Boer winsgewend en volhoubaar

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Vidar Nordli-Mathisen/Unsplash)

Dit gebeur nie sommer net vanself dat ʼn besigheid winsgewend en volhoubaar is nie. Om dit in die praktyk reg te kry moet verskeie dinge reg gedoen word. Daar is deurlopend eksterne faktore wat ʼn besigheid positief of negatief beïnvloed en ʼn uitwerking op winsgewendheid het.

Die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie skep gewis nie ʼn positiewe omgewing waarbinne besighede kan kop bo water hou nie, wat nog te sê groei. Weens die negatiewe spiraal van werkloosheid en gepaardgaande armoede verminder koopkrag en daal vertroue in die ekonomie.

Landbouers sukkel ook om binne hul inkomste te leef. Insetkoste styg buite verhouding en omdat hulle as prysnemers geen individuele inspraak het om pryse te beïnvloed of vas te stel nie, is daar geen waarborg dat ʼn oes wel winsgewend sal wees nie. Dis onwaarskynlik dat omstandighede binnekort gaan verbeter. Maar ʼn boer moet ʼn plan maak, en hier is ʼn paar wenke en kwessies om in gedagte te hou:

  1. Sorg dat jy ingeligte besluite neem, gegrond op betroubare inligting en bronne. Daar is ʼn ontploffing van inligting op sosiale media, maar dis dikwels onbetroubaar en ongeloofwaardig; selfs gevaarlik. Oppas ook vir samesweringsteorieë.
  2. Eksterne gebeurtenisse het ʼn invloed op ons land en besighede. Die konflik tussen Oekraïne en Rusland het byvoorbeeld ʼn uitwerking op kunsmispryse – iets wat boere in berekening moes bring.
  3. Elke landboukommoditeit waarmee geboer word, gaan deur pryssiklusse. ʼn Gesonde, verantwoordelike beginsel is om in die goeie tye verskansing te skep – jy moet voorsiening maak vir die maer jare. Maar wanneer jy ʼn groot skuldlas het, is dit moeilik om jouself finansieel teen moontlike risiko’s of verliese te beskerm. Omdat hulp van die staat grootliks afwesig is, sal boere egter self oorbrugging móét skep. Die naaste hand om te help is die een aan die einde van jou eie arm!
  4. Ekonomie van skaal is ʼn strategiese benadering wat op ʼn manier tog kan help om “binnevet” in te bou wanneer dit goed gaan. Weens die wrede werklikheid van insetkoste en markkragte kan selfs ʼn eens groot genoeg boerdery vandag in die moeilikheid beland. Indien landbou-eenhede of boere kan saamwerk, kan dit hulle posisie versterk en ʼn groter onderhandelingsvermoë skep. Ja, om saam te werk kan ʼn uitdaging wees, maar die keersy van die munt is om te moet ophou boer.
  5. Waar met verskillende kommoditeite geboer word, moet elkeen verkieslik winsgewend wees. Elke vertakking van die boerdery moet gesamentlik, maar ook afsonderlik tot winsgewendheid bydra. Sekere kommoditeite kan wel om strategiese oorwegings behou word, soos wanneer die reste van graanverbouings in sekere tye van die jaar vir veevoeding aangewend word.
  6. Kry kundige adviseurs met ʼn bewese reputasie in hul vakgebied om jou met beplanning te help, waaronder in die produksie- en bemarkingsproses, maar ook wat jou boedel betref. Dit gebeur steeds dikwels dat ʼn boedel nie beredder kan word wanneer die primêre landbouer sterf tensy van die grond verkoop word nie. Met die regte advies en tydige beplanning kan dit maklik voorkom word.
  7. Veiligheidstoestande in Suid-Afrika het drasties versleg. Omdat die regering in hierdie verband dikwels afwesig is en nie hul grondwetlike verantwoordelikheid nakom om na burgers se veiligheid om te sien nie, is gemeenskappe op hulself aangewese. Goeie buurmanskap is van kardinale belang. Boere kan dit eenvoudig nie bekostig om met mekaar oor nietighede hare te kloof en vyande te maak nie.
  8. Boere is entrepreneurs en moet behoorlik beplan om hul besigheid winsgewend te maak en te hou. Om dit reg te kry moet alle produksiefaktore behoorlik bestuur word, waaronder grondstowwe, arbeid en kapitaal – en vandag ook meganisering en tegnologie – wat in baie gevalle arbeid kan vervang. Meganiese en tegnologiese oplossings kan tot ondernemers se voordeel strek en help om die invloed van arbeidsonsekerheid op hul plase te verminder.
  9. Om jou boerdery volhoubaar te maak, moet dit winsgewend wees. Dit is hoe markkragte werk – as ʼn onderneming ʼn verlies maak, gaan die ondernemer uiteindelik onder. Die produksie-elemente wat agterbly, kan dan deur iemand anders benut word.
  10. Daar is ʼn belangrike onderskeid tussen optimale wins en maksimum opbrengs. Die beginsel van die wet van dalende meeropbrengs is hier van toepassing. ʼn Voorbeeld: Wanneer meer kunsmis by ʼn gewas gevoeg word, sal die oesopbrengs aanvanklik merkbaar toeneem. Die vraag is egter: Wat het dit werklik gekos om die groter opbrengs te verkry? Die koste van die kunsmis vreet ʼn deel van die wins op en subsidieer dit dus. Met deeglike beplanning en kundige advies kan jy op onnodige insetkoste bespaar.

Boere is ons land se grootste bate, want hulle plaas kos op die tafel van elke verbruiker. Nie almal besef dit nie – die huidige regering skynbaar ook nie. Intussen raak die omstandighede al hoe erger. Die enigste manier om dit te bowe te kom, is dat ons moet hande vat om die regte redes, beter planne beraam en ons eie toekoms skep.

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Ontledings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nommer 7 ·

Die vraag is, hoekom kan ek my spens en vrieskas vul met ingevoerde kos wat met ‘n swak Rand aangekoop word, hierheen verskeep word, invoerbelasting op betaal word, en dan nogsteed goedkoper is as plaaslike geproduseerde kos?

Manie ·

Produksiekoste oorsee is aansienlik laer as in SA met al sy arbeids regulasies en insetkoste.

Karoo ·

Dis al die kos wat in surplis is daai kant en nie altyd op standaard is vir ander lande se streng reels wat hierheen kom. Kyk maar op die etikette na al die bestandele, preserfeermiddels wat met E begin. Geen Unios en onbilike belasting skale nie EN geen LS nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Boere in Europa word ook gesubsidieer. Dit word al hoe moeiliker vir SA boere om mee te ding. Met al die druk van grondhervorming, hoë insetkoste en misdaad is boerdery in SA basies gedoem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.