ʼn Formidabele mens

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Oumagrootjie Kitty Smit van Modderfontein was formidabel. Sy was ʼn nooi Krige van Piketberg se omtrekke en volgens die familie is sy familie van onse Corné Krige van baie geslagte later. En ons alger weet mos Corné was ʼn formidabele rugbyspeler. Maar nou sit wonder ek oor “formidabel” en ek wonder of die jonger gaardes almal die woord verstaan. Want netnou reken julle ouma Kitty het ʼn mooi vorm gehad of sy was lekker op “form” soos deesdae se rugbyspelers.

Laat dink my toe aan die jong boerekryger van destyds met die Tweede Anglo-Boereoorlog. Of soos oupa Kammie Lauscher van Blouberg gemeen het: “Dis die Ingelse oorlog.” Volgens hom het hulle kom krap waar dit nie gejeuk het nie en dus was dit hulle baklei. In ieder geval; vandag is ons mos korrek so ons hou maar by die Tweede Anglo-Boereoorlog anders sit ons later met die “Tweede Suid-Afrikaanse Oorlog” – al het Suid-Afrika toe nog lank nie eers bestaan nie.

Maar terug by ons storie. Die jong kryger kry toe paar dae verlof om bietjie te loop help met die werkery op die plaas. Kyk met so ʼn bakleiery is die bekwame mansmense mos almal voort en die swaar werk van bees brand en koringoes bly agterweë. Dus moes die ou boere-generale maar die werkbare manne elke dan en wag huiswaarts stuur om darem weer bietjie te loop boer ook. So sit hulle die aand om die kombuistafel en die huismense vra hom nou uit oor die Kakie-soldate. “Nee,” reken hy, “die Ingelse soldate is maar saf en loop altyd op sulke groot bonnels dan kan mens hulle lekker raakskiet. Verder is daar ʼn hoop waens wat tente en kos moet saam-karwei en verder kan ook hulle ook g’n stuk raakskiet nie.”

Volgens hom is die Ingelse is nie eintlik goeie soldate nie. “Maar,” voeg hy by, “julle moet hulle vrouens sien. Formidabele vroue-goed. Hulle loop met sulke kniehoogte skirts wat so rondswaai in die wind. Verder kielie hulle ʼn vark of ʼn donkie of ʼn ding dat hy ten hemele skrou as hulle marsjeer. Die goed het sulke weglê snorre en hulle is half-rooi in hulle gesigte. Maar as hulle storm, dan kom hulle aan en dan moet man raakskiet en vasstaan.”

Dís wat formidabel beteken.

Nou ouma Cato of liewer “Antie Kitty” was ook so ʼn mens. Skynbaar het die hele Sandveld op aandag gespring as sy in die omtrekke was. Daar is gepoets en gespoe en opgevryf in die wonings en die waens is reg getrek want sy had geen erg aan ʼn deurmekaarspul nie, vergeet nog van ʼn vuilspul.

Só vertel die mense my van ʼn basaar een dag doer in Dwarskersbos se omtes – die Smitte se gronde sit mos net so ietwat noord van Dwarskerbos rigting Elandsbaai. Die manne braai vleis en drink gemmerbier om die dorstigheid darem se effe te lawe. Om hulle aandag af te trek van die rugbreek-werkery raak hulle toe aan die praat oor kwaai goed. Dis nou makgemaakte wilde diere of plaasdiere wat effe wild is. Die ene het te vertel van sy mak bo’jaan wat so mens-moeilik is en die ander ou het ʼn gemmerkat wat sy lyf hond hou en so rammel hulle aan. Een ou oom het die gepraat so sit luister en toe daar so ʼn effe breekkans kom, toe vat hy die woord: “Newe. Ek het nou julle gepraat oor kwaai mak-goed mooi geluister. Maar julle kan maar loop lie. Die kwaaiste mak ding in die Sandveld is Ant Kitty Smit van Modderfontein.”

Ouma Kitty was formidabel. Ek verlang sommer vir haar want lyk my ons sal weer die Drakensberge moet loop oor en dan soek mens haar soort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.