Boepie-blues: Die liefde wat net ʼn ouma en oupa kan gee

As kinders is ek en my sussie tot in die afgrond bederf deur ons oumas. Ons kon met spreekwoordelike moord wegkom, al het ons Ouma se hare telkens gryser gemaak – van liters water mors om modderkoekies te bak, tot haar tafelsout oor die slakke in die tuin uitgooi om te kyk hoe hulle borrel en boonop elke dag smeek om dorp toe te gaan vir lekkergoed en speelgoed. Ons het bykans elke keer ons sin gekry.

Daar was ook ʼn spesiale plekkie in die kombuiskas waar lekkergoed vir die kuiertjie gebêre is en elke denkbare speelding onder die son was in ons besit.

Buiten dié dinge kon ons ook daarop staatmaak dat Ouma die een sal wees wat troos as Mamma met ons raas. Ouma sou broodjies maak met die korsies afgesny wanneer Mamma gesê het ons moet eet wat ons kry en Ouma se huistelefoonnommer was ook die eerste een wat ek uit my kop geken het en tot vandag toe kan onthou.

Haar huis was ʼn plek van gemak en koestering en Ouma was ʼn bron van onuitputbare liefde en geduld. Ek wou een keer wegloop van die huis af (“Ek gaan na my ouma toe!” het ek gesnik en met ʼn Barbie-pop en ʼn inkleurboek is ek by die hek uit), maar ek was ʼn bietjie te klein om die adres te onthou en moes maar druipstert terug die huis in waar Ouma my oor die telefoon verseker het dat sy met Mamma sal raas omdat sy lelik was met my.

Ouma, wat in 1924 gebore is en dus vreeslike tydperke beleef het soos die Groot Depressie, het altyd die beste stories vertel. Stories wat ek en my sussie nie altyd wou glo nie en wat ure se gegiggel en vermaak tot gevolg gehad het. Sy het vertel hoe sy en haar twee susters as kinders skool toe moes stap in alle weersomstandighede. “Tot in die kapok!” sou sy sê en ek en my sussie sou kraai van die lag, hoewel ons vandag besef dit moes verskriklik gewees het.

Sy het vertel hoe sy en haar twee susters elkeen ʼn enkele muntstuk sou kry met hul verjaarsdae en wat hulle alles daarmee kon koop, hoe hulle as stouterds perskes gesteel het en hoe hulle middae sou afstaan om hulself op te dollie om bioskoop toe te gaan, net sodat Oupagrootjie kwaai ʼn stokkie daarvoor sou steek. “Dan was ons all dressed up and nowhere to go,” sou sy lag met melancholie tussen die plooie op haar gesig.

(Foto: Pixabay)

Ek kan onthou hoe ek altyd ná ʼn skoolvakansiekuier by Ouma in my bed gehuil het dat sy tog asseblief net nie moet doodgaan nie. Om my ouma te verloor was as kind een van my grootste vrese. Toe hierdie vrees twee jaar gelede bewaarheid is, kort voor my 30ste verjaarsdag, was dit die seerste seer wat ek nog ooit ervaar het. Ek verlang elke liewe dag van my lewe na haar en kan skaars die trane van verlange keer as ek aan haar dink. Soms wens ek daar was ʼn telefoonlyn hemel toe, net om nog een keer te kan hoor as ek vra hoe dit gaan: “Ag, Ounooi, jy weet mos hoe gaan dit met oumense: pille en brille.”

Ek ervaar nou met my eie seuntjie, wat gelukkig genoeg is om nog albei sy oumas, oupas en twee oumagrootjies en ʼn oupagrootjie te hê: Die liefde wat hulle vir my kind het, is anders as die liefde wat hulle vir my en my man het. As ek gebel word, is die eerste vraag nie meer oor hoe dit met ons gaan nie, maar oor hoe dit met die klein mannetjie gaan. Daar word verby my en my man gestap sodat die kleintjie opgetel en gesoen kan word.

Die oumas koop doeke en melk en speelgoed en klere – een van die dae sal ons vir Seun sy eie woonstel moet kry soos wat hulle aangaan. Die oupas beplan kaskarre en swaaie en stuur kort-kort ʼn geldjie saam “vir as hy iets kort”, maar hy kort absoluut niks, want hy is só geliefd.

Hoeveel keer het ek nie al daaraan gedink om my man en my kind op ʼn vliegtuig te boender en die land te verlaat nie? Dan dink ek aan die Skype-ouma, wat ʼn paar jaar gelede Maroela Media en Cell C se “Kom huis toe”-kompetisie gewen het, wat teepartytjies met haar kleinkinders in Engeland via Skype moet hou en die klein goedjies in hul lewe moet prysgee, en my hart wil breek. Ek kan dit mos nie aan my ouers óf aan my kind doen nie en dan herinner ek myself weer: Ons bly nét hier.

Die ding is, die klein goedjies word later die groot goed. Toe ek en my suster as kinders op die stoep gesit en giggel het vir Ouma se stories, sou ek nooit kon raai dat dit van my kosbaarste herinneringe sou word nie. Min sou ek weet dat Ouma se telefoonoproepe een van die dinge sou wees waarna ek later die meeste sal hunker. En ek weet as sy my seuntjie kon ken, sou sy hom nóg meer bederf het as vir my.

Oumas en oupas speel ʼn sleutelrol in ons lewe, mits hulle toegelaat word om deel te wees daarvan. Ek is so dankbaar daarvoor dat my kleintydherinneringe gevul is met ʼn arsenaal van goeie tye saam met oumas en ʼn oupa wat ons gekoester het.

As jy kinders het en jy is kwaad vir jou ma of jy het struwelinge met jou skoonma en dalk, as gevolg daarvan, sien jou kinders nie hulle oumas en oupas nie, wil ek vandag by jou pleit: Maak vrede. Jou kind het sy grootouers nodig, maar meer nog, húlle het die kinders nodig. Bederf jou kinders, hulle grootouers en jouself deur hulle toe te laat om tyd saam deur te bring, want niemand sal jou kind liefhê soos jyself nie, behalwe miskien sy ouma.

  • Leonie Bezuidenhout is ʼn joernalis vir Maroela Media en vryskutblogger. 

Lees alle Boepie-blues-rubrieke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Mita ·

Leonie wat ‘n pragtige artikel, ek koester net sulke wonderlike herinneringe aan my ouma. Ongelukkig is my kinders nie so gelukkig nie. My ma is oorlede toe ons seuns maar net 2 jaar oud was en ongelukkig is my pa se vrou die vlieg in die salf….. nie net ontneem sy ons van ‘n verhouding met ons Pa nie, maar ons is nie welkom by hulle nie. My seuns is nou al groot en sou sulke kosbare herinneringe aan hul Oupa kon gehad het, as hierdie vrou nie in ons almal se pad gestaan het nie. Van ons kant af het ons nou al alles probeer, maar ‘n paar jaar gelede het ons moed opgegee. Ons probeer nou maar om ander senior persone inspan om spesiale herinneringe in ons seuns se lewens in te bou.

Spiekeries ·

Ek is ‘n oupa het weet presies waarvan jy praat. Mag alle kleinkinders vandag deur hulle grootouers bederf word.

SkaamteLOOS ·

Jip, en dan kry hierdie afgryslike mense wat hulle kinders van hul pa en ouma weghou net oor sy voel dit was en is haar reg. Julle wat dit doen mag jy in ‘n geroeste spyker trap…
Ja jy MR C ek praat van jou. Wonder hoe selfsugtig kan een mens wees… of dalk jy en jou mamma. R het nog ‘n ouma wat oud word en graag vir R sal wil leer ken voor dit te laat is.
Hoop jy kan eendag rekenskap gee oor wat jy gedoen het.

Jan P ·

My kleinkind is die wonderlikste Engeltjie wat God aan ons geskenk her. My liefde vir haar is n spesiale liefde wat onbeskryflik is. Ek bid God elke dag om my te spaar totdat sy oud genoeg is en haar skool loopbaan te voltooi. Dankie Vader vir my klein Prinsessie!!

Cindy ·

Ek het self n jaar terug n ouma geword, wat n eer en al spot die mense met jy is nou eers 40 en n ouma is daar niks so lekker om die klein mannetjie Ouma tehoor sê nie. My liefde vir hom is soos nog geen liefde ooit nie eers soos die liefde wat ek vir my vier seun het nie. Ek het self nie meer n Oupa of n Ouma oor nie maar ek dink ook altyd terug aan elke verhaal wat hulle vertel het en my liefde vir hulle. Om ouma tewees is sover my grootste belssing.

O ja ·

Aan albei my dogter se Oumas – baie dankie, dat julle my kind se lewe verryk het

nog 'n ouma in haar veertigs ·

Hulle is sommer net plein jaloers as jy my mag vra, ek is ook in my 40’s en is ‘n ouma van ‘n ongelooflike klein seuntjie van 1 jaar. Niks kan die lewe beter maak as hy met sy 4 tandbekkie lekker lag as ons saam verspot is nie. Ons is geseend want hoeveel ouer ouma’s het die energies om saam met haar kleinkind/s buite in die modder te baljaar? Geniet hom!

Melodie Veldhuizen ·

Ons enigste dogter woon al byba ‘n jaar in Oostenryk saam met haar man – en saam met hulle ons enigste twee kleindogters. Die jongste is in Ostenryk gebore en is vandag 9 maande.
Daar is darem tegnologie soos Skype, WhatsApp-videos en -oproepe. En julle kry darem seker gereeld foto’s van jul kleinkinders. So probeer diegene troos wat gereeld hul kleinkinders kan vashou, bederf, ‘babasit’, gehaltetyd met hulle kan deurbring. Maar tegnologie troos NIE wanneer ander grootouers vertel van hul kuiers met hul kleinkinders oor naweke en vakansies nie. Dit terwyl jy jou foon elke minuut van die dag byderhand hou net in geval daar ‘n onverwagse boodskap of oproep dkom. Dit troos NIE as jy nie vinnig by ‘n winkel wil inhardloop vir ‘n bederfie vir jou kleindogtertjies nie. Dit help NIKS as jy mooi moet beplan om met spesiale geleenthede soos verjaardae en Kersfees betyds ‘n geskenkpakkie (ten duurste) by hulle wil laat aflewer nie. Dit troos nie as jy mylpale en geleenthede soos die eerste skooldag, skoolkonserte of verjaardagpartytjies misloop nie. NIKS vat die seer en verlange weg nie. Mens leef van dag tot dag … met ‘n hart loodswaar van verlange. En jy probeer positief bly. Want eendag … dalk eendag … sien jy hulle weer. Dalk … vir ‘n kort rukkie. Net om van nuuts af te begin treur wanneer jy weer moet afskeid neem.

Michele ·

My Oumie is amper 4 maande gelede na Jesus toe. Net 4 dae nadat ons troudag. Ek mis haar elke liewe dag. Ek bid dat my kinders so lief sal wees vir hulle grootouers en hulle sal waardeer, as mens jonk is kan mens dinge maklik “for granted” vat.

Tjoppie ·

jy moet ouma liefde ken om dit te verstaan …’n ouer wat regtig lief is vir sy kind sal nooit die kind die plesiertjie ontneem en as dit gebeur is daar ‘n groot probleem wat jaloesie kan insluit.. so ouer het probleem met homself en regtig professionel hulp nodig, want jy doen jou kind ‘n groot onreg aan…jy breek nie net die ouma se hart nie, jy weerhou jou kind van ‘n baie spesiale liefde…. :(

SkaamteLOOS ·

My man het die fout gemaak om ‘n kind te he bitter jonk in sy lewe. dinge tussen hom en die meisie soos jy agterkom het nie uitgewerk nie.
Dit breek my man se ma se hart oor sy nie die kind ken nie. Sy het hom laas op 5 gesien hy is vandag 20jaar oud.
Die ma soek glo nie die kind se pa se mense in sy lewe nie. hoe unfair is dit nie. Ouma word nou oud en het nie meer lank oor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.