Chris Chameleon: Soms dwing die natuur ons tot opstand

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Ons probeer hier in die berge so na as moontlik aan die natuur leef. Klein voetspore, werk liewer met die natuur as daarteen en so aan.

Eintlik moet ’n mens versigtig wees met terme soos ‘die natuur’. Want, glo ek, alles is uiteindelik natuurlik, nie waar nie? Ek bou ’n huis met ’n staalkonstruksie en stene, elektriese drade en rioolwerke. Die spreeu in my dakkap bou ’n nes. Ek het my bes gedoen en hy syne – myne is net meer kompleks. Die miershope hier onder in die vallei en die byenes in die holkrans agter my huis is nou weer aansienlik meer kompleks as die spreeu se nes. Ons het nie bewers hier nie, maar ek weet hulle bou indrukwekkende damme en sommige voëls gebruik stokkies om wurms uit hulle gaatjies te krap. Dus, dalk moet ek eers die ‘natuurlik’ praatjies laat staan en dit hou by klein voetspore, samewerking en ’n onimposante teenwoordigheid.

En tog, soms dwing die natuur ons tot opstand.

Dit was ’n vreemde week vir natuurharmonie hier by ons. Eers het ’n ding my gebyt, ek dink dit was ’n spinnekop, want hier het ons nie bosluiskoors nie. Maar ek was vier dae pens en pootjies in die bed en voel vanoggend by die skryftafel nog glad nie soos ’n jong konyntjie nie.

Toe begin die paddas om vreeslik in die huis in te kom. Hulle doen dit maar hierdie tyd van die jaar as die dae korter word en die bergbries onder jou katoenhemp insluip en sy lyf teen joune kom druk, maar vanjaar met meer mag en mening as gewoonlik. Ek help die paddas dan maar uit, groentetuin toe – daar is genoeg werk vir hulle met die goggas.

Toe kom daar weer ’n vlermuis in die huis in. Enigiemand wat al ’n vrou en ’n vlermuis terselfdertyd in die huis gehad het sal weet dit werk net eenvoudig nie – een van hulle moet uitgegooi word.

En toe is dit bye. Ons bid al drie jaar dat die bye die korf in die agterplaas sal inneem, die korf waarmee ons so lekker bye geboer het toe ons nog in Johannesburg gewoon het. Hierdie jaar kom hulle toe uiteindelik hier by ons rondsnuffel, maar hulle is te deftig vir ’n korf en trek toe by die dak in. Ek moes maar die streep daar trek. Met ’n luik vanaf die solder kon ek tot by hulle kom en sit toe maar ’n stokkie van die Newcastle-Indiërs se beste wierook daar neer en voila! Die bye kom toe tot die gevolgtrekking dat die dak nie die utopiaanse herberg is soos deur die eerste verkenners gerapporteer nie.

Maar vandeesweek se swaarste werk was met die rinkhalse.

Uit beginsel maak ek nooit ’n slang dood nie. Dis vir my ’n vreeslik mooi dier, met sy geruislose, predatoriese dodelikheid en visuele charisma van ’n swart Bugatti. Sy rol in die natuur is onteenseglik belangrik en, ja goed ek weet dit klink ’n bietjie eksentriek, maar ek glo in ‘kontrakte’ met diere. Spinnekoppe, perdebye en slange… my kontrak is:

“Los my dan los ek jou. Doen my in en ek doen jou soort vir die res van my lewe in. Teken hier.”

Tot dusver werk dit goed. As ek nou op ’n spinnekop gaan lê dan is dit mos nie sy skuld nie, hy moet net nie vir my kom nie.

Ons het destyds gedink dis ’n goeie idee om ’n dammetjie so 20 meter vanaf die voordeur te bou, maar die plan wou nooit werk nie. Hier op 2 000 m bo seespieël is dit te koud vir swem en visse is te veel werk vir ’n man wat besluit het hy tree af op 50. Ek het die dam verlede jaar gekap dat hy nie meer water hou nie (muskiete!) en ons besin nou nog oor wat om daarmee aan te vang.

Ek gaan nou nie my vrou van besemvlieëry beskuldig nie, maar sy het ’n verhouding met haar kat soos ek nog nooit gesien het nie. Moses, so heet hy, vang op bevel muise, wanneer ons ver moet ry, sê sy vir hom om te gaan piepie voor ons in die kar klim en dit doen hy dan getrou. Hy stap daagliks kilometers saam met ons in die berge. Ek het al saam met my vrou in die kombuis gestaan toe sy skielik opkyk en vir my sê “die kat sê” vir haar sy moet buitentoe gaan daar is ’n probleem, ons gaan toe uit en daar staan hy en kyk ’n rinkhals vierkantig in die oë.

Soms dwaal my tweejarige dogtertjie by die kombuisdeur uit, veld toe. Dan sal dit die kat wees wat haar soos ’n skadu volg om haar op te pas.

En net so gebeur dit toe ook die afgelope week. Moses roep wéér vir Daniella en sy gaan uit en sien hom daar in die leë dammetjie by ’n baba rinkhals.

Ek weet nie of jy al ooit ’n baba rinkhals gesien het nie, maar dis ’n wonderbaarlike skepping. Vyftien, twintig sentimeter lank en ’n volmaakte ewebeeld van ’n volwassene. Dis amper erger om hulle op daardie leeftyd te sien, want jy durf effens nader te kom en hulle goed besigtig, sodat die grusame dodelikheid van hulle uitstraling des te meer merkwaardig opval. Verlede jaar het ek so ’n kleintjie in die voorportaal gekry met ’n paddatjie in sy maag. Hy is met ander woorde reeds dodelik genoeg.

Dis soos dominee Schoeman vir my gesê het toe ons met hom gaan praat het oor Lente se doop: “Jy weet niks van die lewe voor jy nie kinders het nie.” Ek kan daarby voeg: “En ook nie die dood nie, Dominee, ook nie die dood nie.”

Met die blote oog kon ek drie van hulle daar binne sien, maar daar lê ook grasse en goeters daar en die karnallies word mos lewendig gebore, dus ma en/of pa seil dalk ook nog daar rond. Ek gaan haal toe maar my windbuks en sit op die dammetjie se wal en klits hulle – uiteindelik ses in totaal – ma of die ander twintig broers en susters is nêrens te sien nie en moet dus in die grasse om die huis op paddas en muise lê en wag. Natuurlik het ’n mens dan heeltemal die ritteltits ná so ’n ervaring en elke grassie wat sedertdien teen jou kuit skuur onthul in sierlike spronge en vinnig uitglippende gilletjies jou versteekte akrobatiese talente.

Maar ek het bitter sleg gevoel oor die slagting. Iets daarvan voel net nie reg nie, maar ek weet nie hoe anders gemaak nie. Hierdie nuwe rol van pa en beskermheer is vol verrassings en nuwe uitdagings.

So sit ek toe gisteraand en loer gou ’n bietjie in op sosiale media en doen toe een van daardie vreeslik onbesonne dinge: kyk na beeldmateriaal wat verbykom, welwetend dat dit iets gaan wees wat ek wens ek liewer nie gesien het nie. Dis beeldmateriaal van Russiese krygsgevangenes wat deur Oekraïense soldate gemartel word. Ek het laas met die Rwandese volksmoord sulke sadistiese en gevoellose barbaarsheid gesien. En ja, dis oorlog, dit help nie eens om te begin met wie hoort waar en waar hoort wie nie en wie het wat gedoen of nie gedoen nie.

Die mens in my, ril, word met afsku gevul.

Die mens in my treur oor die verskriklike lyding van ons bestaan.

En ek weet dat ek op my eie klein manier, op my eie klein landgoed oorgelewer is aan dieselfde reëls van die natuur en dieselfde uitdagings van beskaafde selfbeheersing.

Dit is eers met die bedtydgebed dat ek besef: die enigste sinvolle opstand teen die ongenaakbaarheid van die natuur is Godsgeloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Sênet

Goed geskryf Chris jy skilder met woorde