Gee luiheid ʼn uitklophou

Deur Mariska Nanni en Anja van der Merwe 

MissFit Boxing Studio in Pierre van Ryneveld. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Nooit het ons gedink bokshandskoene en die terme jab, straight, uppercut en hook, sal deel van ons alledaagse woordeskat — of fiksheidsroetine word nie. Heng, daar was skaars iets soos ’n fiksheidsroetine in ons lewe.

Om tyd te maak vir oefen as “jong, werkende vroue” in die groot Jakarandastad, was vir ons byna ’n onbegonne taak. Of só het ons onsself gerieflik oortuig.

Met die dag se werk agter die rug en die huis-toe-gaan-verkeer, is jou gô behoorlik uit teen die tyd wat jy tuiskom. Dan is die idee van springmielies voor die televisie met jou voete op die rusbank baie aanlokliker as ’n sweterige, uitputtende oefensessie.

En ja, ons het ook aan die begin van die jaar vir onsself gesê, “dié jaar gaan anders wees”: Ons gaan gesonder eet en gereeld oefen.

Kyk, ons het “probeer”: ’n Gratis oefenklas hier en daar, joga- en Zumba-lesse voor die televisie, ’n stap-en-kletssessie om die blok, springtouspronge in die motorhuis en ’n gimnasiumkontrak wat jy net af en toe benut om ’n paar Vitality-punte in te palm.

Danica Mitchell, ’n lid van MissFit Boxing Studio in Pierre van Ryneveld. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Anja van der Merwe en Mariska Nanni. (Foto: Corné Engelbrecht)

Nicole Fortune, ’n afrigter by MissFit Boxing Studio in Pierre van Ryneveld. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Dit was eers in April wat ons ernstig vir mekaar gesê het, tot hier toe en nie verder nie. Ons kan wraggies nie op die ouderdom van 26 en 33 blaas as ons die trappe by die kantoor uitklim nie!

Só beland ons toe by MissFit Boxing Studio in Pierre van Ryneveld, onder leiding van Corné Engelbrecht, wat onder meer ʼn kombinasie van boks, funksionele en CrossFit-oefeninge is.

Gerieflik, want dis naby ons huise, maar ook lekker omdat dit net vir vroue is – wat almal daar is vir ʼn gemeenskaplike doel: Om gesonder, sterker en fikser te wees.

MissFit Boxing Studio in Pierre van Ryneveld. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Met die pienk, swart en wit kleurskema van die studio en bokskryt het ons sommer dadelik bemagtig gevoel.

Ons oë het aanvanklik gerek vir die intimiderende bokssakke, -handskoene en ‑kryt in die hoek.

“Gaan ons mekaar dan nou ’n bloedneus moet gee,” het ons met ’n ernstige ondertoon geskerts.

Nie een van ons het al voorheen ’n bokshandskoen aangehad nie, wat nog te sê van in ’n bokskryt meeding.

Dit was gelukkig toe nie die verloop van sake nie.

Daar is plek vir tien vroue in elke oefensessie, en elkeen het ’n gemerkte plek in die studio waar ’n oefenmat, bokssak, handskoene en ander toerusting soos springtoue, gewigte, rekke en oefenbokse vir jou wag. Dié toerusting hang af van die roetine van die dag, wat daagliks aangepas word.

Nicole Fortune, ’n afrigter by MissFit Boxing Studio in Pierre van Ryneveld. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

’n Oefensessie by MissFit Boxing Studio in Pierre van Ryneveld. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

’n Oefensessie by MissFit Boxing Studio in Pierre van Ryneveld. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die afrigters het ons baie vinnig, sonder oordeel, op ons gemak gestel, en net soos ons, was daar baie ander nuwelinge in die klas wat ewe verward voorgekom het. Selfs die meer ervare, fikser vroue by dié studio het ons tuis laat voel en met elke druppel sweet aangemoedig.

Die uurlange sessie bestaan as ʼn reël uit drie dele: opwarming, wat jou reeds na jou asem laat snak, funksionele oefeninge wat onder meer op jou eie liggaamsgewig staatmaak, en dan ’n lekker bokssessie. Toemaar, dis net jy en die sak.

Jy moet wel kophou met die kombinasies van verskillende bokstegnieke soos jab, straight, left hook, right hook, uppercut en bob and weave.

Anja van der Merwe by MissFit Boxing Studio in Pierre van Ryneveld. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die afrigters maak jou egter mooi touwys oor hoe om die spesifieke bewegings en tegnieke te bemeester. Van die oefeninge kan selfs aangepas word vir dié van ons wat kwale soos swak knieë of rugprobleme het. Hulle is ook geduldig, waaroor ons baie bly is, aangesien ons albei maar ’n bietjie papperig in die arms is.

Ja, ons was wasbleek na ons eerste sessie ’n paar maande gelede. Die volgende dag was spiere seer wat ons nie eens geweet het ons het nie.

Pakkies wat MissFit Boxing Studio in Pierre van Ryneveld ten bate van Helpende Hand se Help Hetta-projek, die Fonds vir Bejaardes en FroueVonds ingesamel het. Foto: Verskaf

Nietemin het ons weeklikse bokssessies nou ’n hoogtepunt geword. Ons het ook ervaar dat ons na afloop van ʼn MissFit-sessie ʼn beter nagrus en baie meer energie het. Ons voel oor die algemeen gesonder en meer positief – en raak beslis vinniger van enige frustrasies ontslae wat in ons agterkoppe maal.

Meer oor MissFit Boxing Studios

Daar is 19 MissFit Boxing Studio-takke landwyd. Die studio’s bied verskillende kontrakopsies wat jou beursie die beste pas.

Sessies kan deur middel van ʼn app aanlyn bespreek word.

MissFit ploeg ook graag in die gemeenskap terug. Die Pierre van Ryneveld-tak waarby ons oefen, het onlangs ’n duisend rep-uitdaging (waarvoor ons nog nie braaf genoeg was nie) aangebied, waartydens pakkies ten bate van Helpende Hand se Help Hetta-projek, die Fonds vir Bejaardes en FroueVonds ingesamel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.