My Maandag-maksirok

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hennie Stander/ Unsplash)

Ek hou van eet. Genade, op papier lyk dit erger as wat dit is! Wat ek wil sê, is dat ek veral Sondae ʼn bietjie meer ag slaan op die smaak van wat in my bord is as wat ek noodwendig die kalorieë korrel vir korrel tel.

Ek hoef seker nie te verduidelik nie. Almal verstaan boerekos en -nagereg, en daardie kaas-, tamatie- en uiebroodjie wat op die plat rooster braai saam met die Sondagaand-fliek terwyl ons die laaste bietjie naweek probeer uitrek.

Die gevolg van hierdie semi-dekadente Sondae is dat ek op ʼn Maandag nou nie juis soos ʼn bruid voel nie. Ek het gewoonlik baie energie, maar ek steek graag die oorsprong daarvan weg onder die vloeiende en vroulike lap van ʼn maksirok.

Dit was juis op só ʼn Maandag, geklee in een van hierdie ou staatmakers in my klerekas, toe ek toevallig lees van ʼn modeontwerper wat van mening is dat maksirokke liewer moet verdwyn omdat dit voorkom asof vroue aangemoedig word om hul liggame weg te steek.

Ek was heel verontwaardig, amper soos ʼn ouer wat by Simon Cowell moet hoor haar kind se fluweelstem word in werklikheid met ʼn rasper vergelyk. Ek is regtig geheg aan daardie lang lappe wat my kas vol hang en wou nie toegee dat ek hulle juis gebruik om letterlik my lyf weg te steek nie.

Johnell Prinsloo (Foto: Verskaf)

Tog moet ek bieg, in my geval help my maksirok heel suksesvol om Sondag se (verbode) aartappel te verbloem. Maar tog is dit nie al nie, ek voel eintlik nogal goed wanneer ek my maksirok dra. Dit voel of my selfvertroue, wat natuurlik saam met Maandag se pofwange ʼn bietjie daal, juis deur hierdie skeppings aangevul word; ʼn klein bietjie minder selfbewustheid (en skuldgevoel) sodat ek ʼn klein bietjie breër kan glimlag.

Ek is een van daardie mense wie se bui, meer male as nie, direk aan my voorkoms gekoppel is. En ek kan nie gemaklik lyf wys as ek nie gemaklik voel oor dié lyf nie.

Ek is egter in ʼn tweestryd. Ek is regtig lief vir oefen. Ek draf graag, gaan gimnasium toe en doen pilates, maar ek het ook drie besige kinders, ʼn werk wat soms intensief kan wees en my studies wat baie tyd in beslag neem. Ons probeer ook om familie en vriende te sien en het natuurlik nou en dan ander verpligtinge. Tussendeur werk ons ook heelhartig aan die huwelik.

Tussen kosmaak en huiswerk is daar soms net tyd vir ʼn vinnige piksoen, terwyl ek ander kere amper te moeg is om te praat en op die rusbank neerval.

Gegewe die lewenstyl gebeur die oefen nie so gereeld soos wat ek sou verkies nie, en die kos is nie so gesond soos wat dit dalk moet wees nie… en ek hou ook regtig baie van biltong, koek en sjokolade.

Dit is eintlik nogal ʼn uitdaging om ʼn gebalanseerde lewe te handhaaf, om nie een ding af te skeep nie en ʼn ander matig te nuttig. En selfdissipline word nie juis vir my makliker hoe ouer ek word nie.

Tog kla ek nie. Ek is mal oor my besige lewe en nou en dan saam met ʼn tikkie soet en sout. Ons maak elkeen keuses en het prioriteite, en elkeen van ons s’n verskil. Ons is anders saamgestel en skoonheid blom in elkeen se uniekheid.

Ek, wat Johnell is, blom dalk nie so gereeld in die gimnasium soos wat goed is vir my nie, maar ek blom beslis ná elke naweek in my pragtige Maandag-maksirok!

Meer oor die skrywer: Johnell Prinsloo

Johnell Prinsloo is 'n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Patch ·

Ek is ook baie lief vir my maksirokke, en dis presies wat ek daarmee doen…ek steek my lyf weg maar dis ook gemaklik en druk en skaaf nie oor al die rolletjies nie. Ek glip dit aan en siedaar, gemak vir die hele dag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.