Begrotings – ʼn Noodsaaklikheid vir die land én die individu

Deur Martheli Kruger

(Foto: Riccardo Milani / Hans Lucas / Hans Lucas via AFP)

Dit is nie net die minister van finansies wat ʼn begroting moet saamstel nie. Enige persoon wat enigsins uitgawes het, moet ʼn begroting opstel. Maar dit hoef gelukkig nie die hele land se uitgawes en inkomstes te bevat nie en dit hoef ook nie met ʼn groot geskal bekendgestel te word nie!

Dit kan baie help as jy net jou gevoel oor ʼn begroting so ʼn bietjie aanpas. As jy dink die doel is om te kan sien hoe lank jy moet spaar voordat jy jouself lekker kan bederf, eerder as om te dink die doel is om te sien hoe jy al jou hardverdiende geld moet bestee, sit dit jou reeds in ʼn meer positiewe luim.

ʼn Begroting kan dus gesien word as ʼn aansporing om binne jou perke te bly sodat jy uiteindelik jou geld kan geniet!

As jy nie ʼn begroting het nie weet jy eerstens nie hoeveel jy móét bestee en tweedens hoeveel jy kán bestee nie. Met ʼn begroting kan jy sien of jy die basiese uitgawes onder beheer het en wat daar vir jou oorbly om aan luukshede te bestee.

ʼn Goeie begroting onderskei tussen verpligte, diskresionêre en luukse uitgawes. Hoewel dit vir baie mense voor die hand liggend is wat onder elkeen van hierdie afdelings pas, is dit soms vir ander mense moeilik om te aanvaar sekere luukses, soos sigarette en naels doen, is nie noodsaaklikhede nie!

Verpligte uitgawes is verblyf – jou huur of verband, munisipale heffings, kruideniersware, vervoer, skoolgelde en selfone. Diskresionêre uitgawes is klere en die internet omdat jy dit volgens behoefte gebruik. Uitgawes vir luukses is DStv of ander stroomdienste, vakansies, braai, drank, sigarette, wegneemetes en kosmetiese behandelings.

Jou verpligte uitgawes is dus die goed waaroor jy nie kan onderhandel nie en wat noodsaaklik is om te betaal. Dit is die basislyn van jou uitgawes.

Dit is egter belangrik om nie die dam heeltemal onder die eend uit te ruk as jy sien jou begroting maak wel voorsiening vir sekere luukses nie.

Jy moet altyd seker maak dat jy maandeliks ʼn bietjie geld wegsit vir die onvoorsiene, veral mediese noodgevalle en skoolverwante uitgawes. Omdat die lewe dikwels sonder waarskuwing verander – jou eggenoot sterf, jy gaan deur ʼn egskeiding, verloor jou werk of siekte tref jou gesin – moet jou noodfonds beskikbaar wees om jou deur moeilike tye te dra.

Om jou begroting fisies op te stel, hoef nie ʼn groot kopseer te wees nie. Jy het nie noodwendig ʼn deftige program nodig om dit op te stel nie. As jy nie toegang het tot Excel of Google Sheets nie, kan jy ook goed regkom met ʼn stuk papier, liniaal en pen. Daar is dus geen verskoning om nie ʼn begroting op te stel nie.

Dit is goed om die volgende eenvoudige som in gedagte te hou wanneer jy jou begroting opstel:

Inkomste salarisaftrekkings uitgawes = oorskot/ tekort

Gebruik hierdie templaat om jou begroting te help opstel:

INKOMSTE
Bruto salaris:
Oortyd:
Alternatiewe inkomste:

MINUS

Belasting (SITE en PAYE):
Werkloosheidsversekering:
Pensioenfonds:
Mediesefonds:

= NETTO SALARIS – UITGAWES

Huur/Verband:
Water/Elektrisiteit/ Eiendomsbelasting:
Kruideniersware:
Brandstof:
Skoolfonds:
 Selfoon:
Ander:

= OORSKOT/ TEKORT

Gestel jou begroting wys dat jou inkomste nie jou basiese uitgawes dek nie. Hoe dan gemaak?

  1. Oorweeg ʼn nuwe betrekking
  2. Doen aansoek vir vrystelling van skoolfonds
  3. Begin ʼn saamry-klub
  4. Ruil jou voertuig in vir ʼn goedkoper kar wat ligter op brandstof is
  5. Probeer goedkoper versekering bekom
  6. Skuif jou selfoon van ʼn kontrak na ʼn voorafbetaalde pakket
  7. Belê in ʼn goedkoop internetpakket eerder as om data aan te koop
  8. Verhuur kamers uit
  9. Les bes – heroorweeg jou koskeuses. Soms is dit nodig om die brood te rasper!

 

  • Martheli Kruger is ‘n prokureur verbonde aan DebtHealth, ‘n uitvloeisel van die regsfirma Kruger Wilkens Prokureurs. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.