Nuwe gesindheid ons enigste redding

Deur Marcel Vosloo

Die Suid-Afrikaanse flag. (Foto: Swiss Educational College/Unsplash)

Suid-Afrika is op die oomblik, as ons aan ʼn boksgeveg dink, die bokser wat ʼn kwaai hou teen die kop gekry het, nou op sy knieë op die krytvloer staan, en nie lekker weet waar hy is en hoe hy uit sy penarie gaan kom nie.

Daar word baie vergaderings gehou, daar word baie beplan en gepraat, maar oënskynlik verander niks. Daar is net meer moorde, net meer betogings, net meer agteruitgang in dienslewering en daar is net meer gendergeweld en misdaad in die algemeen. Rassespanning is aan die toeneem.

So ʼn tydjie gelede het ons nog gemeen dat ʼn paar veranderinge aan landswette en beter polisiëring, al was wat ons nodig het om ons land weer op koers te kry. Intussen, en dit nog na die ramp van Covid-19 wat die wêreld getref het, blyk dit dat die grootste gedeelte van die bevolking hul vertroue in die regering, ons wetstoepassing en ekonomiese beplanning vir die toekoms verloor het.

Dit klink of almal net swartgallig oor die land en die toekoms is. Die vraag is of daar ʼn ommekeer kan plaasvind? Kan omstandighede so verander dat Suid-Afrikaners positief en opgewonde oor die toekoms kan word, weer veilig kan voel, positief oor die ekonomie kan word, welwillendheid teenoor elke ander landsburger kan hê?

Op die oomblik is daar klaarblyklik net een laaste uitweg vir ʼn nuwe positiewe kyk na ons land en sy toekoms. Dit is nie ʼn nuwe wet op arbeidsverhoudinge nie. Dit is nie die ontdekking van ryk minerale bronne nie. Daar is net een hoop vir Suid-Afrika en dit is dat elke Suid-Afrikaanse burger innerlike vernuwing sal ervaar. Ons hoop lê nie nou by uiterlike veranderinge nie, ons hoop berus uitsluitlik daarop dat daar ʼn nuwe gees/ gesindheid in die land sal ontstaan.

ʼn Voorbeeld uit die sportwêreld

Baie Suid-Afrikaanse ondersteuners het in 2019 en 2023 gewonder of Suid-Afrika se rugbyspan die wêreldbeker kon wen. Tog het hulle dit gedoen. Dr. Danie Craven het gesê dat 50% van die uitslag van ʼn rugbywedstryd bepaal word deur dit wat vooraf in die kleedkamer plaasvind. Dit was baie duidelik dat Rassie en Jacques Nienaber die Bokspan geestelik op die regte plek gekry het: Hulle het ʼn duidelike plan vir die hele toernooi gehad, daar was goeie onderlinge verhoudinge en hulle het vir mekaar gespeel. Natuurlik was almal topfiks, daar is baie gesweet en hard gewerk om dit te bereik wat hulle wel bereik het. Die hele span het ingekoop op hul gesamentlike visie, en hulle het vir hul land se eer op die veld gedraf.

As gelowige is my gebed dat daar in Suid-Afrika ook ʼn wedstrydplan of visie sal ontstaan waaroor elke inwoner in hierdie land opgewonde sal word.

Wanneer ons die visie kan kry dat ons “Span Suid-Afrika” is, kan die hele gees in hierdie land verander word. Wanneer mense begeesterd raak oor ons wonderlike land en oortuig kan word dat ons almal deel is van hierdie span, met ʼn gees van samewerking en waardering van mekaar, kan ʼn wonderwerk plaasvind in hierdie land wat ons lief het.

Met ʼn nuwe gevoel van eenheid en waardering vir mekaar, sal ons mekaar respekteer en mekaar se voordeel soek. Ons sal wil help met werkskepping en mekaar se liggame en eiendom respekteer. Elkeen sal besef die land se wette is tot jou naaste en jou eie voordeel, daarom sal wetsgehoorsaamheid drasties toeneem. Ons sal nie meer gefokus wees op die verlede en ons onderlinge verskille nie, maar ons sal fokus op die toekoms waarin elkeen se geluk en voordeel gesoek sal word. Ons sal kyk na ons span se sterkpunte en elkeen help om sy/ haar volle potensiaal uit te leef.

Wanneer daar ʼn landswye aksie van stapel gestuur word, kan ʼn vuur aangesteek word in ons mense se harte wat tot ʼn volksbeweging kan lei. Die uitkoms van so ʼn aksie kan wees dat daar ʼn burgerlike beweging van positiewe Suid-Afrikaners tot stand kan kom wat die hele spektrum van ons land verteenwoordig.

ʼn Goeie wegspringplek kan wees om ʼn verskeidenheid van huidige en vroeëre sporthelde uit te nooi om, saam met die nodige kundiges, ʼn leiersgroep te vorm wat die land en sy mense kan inspireer tot ʼn begeesterde en doelgerigte Suid-Afrika. Laat welwillende sakelui so ʼn beweging borg. Laat ons ʼn inspirerende lied kry wat die temalied is om die volk saam te snoer en te inspireer.

Deel van so ʼn projek kan wees om aan elke leerder in die land ʼn klein SA-vlaggie te gee met die leuse “Span Suid-Afrika” en dalk kernfrases soos “respekteer jou spanlede, werk hard, wen saam”.

ʼn Moontlike 10-punt-“wedstrydplan” vir elke spanlid:

  1. Wees lief vir en trots op Suid-Afrika.
  2. Besef hoe belangrik jou bydrae is.
  3. Sien om na mekaar, want ons is ʼn span.
  4. Waardeer jou werk en help werkloses om werk te kry.
  5. Wees eerlik en betroubaar.
  6. Respekteer elke ander persoon se menswees, eiendom en liggaam.
  7. Respekteer elke gesagsdraer.
  8. Koester gesinslewens.
  9. Bou saam ʼn veilige omgewing waar almal met vreugde kan rondbeweeg.
  10.  Doen alles in afhanklikheid van God.

Kom ons span saam en wen saam!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mari ·

Gaan gee jou mooi voorstelle vir die EFF. Dan kyk ons wat dink hulle daarvan.

Oom Charles ·

Watter van die voorstelle is vir jou ‘n probleem of reken jy is onuitvoerbaar?
Ek dink ek kan punt 2 hierbo met hartlike vriendelikheid by jou aanbeveel.

Republikein in die Wes Kaap ·

“Respekteer elke gesagsdraer”? Dink nie so nie. Die SA ekonomie moet groei om werk te verskaf en mense se lewensomstandighede te verbeter. Die huidige regime het nie ‘n idee hoe om dit te doen nie. Trouens, hulle is gelukkig met die situasie.

Truth2bfree ·

The right attitude can change everything.
It takes only one person to inspire a whole community…

Oom Charles ·

Almal sal dalk nie met elkeen van Marcel se 10 punte saamstem nie, maar kies dan daardie wat jy dink jou pas en doen dit.
Elke poging is nuttig en welkom.
(Weereens punt 2).

Piet ·

Span Suid-Afrika kan rustig voortgaan. Ek het niks teen hulle nie. Die Afrikaner moet egter introspeksie hou en ‘n eie toekoms begin begeer, verbeel en bou. Om ‘n trotse Suid-Afrikaner te wees sal ons altyd slawe van die meerderheid hou. Ons moet nuut dink om iets nuut te kan doen. Vryheid gaan span Suid-Afrika nie vir ons gee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.