Chris Chameleon: Wanneer die weggooikind van die Weste sy ouers weggooi

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Toe ek in die 1980’s koerante afgelewer het, het daar elke nou en dan ʼn ekstra koerant in die pak beland. Dan het ek daardie meneer opgelees. Ek het net die perdewedrenuitslae en geldmarkte oorgeslaan – te veel syfertjies en die letters was Grieks.

En nou kan dit wees omdat ek ʼn kind was, maar ek het nooit oorweldig gevoel deur die nuus nie. Alles het ook meer plaaslik gevoel, die gebeurtenisse daar ver, anderkant die see, was, wel… ver, en anderkant die see.

Deesdae voel ek dit meer, die nuus.

Dit kan algemene oorweldiging deur die alomteenwoordige inligtingsnelweg wees. Dit kan wees dat ek nou oud genoeg is om nie net nuus te lees nie, maar ook die implikasies daarvan te verstaan. Dalk doen ouerskap dit aan ʼn mens; die wêreld hou nie meer by jou vel op nie, daar is nou kinders en ʼn vrou waarvan jy die voorsiener en beskermheer is.

Dit help as ʼn mens ander mense in jou dampkring het wat oor dieselfde dinge besorgd is. Die solidariteit, die vermoë om openlik daaroor te kan praat en oor en weer stuiwers te werp in die armbeurs wat ons saam dra en waaruit ons saam hulpbronne kan verhaal op die pad vorentoe.

Maar hoe gemaak wanneer jou gedagtes jou verder uit die hoofstroom van jou eie dampkring lei? Aangesien my dampkring reeds lewenslank randfiguurlik van aard is, is hierdie nuwe vervreemding inderdaad ʼn nouer wordende wandelpaadjie deur ʼn digte bos wat, hoewel net-net voldoende sigbaar, nie genoeg verkeer het om my in my gang die las van spinnerakbreking te ontsien nie.

As ek skil, meer skil en klaar geskil het tot op die kern van hierdie onvrug, lyk dit vir my asof die pittigheid konsekwent te make het met die identifisering met Westerlingskap.

Ek voel steeds minder Westers.

Dit is ʼn pynlike gewaarwording, want ek is ʼn bok vir die sports van melankolie en nostalgie. Ek het Westers groot geword. Ek is Westers opgevoed, Westers opgelei. Die fondamente van my geloof is Westers. Ensovoorts.

En tog voel ek steeds minder Westers. Dis eintlik onregverdig, want ek het betreklik konsekwent gebly. Dis die Weste om my wat verander het en die nuwe vere van die spesie pas hierdie voël nie.

Die Weste het sag geword. Nie sag soos ʼn goeie koedoerugstring nie, maar sag soos ʼn tweede pouse Sandwich Spread-toebroodjie wat gisteraand reeds in die kosblik gepak is. Daar sit nog ʼn stewige werwel tussen die koedoerugstringe, maar die toebroodjie smeek om pap en muf in die snippermandjie te gaan aftree.

Die Weste het ʼn jammerlappie geword. Daar is verskonings vir alles:

“Ek word geviktimiseer.” (Jy bedoel jy staan nie op vir jouself nie?)

“Ek verdien nie my voorouers se nalatenskap nie.” (Jy bedoel die las van emosionele skuld is ligter as die verantwoordelikheid van erfenis?)

“Ek kan nie ʼn kind in hierdie wêreld inbring nie.” (Jy bedoel jou moed begewe jou?)

“Ek is depressed.” (Jy bedoel, jy hou van die pilletjie of jy sal liewer krepeer in jou onbenullige lewe voordat jy hom toewy tot diens van ander?)

“Hulle het my gedwing.” (Jy bedoel jy het die uitdaging om beginselvas te wees van die hand gewys vir die sagte lafenis van selfkompromie?)

“Dis nie my probleem nie.” (Nog nie.)

Westerse lande verkwansel hul soewereiniteit. Nasiestate minag die begeertes van hulle kiesers en rig die stuurboord op die koers wat deur internasionale beheerliggame gestel word. Beheerliggame wat nie deur die kiesers direk verantwoordelik gehou kan word vir swak uitkomste nie, vanweë die feit dat die state by hulle ingelyf word en dat hulle nie by die state ingelyf word nie. Klimaat, gesondheidsorg, dieet, wie die vriend is, wie die vyand is en waarheen geld landuit gestuur word, word van die natuurlike behoefte tot nasionale nuanse gestroop en die Westerling word onder druk geplaas om ʼn een-maat-pas-almal-uniformpie aan te trek.

In die nouer, Suid-Afrikaanse konteks, voel ek ook van my tradisioneel Westers begronde genote geskei. Ek voel binne my kulturele konteks bitter eensaam in die oortuiging dat Suid-Afrika nie moet probeer om ʼn Westerse land te wees nie. Ons kan nie wees wat ons nie is nie. Ons sal dit nooit wees nie, nie net omdat die meerderheid van ons geen kulturele of historiese verwysing daarvoor het nie, maar ook omdat dit al hoe onwaarskynliker word dat ons ooit daar kan opeindig, omdat ons politieke en ekonomiese trajek reeds soveel skerper belyn is met nie-Westerse bondgenote en beskouings.

Die van ons wat ons in die Empaaier van Suid-Afrika bevind met ʼn Westerse grondslag (byvoorbeeld my mense, die Afrikaners) kan beter aanvaar dat ons net in ons grondslag Westers is, maar dat ons nie daarom genoop hoef te wees om te bly sit in die brandsiek perd van die hedendaagse Weste nie. Ons het deur baie sweet en bitter bloed die reg verwerf om ons eie perd op te saal.

Die Weste gee nie vir ons om nie, en het ook nooit werklik vir ons omgegee nie. Ons (Afrikaners) was nog altyd ʼn doring in die vlees van die Weste, omdat ons ons onafhanklikheid te wyte het aan ʼn bittereinder weerstand teen Westerse koloniale hegemonie – ʼn weerstand wat ons in die korttermyn verloor het, maar in die langtermyn gewen het en deur ʼn stryd waarin ons die vroeë klok ter aankondiging van die ontbinding van Westerse hegemone helder gelui het.

Vyandskap met die Weste is onnodig, selfs onnosel. Maar eie denke, doen en late is onontbeerlik en daar sal niks oneerlik of ongebalanseerd daaraan wees as ons vir die laaste jare van uni-polêre Westerse wêreld heerskappy in eie belang die weste ontgin vir wat dit ons kan bied nie, sonder om ons eie selfstandigheid daarvoor te verpand nie.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan ·

Die verskil in Putin en die Weste se beskouing van die tradisionele Christen waardes teenoor sogenaamde woke-waardes laat my as konserwatiewe Christen selfs meer gemaklik met Putin se siening identifiseer.
Baie goeie insig en goed geskryf

Danie ·

Soos Jan sê: Tans voel mense baie meer tuis by Putin as by die VN. Ons eertydse aartsvyande. Eintlik baie tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.