Chris Chameleon: Skandes tussen die hoipolloi

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Kyk man, ek gaan nie vir jou jok nie, ek het baie om my oor te skaam. Soms, terwyl ek stofsuig of in die tuin werk – die tipe takies wat nie veel grysstof verg nie, dan dwaal my gedagtes deur die blaaie van my lewensboek. Af en toe kom ek op ʼn blad af wat met skaamte beskryf is en ek word soms sodanig meegevoer dat ek hardop iets sal sê soos ‘aggenee man!’, of ‘ugh!’. Vroulief kyk dan soms op, doer oor ʼn tamatierankplant en vra wat gaan nou met my aan. Natuurlik voel ek dan te skaam om presies te sê, en dan sê ek maar ‘ag dis sommer niks nie’.

Maar jy, liewe leser, hoef ek dalk nooit in die oë te kyk nie en daarom gaan ek ʼn bietjie skande met jou deel.

Omtrent tien jaar gelede woon ek ʼn dinee by in die konferensiesentrum van Grand Central Station, Manhattan. Dis vol van erg deftige mense – Bill Clinton sit daar, sowat drie Monica Lewinski-lengtes van my af, ek sit langs Jimmy Choo (sonder om te weet wie dit regtig is). Josh Groban, Stevie Wonder, Cyndi Lauper en ʼn klomp ander sit so skuins oorkant my.

Dit was nog altyd ʼn volslae onvermoë van my om met iemand te praat slegs vanweë dit wat hulle vir my kan beteken, of omdat hulle skynbaar belangrik is. Die liewe Minki van der Westhuizen met haar hoë sosiale intelligensie merk dit op en kom staan by my en sê:

“Kom Chris, jy kan nie net heel aand so hier sit nie, jy moet mingle!”

“Ek ken nie van mingle nie Minki…”

“Nee man, dis maklik, kom ek wys jou,” en sy gryp my by die arm en lei my deur die hoipolloi.

Ons gaan staan by ʼn kringetjie waar Emma Thompson, Tim Robbins, Morgan Freeman en nog ʼn ander ou wat ek nie ken nie staan en klets. Dit lyk of sy hulle reeds ken en sy val sommer gou in met praatjies. Morgan lyk ook effe ongemaklik. Ons kyk mekaar ʼn paar oomblikke aan en ek besluit toe maar om die stilte te breek met:

“Eh… love your work?”

Hy glimlag inkennig en knik: “Yeah, me too. I never know what to say or do at these functions.”

Uiteindelik, iemand wat verstaan…

Minki vra vir die man wat ek nie ken nie of hy hierdie jaar ook groot gaan bie vir die Nelson Mandela Kinderfonds, aangesien hy die vorige jaar in Londen so groot gegaan het. Hy antwoord dat hy waarskynlik nie sal nie, omdat hy hierdie jaar baie arm voel.

Ja, arm, dink ek… my gedagtes gaan terug na ʼn paar weke voor ek hierheen gekom het, terug in Suid-Afrika. Die Cruywagens het by ons kom eet, en in ʼn stadium trek Riaan my eenkant en sê vir my: “Chris, kan ons gou uitgaan na jou tuin toe, daar is iets wat ek met jou wil bespreek.”

Nuuskierig stap ek saam met hom buitentoe.

My tuin lyk lieflik. Dis deels te danke aan Riaan. ʼn Paar jaar vantevore het ek by een van ons kuiertjies daar opgemerk hoe goed sy tuin lyk, en hy het my toe op die spoor van sy tuinier, Danwill, geplaas. Danwill was ʼn magiese tuinier. Blomme, struike, bome en gras het onder sy aanraking en sy oop, lieflike glimlag gedy. Hy was ʼn seën vir al wat lewe. Maar eendag, ʼn paar weke voor hierdie kuiertjie, het boewe hom doodgeslaan vir die weekloon in sy sak waarmee hy huis toe gestap het.

“Chris,” sê Riaan. “Onthou jy nog die Mainstay-advertensie in die 1980’s?”

You can stay as you are for the rest of your life, or you can change to Mainstay?” antwoord ek.

“Net so,” bevestig Riaan. “Jy en ek kon vir die res van ons lewens met veërs gewerk het, wat Saterdae net kom blare opvee, maar ons het die verandering gemaak na ʼn ware, begaafde tuinier. So kom ons sprinkel hierdie klein botteltjie Mainstay oor hierdie pragtige struik, en dan dink ons so ʼn bietjie in stilte aan Danwill.”

So ʼn eenvoudige, opregte, ontroerende gebaar. Riaan is nogal vol verrassings op hierdie manier.

Ineens is ek terug in die werklikheid by die dinee met die hoipolloi in Grand Central en, sonder om te veel te dink, trek ek los met ʼn poging tot ʼn grappie en sê vir die man wat so flussies armoede gepleit het dat ek hom dalk kan help met ʼn tuinwerkie, want my geliefde tuinier is onlangs oorlede.

Die grap het glad nie goed afgegaan nie en oomblikke later, terwyl Minki en ek wegstap, wil ek by haar weet wie die ou dan nou eintlik was.

“Chris, jy het sopas vir die heel rykste Suid-Afrikaner van hulle almal ʼn tuinwerkie aangebied. Mnr. Patrice Motsepe was nie baie beïndruk nie!”

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elmarie ·

Vreksnaaks soos net jy dit kan vertel! Dankie Chris! Die kêrel wat nee dankie sê kan maar gerus waai, HOEF mos nie te lees nie! Ai….

modiglianigirl ·

O wee en daar ís GEEN manier om dit ‘reg’ te verduidelik aan Mnr. Patrice Motsepe nie . . . . . enige poging sal soos sand trap in ‘n dryfsand gat wees.
Ek wens ek kon sê dat ek glad nie dié desperate wens vir ‘n tydmasjien met ‘n ‘oomblik-terugdraai-en-dit-nooit-gesê-het’ knoppie verstaan nie. Dit is van in my kop leef en praat met dié wat buite dié raam leef dat ek dié situasie so goed ken en aan my lyf voel.

Nelius ·

Chris, net ons Suid-Afrikaners sal die diepte en die humor van die situasie kan verstaan. Verleentheid en geleentheid… Well done ou Maat! Dankie dat jy dit deel. Gaan vir goud, silwer en brons!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.