Beloon jouself

Argieffoto (Foto: Micheile Henderson/Unsplash)

Jy hoor nou al hoe lank in hierdie rubriek: jy moet spaar soos die mier vir eendag, nie soos die sprinkaan alles dadelik opvreet en in die winter van jou oudag honger sit nie.

Maar dalk is jou 20ste huweliksherdenking op pad, en julle wil gaan mengeldrankies drink uit kokosneute in Mauritius eerder as Margate.

Of dalk het jou huis se vorige eienaars elke oppervlak wat lank genoeg stilgestaan het met ʼn ander tipe teël bedek, en jy hou meer van eenvoud, maar nuwe vloere is nie verniet nie.

Dalk verjaar iemand naby aan jou en jy wil hulle bederf met ʼn groot geskenk.

Hoe versoen jy hierdie behoeftes met die langtermynperspektief? Kom ek beantwoord sommer my eie vraag dadelik: nee, jy hoef nie alles altyd weg te sit vir eendag nie. As jy dit nog steeds verantwoordelik wil doen, gaan dit net ʼn bietjie beplanning verg.

En as jy nog wonder, gaan sien jou makelaar. Hier gaat ons.

Waar begin ek?

Dit hang absoluut af van waar jy wil uitkom, hoe lank jy tyd het en wat jy verwag jou opbrengs gaan wees – maar meer daaroor later.

Daar is ʼn reuseverskil tussen spaar vir R10 000 binne drie jaar en spaar vir R250 000 binne dieselfde tyd.

In die breedste van trekke: hoe meer jy wil uitkry, hoe langer moet jy spaar, of hoe groter moet die maandelikse bedrag wees wat jy wegsit.

Kom ons vergeet vir ʼn oomblik van die groei wat jou geld hopelik gaan genereer, of dat inflasie daaraan vreet. As voorbeeld: as jy R1 000 ʼn maand wegsit en jou mikpunt is R100 000, gaan dit jou 100 maande neem of rondom agt jaar.

Gestel jy sit R5 000 per maand weg, is dit heelwat vinniger, jy kan jou doelwit in 20 maande, of net onder die twee jaar bereik.

Die faktore waarmee jy dus begin is dit: wat het ek nodig, en hoe lank tyd het ek. En dan voeg jy by – hoeveel kan ek bekostig om weg te sit.

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

Waar spaar ek?

Ook hierdie is ʼn vraag wat baie meer in het as bloot wat ʼn mens prima facie sou dink. Dink so daaraan: daar is ʼn reuseverskil tussen ʼn Hilux en MetroRail se treine, hoewel beide jou (in teorie) by dieselfde plek gaan uitbring.

As jy tyd aan jou kant het, kan jy byvoorbeeld meer risiko neem as wat jy net 12 maande tyd het. In laasgenoemde geval is die bank of jou huis se “flexi bond” ʼn beter roep as die JSE se top 10-indeks.

As jy nie toegang tot die geld nodig het nie, kan jy dit ook vas belê. As jy egter dit in nood sou benodig, is dit sinvol om iets redelik likied te hê. Dink eerder ʼn effektetrust of die bank hierbo as wat jy belê in jou neef Johagim se beeldhouwerk wat enige dag die kunswêreld se aandag gaan trek. Ook uitkeerpolisse is geneig om meer vas te wees.

Soek jy waarborge? Dan is sekere plekke beter as ander, maar onthou – waarborge kos geld.

Laastens, neem kostes is ag. Kostes is nie alles nie – daar is ʼn rede waarom jou Hilux se maandelikse premie meer is as ʼn maandelikse MetroRail-kaartjie, byvoorbeeld. Alhoewel jy nie beheer het oor jou opbrengs nie, het jy beheer oor jou kostes. Nie om lelik te wees met uitkeerpolisse nie – hulle het beslis hulle plek, maar hulle neig om duurder as ander tipes beleggings te wees.

Betaal die keiser (of verskaffers) wat hom toekom, maar nie ʼn sent meer nie. En laat jou makelaar, as jy een het, vir jou mooi verduidelik wat die kostes beteken en hoe dit vergelyk met ander opsies.

Vra die bank dieselfde – presies wat kry jy en wat betaal jy daarvoor.

Wat van opbrengs?

Opbrengs is meestal nie gewaarborg nie. Daar is uitsonderings, soos hierbo genoem, maar gewoonlik vereis dit dat jy jou geld vas belê vir ʼn verlengde tyd. Dink vastetermynbeleggings, bankbeleggings en so meer.

Goed soos effektetrustbeleggings en uitkeerpolisse belê meestal in effektetrustfondse. Die fondse het mandate – sommige mik vir bo inflasionêre groei, ander se doelwit is kapitaalbeskerming, terwyl ander mik om bogemiddelde groei te bewerkstellig.

Jou beleggingsportefeulje, wat uit verskillende fondse kan bestaan, moet met jou as belegger se doelwit ooreenstem en jou risiko-aptyt in ag neem. Dit moet ook die doel van die belegging self in ag neem. As dit kompleks klink, wel, dit kan wees. Ek sal volgende maand meer daaroor uitbrei.

Vir ons doeleindes hier: as ʼn baie growwe duimreël, hoe meer riskant jou belegging is, hoe groter is die kanse vir fluktuasies in jou waarde op die korttermyn. Dit is meestal nie geskik vir korter termyn beleggings (onder drie jaar, beslis nie onder 12 maande) om te aggressief te belê nie.

Opbrengs, en veral saamgestelde rente, maak egter ʼn reuseverskil aan hoe lank (of eerder hoeveel korter) jy nodig het om te spaar om jou doelwit te bereik.

Hierdie raak so tegnies soos losskrumreëls, so ek sou baie, baie sterk voorstel jy gaan sien iemand om jou te help sin maak hiervan. Jy hoef nie alles self te doen nie.

Wat van skuld en my ander spaargelde?

Eerstens: moet asseblief nie jou kredietkaart gaan buig om vir Carel-Johan ʼn afslaankapmotor te koop vir sy 40ste nie. Moet verkieslik ook nie ʼn kredietkaart hê met so ʼn groot limiet nie!

Tweedens – kredietkaarte en skuld het hulle plek. Ek het al in hierdie ruimte etlike kere daaroor geskryf. Dit gesê: dis selde ʼn goeie idee om duur skuld – soos kredietkaart skuld maar is – aan te gaan vir korttermyngoed soos om in Mykonos te gaan sonbaai nie. Gaan dan maar eerder Langebaan toe.

In die derde plek – bou hierdie plan by jou bestaande begroting in, maar segmenteer dit dalk. Belegging A by maatskappy B is my geld vir doelwit C. Menende – hou aan om jou skulde te delg, en jou huis af te betaal, en te spaar vir aftrede.

Klink dit swaar? Ja, en ʼn mens wil ook leef terwyl jy jonk is. Dis egter ook so dat jy vandag daai opoffering kan maak sodat jy eendag kos het om te eet, of jy kan in die toekoms swaar trek.

Niemand sê jy moet net altyd verantwoordelik wees nie – maar weet dat elke besluit met ʼn koste kom (ook om sinvol te spaar vir eendag). Probeer net verantwoordelik te wees as jy onverantwoordelik wil wees.

Dus: spaar vir daai tweede ring vir vroulief, maar moenie ophou om jou motor af te betaal nie.

En gaan sien tog iemand om jou te help sin maak van alles.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wicus ·

Dankie Leon-Ben , ek geniet jou skrywe baie. Persoonlik, ek is met pensioen, dit kom gouer as wat mens dink, dus, begin vroegtydig voorsiening maak. My filosofie, wat het jy nodig en wat is ‘n luukse. Ek volg breeweg die beginsels soos in die boek “The richest man in Babylon”, dit werk vir my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.