’n Swakkerige getuienis

Gauteng-skoolregistrasie-2016

Argieffoto.

Ek was nou die dag die eerste keer in 24 jaar weer by Hoërskool Randburg waar ek destyds matriek geskryf het. Pragtige skool. Terwyl ek tussen die klaskamers deurstap, is ek oorweldig deur herinneringe, heimwee en spyt.

Ek het nie eintlik van skool gehou nie, en ek dink nie skool was ooit vreeslik mal oor my nie, maar daar was baie genade!

Later by die opening in die saal vertel ek die kinders hoe ek in my matriek-Junie-eksamen ’n gemiddeld van 34% behaal het. Jy moes daai jare 40% hê om deur te kom. Ek het alles gepluk. In die eindeksamen het ’n wonderwerk gebeur en het ek darem goed genoeg gevaar om te gaan swot – net-net.

Die punt wat ek wou maak, was dat ’n wedstryd nie in die eerste helfte gewen word nie, en dat die Bybel allermins ’n boek vol suksesverhale is. Dat God ’n God van genade is wat mense tweede kanse gee. En dat genade nie beteken dat Hy namens ons besluit nie, maar dat ons weer ’n kans kry om te kies.

’n Paar jaar gelede moes ek by ’n ander skool praat, dié keer by ’n geleentheid vir matrieks en hul ouers. Dit was kort voor die rekordeksamen. Ek het gevoel ek moet eerlik wees met die kinders (en ek vereenselwig my uit die aard van my skoolloopbaan meer met die potensiële druipelinge as die presteerders), toe vertel ek maar dieselfde storie.

Ná my boodskap vat die skoolhoof die mikrofoon en vertel met trane in sy oë dat hy ook ’n belydenis het. Niemand weet dit nie, sê hy effe hees, maar hy het wiskunde in matriek gedruip. Ek weet nie van die kinders en die ouers nie, maar ék het dadelik beter gevoel! Het hom amper gehigh-five.

Ek en die hoof was nie daai dag eerlik omdat ons wou snaaks wees nie, maar omdat ons besef het dat ons genade gekry het en nie kon lieg en maak of ons so oulik is soos almal gedink het ons is nie. My plan was nie om vir die kinders te sê, “Maak maar droog, jy sal weer ’n kans kry,” nie, maar eerder om dié wat reeds drooggemaak het (en met wie die onnies moed opgegee het) daarop te wys dat alles nie verlore is nie.

En ons móét eerlik wees. Hulle sal ons net glo wanneer ons praat oor die mooi goed, maar as ons ook eerlik is oor die lelike goed!

Eiegeregtigheid help niemand nie.

Die feit bly, ek maak droog – al sou ek so graag teen hierdie tyd al ’n engeltjie wou gewees het.

Baie het gebeur vandat ek genade gekry het in daardie matriekjaar, maar as ek eerlik is, het ek vandag nóg meer issues as toe. Ek voel skuldig oor lui wees en worry en voorgee, oor ongeloof, bygeloof en mense sonder geleenthede, armes en haweloses (veral as dit reën), vuil gedagtes en te min stiltetyd, oor geld geblaas op vakansies, kos, kajakke en reise, oor selfsug en te min moeite met eensames en my eie eiegeregtigheid, oor ander se toewyding, my blote praatjies en my linkerhand se trots oor wat my regterhand doen, oor wat mense van my dink teenoor wie en wat ek werklik is, oor bome en dassies, my hoogmoed teenoor rassiste, oor lugbesoedeling en visse wat ek doodgemaak het en nog gaan doodmaak, oor te veel eet en drink, voorgee en lieg, vloek en oordeel en begeer en my ego se ewig onvervulde dors … hel, ek het genade vandag meer nodig as ooit!

Natuurlik hoef ons nie heeltyd skuldig te voel oor alles nie – liefde is ’n baie beter motivering as skuldgevoelens – maar dit help soms om tot stilstand te kom en net weer ’n slag eerlik met jouself te wees.

In ons Echo-gemeenskap het ons ’n spreekwoord wat lui: “Rather go to God with your brokenness than with your promises.” As daar een konstante lyn regdeur die Nuwe Testament is, is dit dat Jesus nooit iemand wegwys wat in gebrokenheid na hom toe kom nie.

Richard Rohr het eenkeer opgemerk: “If you feel that you cant go to God in perfection, you can always go to Him in brokenness.” Dit is waarskynlik een van die groot redes waarom die verhaal van die ryk jong man in al drie sinoptiese Evangelies geplaas word direk nadat Jesus sê ons moet soos klein kindertjies wees. Hulle was statusloos en het geen aanspraak op grond van verdienste of prestasies gehad nie – hulle kon die koninkryk net as ’n geskenk ontvang.

Paulus sê hy roem eerder in sy swakhede. Hy het vasgehou aan die woorde: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (1Kor 12:9).

Hoe hierdie “tweede kanse” wat die Here ons gee presies werk, is ’n misterie. Iemand het dit eenkeer probeer verwoord deur op te merk dat die Here ’n plan A vir ons lewe het. As dit nie werk nie, het Hy net so ’n goeie plan B. Lets face it, sê hy toe, party van ons is al by plan F of H …

Jy kan seker baie sê oor die ou se teologie; al wat ek kan sê, is: Prys die Here vir ’n groot alfabet!

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chante ·

Hoekom ‘comment’ mense nooit op die mooi en die goeie goed nie? Is dit dan nie kommentaar werd nie? Dankie vir die mooi boodskap! Ek geniet dit om elke dag die mooi dinge te kom lees want die sleg versondig net mens se siel!

Nic Grobler ·

Ek stem saam met Chante. Dankie vir die troosvolle artikel Jaco en baie seen ook toegebid met die mooi werk wat julle daar by ECHO doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.