Chris Chameleon: As kinders grootword

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Ek sê gister vir my buurvrou hoe bang ek is vir die dag dat my dogtertjie liewer by haar pelle wil uithang as met my, of, nog erger, die huis wil verlaat. Terwyl sy nou as kleuter die spilpunt van my vreugde en toewyding is, weet ek dat daar so ʼn dag kom. Dis tog hoe die lewe werk, nie waar nie?

Buurvrou lag toe maar net en sê vir my ons kan weer praat wanneer die kind 13 jaar oud is – dan sal ek glo begin uitsien na die dag wanneer sy haar eie gang wil gaan. Haas ondenkbaar, dink ek. Hierdie klein blonde engeltjie met haar helder stem en wakker oë? Ek sal haar nooit wegwens nie!

En tog onthou ek hoe dit vir my was. Tydens my koshuisdae het ek my dood verlang na my ma. Verder onthou ek ook goed die vreemdheid van nie meer snags by my ma te kon inkruip nie, omdat dit my stiefpa se plek geword het. Of die dae toe ek daar agter in die tuin van die tannie wat my en my suster opgepas het, tussen die suurlemoenbome gestaan en ween het oor my ma wat alweer eers ná donker van die werk af terugkom en die skemer daal en die poue oorkant die pad hulle katlaggende smaal loei.

Die verandering het gekom daardie vakansie toe ek op 10-jarige leeftyd my eerste fiets gekry het – ʼn BMX-tipe fiets (by Dioooon bespaar jy meer, want beloftes van ons is beloftes wat hou!)

Die reëling was dat ek slegs in die parkeerarea van die woonstelle waar ons gewoon het mag rondry. Maar namate my selfvertroue toegeneem het, het die hek na buite begin wink. Toe word dit die sypaadjie op die straat voor die woonstelle, en later in die straat verder op.

Sulke voortvarendheid eindig altyd in ʼn les, en vir my het dit my eerste botsing met die gereg teweeggebring. Of liewer, botsing ten aanskoue van die gereg. Sjakarylaan was ʼn wonderlike lang afdraand en om die wind deur my hare te voel en die steeds meer histeries wordende tiktiktiktiktik van die plastiekstafie wat ek aan die wielvurk vasgemaak het om teen my speke te raas was die soet smaak van ʼn volwassener vreugde, die vryheid van rebellie en die verleidelike sjarme van gevaar. En dis toe dat ek die verkeerskonstabel sien wat besig was om vir ʼn tannie, wat dalk ook die afdraande te veel geniet het, ʼn kaartjie te skryf.

As kind weet jy wanneer jy in die moeilikheid is, maar nie altyd by wie nie. Ek steek toe my hand uit om, soos Daantjie Kat ons geleer het, my draai in Acacialaan in aan te dui, maar my vaardigheid het my in die steek gelaat, my spoed was te hoog en ek en my fiets ploeg toe vir ons ʼn stukkie landgoed tussen die sypaadjie en die hoekerf los.

Steeds later, op hoërskool terug in Johannesburg, het groter gevare my self-opgeëiste vryheid gekenmerk: skelm rook en later skelm rook en omkyk, snags uit die huis ontsnap om verbanne rolprente soos The Wall, The Exorcist of Clockwork Orange in die Mini Cine Cult Cinema in Hillbrow te gaan kyk of in Bella Napoli heelnag te gaan dans en soos Aspoestertjie die horlosie dop te hou want my koets sál in ʼn pampoen verander as ek nie terug in die huis insluip vóórdat my ma-hulle wakker word nie.

Dit alles, en veel rowwer dinge het ek wel oorleef en kan nou die storie vertel. Ja, tye het drasties verander, maar vir my eie moeder wat voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog reeds ouer was as my dogtertjie vandag, het tye ook drasties verander. Elke ouer kan waarskynlik getuig dat die blote feit dat hulle hul jeug oorleef het, ʼn soort wonderwerk is. Maar wanneer dit by ʼn man se dogtertjie kom … ek wil haar koester, beskerm, begelei …

En terwyl ek hierdie laaste woorde tik, besef ek dat ek ten minste vyf keer tydens die skryf van hierdie rubriek haar weggewys het met ʼn “moenie nou pla nie, Pappa is besig…”

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.