Chris Chameleon: In die kring van vriende

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Hy is ʼn besondere man, hierdie vriend van my. Vir alle doeleindes die vergestalting van Nietzsche se übermensch – gebou soos Tarzan, met ʼn kakebeen soos Schwarzenegger, die teer blik van die Boeddha, vlot in vyf tale, strategiese moesie soos Marilyn Monroe, ʼn praktiese handvaardigheid waaruit die keurigste hout en staalwerk blom, ʼn stem soos die 1980’s Gunston-sigaretadvertensie, geen vrees vir werk nie en ʼn helderheid van verstand wat van die wêreld nie aldag sy woning maak nie.

Hoe ouer ʼn mens raak hoe moeiliker word dit om sterk vriendskappe te smee. Die aanvanklike ontmaskering wat met onskuldige gemak onder kinders die fondasies lê vir ʼn lewenslange vriendskappe, word met die jare moeiliker, namate die harde houe van die lewe die masker soms in die gesig in moker of die ontmaskerde beëelt om ʼn nuwe bakkies te vorm wat die prille, die onskuldige daaragter vermom. Daarom dat ek bly is oor hierdie vriendskap wat ek bykans agt jaar gelede in reeds my vyfde dekade kon vorm.

En tog wil ek nie oor my vriend skryf nie, maar oor sy pa – ʼn akkerboom staan immers op akkerboomwortels.

Otto was ʼn anderste Duitser. Duitsers is reeds anders, Otto was dus ʼn anderste anderste mens. Hy het hom destyds sover geografies moontlik as wat ʼn mens jouself in dieselfde tydsone van Duitsland op hierdie planeet kan bevind met ʼn Franse vrou uit Madagaskar van eweneens uitsonderlike lot en lewensvoorkeure in hierdie woeste land van ons gevestig.

Die pioniersgees wat die ruggraat van vele van die uitnemendhede van hierdie land vorm, was in Otto volop.

Een ding van talentvolle mense: Wanneer die Goeie Skepper ʼn mens met gawes sodanig wyd en verskeie toebedeel in ʼn wêreld waar fokus aangemoedig word, word die uiteindelike keuses deur die samewerking van lot, voorkeur en versoening met lewensomstandighede bepaal. Hy het homself uiteindelik onderskei as byeboer en beesteler in die Waterberge. Sy innemende persoonlikheid en sy onberispelike werksetiek het hom gewild gemaak onder sy tydgenote en hy het hom gereeld bevind in die uitgelese geselskap van die sosiale en ook politieke elite van die vorige bedeling.

Wat sy werksaamhede egter betref, het daardie ding gebeur wat dikwels gebeur wanneer mense met integriteit saamwerk: planne word gemaak en ooreenkomste word aangegaan, onderskryf deur die onwrikbare pen van gedeelde waardes op die verganklike papier van ʼn handdruk. Vir ʼn ruk lank het dit goed gegaan, maar toe gebeur die onvermydelike: sy vennoot kom skielik tot sterwe, die familie erken geen van die ooreenkomste wat nie op papier in boedels onderteken is nie en ʼn nuwe begin word vir ʼn man verby die fleur van sy lewe met min op sy naam genoodsaak.

Na ʼn paar omswerwinge, ʼn bietjie geluk en heelwat genade, hervestig hy en sy vrou hulle toe in die Vrystaat op ʼn klein plasie, waar sy fyn aanvoeling as beeskenner vir hom ʼn beskeie, dog uiters gerespekteerde status as Nguni-beesteler skep. Mettertyd het hy in die skemer van sy lewe weereens die waardering en agting van sy nuwe gemeenskap verwerf.

Die skemer van sy lewe was egter soos die skemers van winter, waarna dit vinnig donker word soos die dag in koue verkanker. Die genade van so ʼn dood is dat die aanloop daartoe van korte duur is en sonder veel lyding geskied, maar die pyn van onopgelosde kwessies, onvoltooide gesprekke en onafgeslote hoofstukke het in sy verslae vrou en kinders ʼn ruk lank getalm.

En toe die begrafnis. Die diens het op hulle plasie in die Vrystaat plaasgevind. ʼn Eklektiese versameling roubeklaers het daar byeengekom, meestal vreemdelinge vir mekaar, soos die mylpale van sy lewensweë op hulle verskeie plekke, onbewus van dit wat voor hulle bestaan het of na hulle ontstaan het. En tog was daar ʼn erkenning onder die mense, soos hulle in mekaar die ooreenkomste getoon en herken het van wat dit verg om tot die menslike teelkudde van hierdie besondere man se vriendekring te behoort. Van al die mooi woorde wat gespreek is by die roudiens, was van die mees treffende hierdie eenvoudige stelling van een van sy vriende:

‘Niemand het ooit iets sleg van Otto te sê gehad nie.’

Daarna is die kis in die lykswa gelaai. Die lykswa het stadig vanaf die plaashuis hek toe gery. En dit was toe dat daar in die Nguni teelkudde ʼn klein wonderwerkie ten aanskoue van almal afgespeel het. Die spogkoei van sy Ngunistoet het vanwaar sy herkouend die gedoente betrag het, opeens ophou herkou en agter die lykswa eers aangestap en toe begin hardloop. Die ganse stoet het haar voorbeeld gevolg en tot by die grensdraad agter die lykswa aangehardloop en daar verbouereerd, loeiend bly staan soos die voertuig in die pad gedraai en oor die horison weggery het.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elsabe ·

In hierdie stuk deur Chris Cameleon verwoord hy my gevoelens soos wat ek dit nog nooit kon nie – die ingemokerde masker. Om in jou alleenheid ouer te word, is hard. Baie hard. En vriende maak in jou sesde dekade is byna nul. Ek smag na ‘n vriend of vriendin wat leemtes in my tyd kan vul. Klou vas aan sterk, standvastige vriendskappe en koester dit. Oneindig nodig.

Elsabe ·

Durf ek se dat die lewe in jou jeug jou karakter vorm gee?

Betzie ·

Dit is ‘n lieflike stuk, Chris. Geskryf in die mooiste Afrikaans. Vir my ‘n voorreg om op hierdie dag te lees.
Daardie loeiende koei………

groenboer ·

Sy meesterlike beheer van die Afrikaanse taal is iets wat my altyd van sy skryfwerk opval – geen nodigheid vir “loslit-Afrkaans” in sy skryfstukke nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.