hom se voldonge ondergang. Wat het hom die’ afleiding laat maak? Ons slaan daagliks vir eeue aaneen die hande saam in grootste verdriet en verwondering dat mense telkens die pad na die afgrond kies soos walvisse wat uitswem op ‘n strand maar telkens weer eerder die strand as die lewegewende see verkies. Hoekom… hoekom alles? As Afrika nie wil verander nie, waarom wil ons saam vergaan? Waar staan die’ opdrag geskrywe? Smeek Afrika om dwingelandy? Dit kan weldra uit (Midde-)Oosterse lande opdaag… is reeds besig om hul in te grawe… hierdie grootse redders… en vasvatters en ordeskeppers… kwaai-pappa’s…

Loeis ·

Zimbabwe en Suid-Afrika het baie in gemeen: beide het ‘n president gehad wie sy vrou (of gewese vrou) as opvolger benoem het. In beide gevalle het die adjunk president (wie die vorige bedelings help ondergaan het), in die pad daarvan gestaan.

In Suid-Afrika sit ons met nog ‘n Zuma, of met Ramaphosa. Ironies is ‘n klomp mense baie positief oor laasgenoemde, ten spyte daarvan dat hy die een was wie by hierdie bedeling, wat openlik teen ons diskrimineer, namens die ANC met ‘n spul papbroekke van die NP onderhandel het. ‘n Spul papbroekke wie deur die mense ingestem is, terwyl die KP ‘n alternatief gebied het.

Ramaphosa is niks om oor opgewonde te raak nie. Soos Dr Pieter Mulder dit uitgespel het: met politiek is die opsies gewoonlik tussen sleg en slegter. Ek wonder dikwels wat fout gegaan het dat mense die keuses maak wat hulle maak. Dalk kan ons doen met so bietjie introspeksie.

jaco ·

Die KP se alternatief was altyd om n algemene wit verkiesing te wen en dan weer apartheid toe te pas. n wit minderheid sou dus aanhou die land regeer en met wit belastinggeld vir kleurlinge, indiërs en swartmense wys (voorskryf) hoe dinge gedoen word. Van afskei en ‘n wit volkstaat stig SONDER die las van ander rasse is NOOIT gepraat nie. Dis gedurig afgeskiet as “dit kan nie werk nie”. Die meer liberale wit NP het maar dieselfde gesê en ook gekom met “daar is nie geld nie”.
As die KP en die NP in die jare VOOR die ANC gewettig is, die nodige gedoen het vir afstigting en ‘n volkstaat, kon dinge baie anders gewees het. maar toe kom hulle met die twee verskonings wat al dakades lank gegee word: “dit kan nie werk nie” en “daar is nie geld nie”.
Ek was op hoeveel KP vergaderings waar manne soos Andries Treurnicht, Ferdi Hartzenberg, Jan Hoon en Koos van der Merwe met mooi woorde verduidelik het hoe hulle dan nou glo apartheid met sukses sou terugbring. Dream on …
Oor die 1 miljoen KP mense wat in 1992 nee gestem het en in 1994 verminder het na 425 000 vir die Vryheidsfront en tans op skaars 160 000 staan, wil ek nie eens kommentaar lewer nie. Dis net te tragies dat ONS EIE MENSE ons so verraai met apatie en gebrek aan belangstelling.

Loeis ·

Jy is heeltemaal reg oor ‘n par goed, Jaco, maar Ferdi Hartzenberg en die Afrikaner Volksfront het verseker oor ‘n eie land gepraat. Ongelukkig het dit nooit gebeur nie. Die regte tyd sou verseker gewees het voor die ANC gewettig is. Ons eie mense het ons in die steek gelaat, en doen steeds, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie.

Frans C ·

Mense het die beleid van ‘afsonderlike ontwikkeling’ of soos dit later herdoop is na ‘Apartheid’ totaal verkeerd verstaan en daarom het dit ook misluk.Die berugte apartheidwette het hul beslag gekry nie onder die NP nie maar wel onder die Britte.

Die Natives Land Act (No. 27 of 1913) het ongeveer 7% van bewerkbare landbougrond aan Swartes toegeken en die res meer vrugbare grond aan Blankes Hierdie wet het dan ook gebiedskeiding die eerste keer sedert Unie wording op die wetboek geplaas.

Die ontwikkeling van die tuislande en onteiening van talle blanke plase om tuislande te konsolideer was dan ‘n stap om dit reg te stel.Dit is dus foutief om te sê die KP wou weer
die ou apartheid terugbring,want die uiteindelike doel van apartheid was om sterk finansiële, onafhanklike tuislande te ontwikkel wat later soos ‘n Europese Unie saam sou werk.
Dit het misluk omdat die stelsel van binne en buite gereismier is. Diee ANC dit in sy
Vryheidsmanifes dit duidelik gemaak het dat dit ‘alles of niks’ is,want die ANC erken nie
volkeverskeidenheid nie en is sy beleid in stryd met die Bybel : Psalm 117
1 Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke,
2 want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here!

En dit kan jy net doen waar volke se bestaan erken en eerbiedig word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.