Chris Chameleon: Avonture op die langpad

Chris Chameleon (Foto verskaf)

‘Julle %@$!?*& trokdrywers!’

En met dié skiet ʼn briesende, middelvinger van ʼn spartelende hand omhoog by die venster van die verbyjaende sedan uit.

***

Wat gemaak met aftrede? Sedert my aftrede aan die begin van voorverlede jaar het die pret nog nie opgehou nie. Ek vermoed ons gesin se verwerping van televisie, vyf jaar gelede, het gehelp. So het ons geleer om onsselwers aktief te vermaak met lees, musiek, spel, tuinmaak, huis opruim en gesprek. Aanvanklik was dit ʼn bietjie vreemd, het die verlange na die passiewe inname deur die skerm bly talm en tot ongemaklike stiltes gelei. Maar die oorgang was vinniger as wat ons destyds in die vooruitsig gestel het. Kort voor lank was daar weereens nie genoeg ure in die dag vir die uitvoer van pligte en verlustiging in nuwe genietinge nie.

Mens moet seker nie te vinnig praat nie, maar aan die begin van jaar drie van aftrede het nog geen enkele oomblik van verveling of verwensing voorgekom nie.

Maar nogtans, wat gemaak met aftrede? Wel… ek het my nog altyd verlustig in tydelike verdiepinge in die werkslewe van andere:

Hoe is dit om ʼn bankklerk te wees?

Wat is die hoogtepunt in ʼn loodgieter se dag?

Waaroor klets loodse van passasierstralers?

Wat eet lykskouers vir middagete?

Of, byvoorbeeld, hoe is twee dae in die lewe van ʼn swaarvoertuigbestuurder (of soos hulle hulself sal noem, ʼn trokdrywer)?

My nuuskierigheid noop my toe tot ʼn oproep na een van Suid-Afrika se groot vragmotorvervoermaatskappye, met die versoek om twee dae saam te ry vir lewenservaring. Die proses was uiteindelik nie heeltemal so eenvoudig nie. Ek moes onder andere skriftelik ooreenkom om die maatskappy te vrywaar teen enige moontlike verliese en ek moes sekere detail met betrekking tot roetes en vragaard ter wille van bedryfsgeheime en veiligheid vir myself hou.

Uiteindelik het die groot dag aangebreek en ek het opgeklim by die grootste vragmotorhalte in die Suidelike Halfrond (tweede grootste op die planeet) by Harrismith.

Die bestuurder, Tinie, is ʼn ervare drywer in sy vyftigs met miljoene (letterlik!) kilometers agter die blad. Daarom dat hy een van die ouer vragmotors gegee is: in die afwesigheid van moderne toevoegings soos vertraers vir die remstelsel, het hierdie voertuig jobsgeduld en die ervaring van jare by die Van Reenenspas af geverg. Dit het uiteindelik sewe ure geduur om die 300 km van Harrismith na Durban te ry.

ʼn Mens leer jou kajuitmaat nogal goed ken op so ʼn tog.

Die detail is legio, maar wat ek wel kan sê is dat met een afdag per week sal vriendskappe, familieverband en die haard van die huis ʼn vae idee word, met weinig betrekking op die werklikheid. Wat kos betref, die leser sal seker self weet wat die prakties mees haalbare dieet op die langpad behels. Behalwe dat hierdie langpad nooit ophou nie.

By die depot in Durbanhawe aangekom, het ons in die ry geval vir die inweeg. Die ure sleep verby. Ná die weegbrug klim ons weer in die ry vir die aflaai, maar tien minute voor ons kan aflaai, sluit die depot. Dus, om 23:00 verlaat ons die depot en ry in die hawe rond op soek na parkeerplek vir die nag. Ter vergelyking, dis soos om op 24 Desember parkeerplek te soek in ʼn gewilde winkelsentrum se parkeerarea. Behalwe dat in hierdie geval die parkeerarea enige gaatjie langs die slaggatbesaaide netwerk van weë binne die hawekompleks is. En met ‘gaatjie’ bedoel ek ruimte genoeg om ʼn vragmotorperd met twee waens (21 ton) volgelaai met erts (36 ton) in te druk.

Agter die sitplekke in die kajuit is twee smal kampstyl bedjies ingerig. My ligter postuur bepaal dat ek bo slaap, wat beteken dat my kop 30 cm bo my reisgenoot se kop tot ruste kom.

‘Tot ruste kom’ gebruik ek slegs by wyse van spreke. Tussen ʼn snorkie hier en daar, die geure van reis, die teistering van bloeddorstige Natalse muskiete, die beperkte slaapruimte, vragmotors wat heelnag aanskakel en vertrek of arriveer en afskakel (nugter alleen weet van waar, waarheen en waarom) en die ligte van hulle verkeer tydig en ontydig op my ruspogende gelaat deur die ruim kajuitvenster, die swaar hawewerksaamhede wat skynbaar geen tjailatyd ken nie en groot getalle uitlokkende prostitute het die slaap my ontwyk soos die wennommers van die lotery.

Om 05:30 die volgende oggend is die foltering van slapeloosheid uiteindelik gestaak deur die keteltjie op ʼn klein gasstofie in die kajuit, gevolg deur die lekkerste koffie wat ek in ʼn baie lang tyd gedrink het.

Terug depot toe. Wag in die ry, laai af, wag in die ry, weegbrug, wag in die ry, spuit die bakke skoon, wag in die ry, gooi diesel, wag in die ry, weegbrug, wag in die ry, laai vrag, wag in die ry, weeg…

Net ná 12 uur die middag val ons weer in die pad en om tweeuur die middag eet ons vir die eerste keer in die dag – pizza.

Verhale van jeug, ouerhuis, skool, diensplig, familie lief en leed, aangenome kinders, die dood wat sy prys met reëlmaat kom opeis, die gevare van die pad en die bedryf, noue ontkomings, hunkering, eensaamheid en die toekoms wat tartend haar geheime vir haarself hou, hou ons so besig dat die 50 km/h rit teen die platorand op verbygly asof ons in ʼn Ferrari sit.

***

Dis ʼn omstrede gewoonte om in die skouer van die pad te ry – ja, dit is gevaarlik vir vragmotorbestuurders om dit te doen, maar indien hulle dit nie doen nie, neem motoriste steeds groter kanse om wel verby te kom wat dikwels selfs groter gevare skep. Ek en die langpad is nie vreemdelinge vir mekaar nie – my reis na en van meer as 3 000 konserte in meer as dertig lande in dertig jaar het my ʼn ding of twee van die pad geleer, onder andere dat vragmotorbestuurders deksels goed bestuur en dat vragmotorbestuurders in die algemeen die hoflikste padverbruikers is.

Die vragmotor voor ons was in die skouer, maar ʼn entjie voor hom het die skouer opgehou en gruis geword. Enige voertuig wat ons nou sou verbysteek, sou in doodse gevaar verkeer het wanneer hulle by ons verbygaan en dan te doene kry met die vragmotor wat voor ons terug in die pad gedwing word. Tinie sit sy flikkerlig aan, kom terug in die pad, sodat die vragmotor voor ons dit met veiligheid ook kan doen. Dis toe dat die vent in sy wit motortjie verbyjaag en al swetsend en vingertaal beduidend oor die dubbel witstreep verby ons almal jaag.

By die volgende vulstasie stop ons vir ablusies en, slaan my om met ʼn kanarieveertjie, daar sien ons die arrogante jaagduiwel in die parkeerarea. Tinie stap driftig op hom af en ek vrees vir die ergste, want Tinie het voorarms soos Popeye en ʼn humeur so kort soos ʼn vlieg se nek.

Maar hy gaan staan voor die javel, naby, oorweldigend, intens en kyk diep in sy verwarde ogies: “Daardie garage-pie in jou pote, het ʼn %@$!?*& trokdrywer hiernatoe gebring. Die kar waarin jy ry, is deur ʼn %@$!?*& trokdrywer gebring. Die brandstof in jou karretjie is deur ʼn %@$!?*& trokdrywer na hierdie garage gebring! Jou foon, die simpel keps op jou kop en jou stink plakkies is deur ʼn %@$!?*& trokdrywer aangery! Jou TV, jou melk, jou cigarettes en jou ontbytpap, alles is vir jou gebring deur ʼn %@$!?*& trokdrywer.”

Die javel se kniekop begin bewe en Tinie kom nog nader aan sy nou skaamteloos bevreesde bakkies: “En wanneer jy nou toilette toe gaan om jou vrees uit jou vuil onderbroek te gaan was, weet dan dat ek voor jou daar was, want ʼn %@$!?*& trokdrywer het daardie toiletpapier vir jou gebring!”

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Chris, wanneer gee jy ‘n boek uit met jou rubrieke in?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.