Dis nié net ʼn ding van die 21ste eeu nie

Lizma van Zyl. Foto: Jaco Marais.

Deur Lizma van Zyl

Ek moes onlangs vir ’n ongemaklike hospitaalprosedure gaan en so onder die helder teaterligte raak ek en die silver fox-narkotiseur aan die gesels oor die konstante aanslag van digitale kommunikasie en hoe dit ons van stilte en tyd ontneem.

En so, net voor die inglip van die naald in die bultende aar, noem ek dat mense vandag ook so ánders met mekaar gesels. So baie, maar ook so min, word met daardie beperkte karakters op ons flikkerende skermpies oorgedra…

My laaste gedagte voor die saligheid begin deursypel en my gespanne tong tot ruste kom, was dat ek tog hieroor moet skryf!

Behalwe dat ons weens ons slimtoestelle wat aanhou buzz en beep nooit afskakel of wégkom nie, geld daar deesdae blykbaar ook ’n nuwe stel reëls wat kommunikasie betref – en een waarvoor ek al hoe minder ooghare het. En ek praat nou spesifiek van WhatsApp – daardie klein groen ikon wat ons onontbeerlike metgesel geword het.

Is dit net ek of is dit eintlik bloot onbeskof om nie om iemand se WhatsApp te reageer nie? Ons is almal besig, maar wanneer daardie twee blou regmerkies eers verskyn en twee, drie of meer dae gaan verby sonder reaksie, begin ek so ’n gekriewel onder my vel kry. En ek praat nou van persoonlike boodskappe tussen vriende of kennisse – ’n goed bedoelde inloer (check in) – en nie ’n generiese-, massaboodskap nie.

’n Jonger vriendin (in haar dertigs) vir wie ek ’n mooi, waarderende boodskap op haar verjaarsdag gestuur het, het nie geantwoord nie. Ek kan dit nog in ’n mate verstaan, want ons fone word met die instroming van goeie wense ’n verlenging van jou arm met produktiwiteit wat daardie dag in die stof byt.

As jy egter vir twee maande niks hoor nie en weer ʼn WhatsApp-boodskap stuur om vinnig uit te vind hoe dit daar gaan en stééds met stilswye begroet word, begin mens wonder. Het ek dalk iets gedoen of gesê wat die persoon omgekrap het? Of erger: Is dit eintlik maar ’n eenrigtingvriendskap?

En so begin mens spoke opjaag. In dié geval besluit ek die vriendskap wat al oor jare kom, verwerdig ’n e-pos om sommer direk te vra wat fout is. Die reaksie was blitsig en my jong vriendin verstom. Sy verduidelik toe (opreg jammer) dat dinge holderstebolder is op vele fronte, máár voeg by dat die nie-reageer-nie eintlik ook maar ’n millennial-ding is…

Goed, ek weet hul rules of engagement is anders en dat die millenniërs nie so gesteld is op nieverbale kommunikasie nie, maar in my boekie strek goeie maniere verder as generasies én tegnologie. As iemand die tyd uit sy besige program neem om vinnig “hallo” te sê, verdien dit seer sekerlik ’n WhatsApp’ie terug – al is dit nie onmiddellik nie. Erkén immers daardie bietjie uitreik.

Die te-besig-ding is ’n onderwerp op sigself, want dit neem sekondes om ’n WhatsApp te tik, al is dit net om te sê: “Dankie vir jou boodskap; dinge gaan dol, maar ons haal binnekort in” of iets in der voege. Hóé moeilik kan dit wees?

En dan die emoji-ding. ’n Oulik en gepaste gesiggie of handgebaar kan cute wees, maar wees tog versigtig, want mens weet nooit hoe daardie bobbejaantjie geïnterpreteer gaan word nie.

O, voor ek vergeet: As jy vir iemand ’n WhatsApp stuur om te hoor hoe dit gaan en die persoon neem dan ’n minuut of twee om vir jou ’n lekker boodskap te terug te stuur, verdien hy/sy meer as net ’n enkele emoji terug. Al wat dit sê, is ek het nie eintlik, regtig belanggestel nie.

Of is ek ou skool?

Daar is duisende artikels oor WhatsApp-protokol (nogal) en van die moenies sluit in om nie saans ná nege of soggens voor sewe (ek sou dit selfs agtuur maak) te WhatsApp nie, tensy dit ’n noodgeval is. Dis stil- of familietyd wat ons almal so nodig het om ons fonteintjies weer vol te maak.

En een waarmee ek só saamstem, is die nodige respek vir ’n ander se datarekening. Moet asseblief nie ’n aanslag op my ou 3G-databondeltjie voer met ellelange video’s of ’n spul foto’s nie.

En dan die stemboodskappe: Hulle sê enigiets langer as tien tot maksimum 15 sekondes is so goed soos ’n podsending. Dalk effens oordrewe, maar hou daardie stempos kort en kragtig en wees bewus van die ontvanger se moontlike omgewing.

whatsapp

Foto: Pixabay.com

My laaste irritasie is daardie kani, biki, dki, ensovoorts.

Ek dink die Britse akteur, Tom Hiddleston, slaan die spyker op sy kop: “Die taal van digitale kommunikasie is ’n taal wat ons nog nie heeltemal verstaan nie. Mense sê die internet is soos die Wildeweste in soverre dat dit wetteloos is en ons nog nie uitgewerk het hoe om dit gestruktureer of moreel te maak nie.”

Die punt wat ék probeer maak, is dat ons dalk so met al die digitale kommunikasie nie meer régtig na mekaar luister nie.

As ons ore maar so flink was soos ons duime…

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

pinkie ·

My skoonsuster het my man afgeskryf omdat hy 4 ure geneem het om haar te antwoord.

Madeleine ·

Lizma; ek kon hierdie artikel self geskryf het! Stem so saam met jou!! Ek voel ook dat as jou w.a profiel dui ‘hi there i am using whats app’ dat dit maniere is om n boodskap terug te stuur; want ekt geen probleem met iemand wat nie n slimfoon wil besit nie maar wel met iemand wat nie terug n boodskap stuur nie; maar dieselfde persoon is dan baie keer baie aktief op facebook (het tyd vir die massas maar nie tyd om n persoonlike boodskap aan iemand terug te stuur nie)

Lizma ·

Hi Madeleine; dankie vir die terugvoering! Dis seker maar hoe dinge aan die verander is maar in die proses dink ek verloor ons tot ‘n mate daardie “connection” met mense want al die kommunikasie is so vinnig en kort en soos jy ook sê, meer as dikwels op die “massas” gerig.

Skoolgeld ·

Spyker opi kop! Ek self het net mooi gatvol geword vir eenrigting vriendskap! Jy stuur, en stuur, en somtyds is ñ duimpie net te veel gevra. Neewat, aleen het jy in die lewe in gekom en so gaan jy maar net weer uit! Vrou, kinders, ma, pa en mooiweersvriende!

Logika ·

Meisies wat my aanhoudend deur die werksdag WhatsApp met nonsens en dan ‘n gasket blaas as mens nie onmiddelik antwoord nie, moet asb groot word.

Mad ·

Ek in 1980 gebore so d millennials maak my ook soms bekommerd met hul maniere….
Ek archive en delete ou booddkappe ( soos epos) om seker te maak ek mis nie om een te ‘reply’ nie. Dalk n wenk aan iemand :)

Nico K ·

Ek dink julle lê wakker en bekommer julle oor nonsens. Ek gebruik my whatsapp waar en wanneer ek wil. En as jy goeie vriende met my is sal jy weet ons is vriende en nie daaroor tob as ek 5 minute neem om te antwoord nie. (Gewoonlik neem ek 5 ure om te antwoord. As ek net ‘n grappie ontvang antwoord ek glad nie. Veral as dit op ‘n “group” is.)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.