Oor konings en regeerders

Prof. Johan Janse van Rensburg.

Deur prof. Johan Janse van Rensburg

Die hele wêreld het met leedwese van koningin Elizabeth II se dood kennis geneem. Nie almal stel egter in die koninklike familie van Engeland belang nie en baie sal geen meegevoel hê nie. Tóg bewys die geskiedenis dat koningin Elizabeth uitsonderlik was in haar dienslewering aan haar land en volk.

Met haar inhuldiging het sy beloof om haar lewe daaraan te wy om haar land te dien en sy het dit met integriteit en lojaliteit gedoen. Haar kinders was nie toonbeelde van onbesproke karakters nie. Tog het die koningin self nooit deur haar optrede of besluite die land in die skande gesteek nie. Sy was geliefd en het respek van die grootste deel van die bevolking van die land en die wêreld afgedwing.

Dit was anders met die geskiedenis van Israel, die uitverkore volk van God. God was hulle Koning, totdat die volk daarop aangedring het om (soos ander volke) ʼn eie koning te hê (1 Samuel 8). Dit het beteken dat hulle God se heerskappy verwerp en verruil het vir een soos hulle. Al was Saul volgens die beskrywing van die Bybel ʼn besondere jong man, met ʼn goeie getuigskrif (1 Samuel 9:1-2), was sy lewe, regering en besluite vir die volk katastrofaal. Sy lewe het in vernedering en skande geëindig. Ander konings van Israel het dieselfde patroon van eiewilligheid en skande gevolg.

Daarmee is ons midde-in die huidige scenario van wêreldlike regerings wat skande op skande begaan. Suid-Afrika is (soos Engeland met hulle gewese premier) in die verleentheid oor gerugte wat uiters kommerwekkend is. Dit val swaar en ongemaklik op die gemoed van ontstelde landsburgers wat steeds (ná jare van verleentheid) met die nalatenskap worstel van oudpresident Jacob Zuma en staatskapingsregeerders wat die land in verwoesting gelaat het.

Wat Suid-Afrika getref het, is finansiële bankrotskap, paaie wat verwoes is en infrastrukture – soos Eskom, Transnet, die poskantoor en vele meer – wat geruïneer is. Moet ons vir die ANC daarvoor dankie sê?

Jesus het gesê dat ons, as burgers van die koninkryk, aan die regeerder (keiser) moet betaal wat hom toekom en aan God wat Hom toekom. Daarbenewens beveel die Skrif dat die owerheid gehoorsaam moet wees omdat hy tot ons beswil regeer. Die regering het selfs die mag en plig om ongehoorsames te straf (Romeine 13).

Dit gaan sit egter maar bitter swaar in die krop van vuisvoos burgers van ʼn land wat met ʼn onbevoegde regering of ‘koning’ opgeskeep sit. Hoe ons as burgers aan só ʼn regering gehoorsaam moet wees en volgens die vyfde gebod respek moet bewys, is nie maklik om teologies te verantwoord nie.

Van die vyfde gebod gepraat. Dit is die enigste gebod met ʼn belofte. Wie vader en moeder en almal wat oor ons gestel (Heidelbergse Kategismus, Sondag 39), eer, sal lank bly woon in die land wat die Here gee. Maar wat as dit nie meer moontlik is om só ʼn regering te eerbiedig en te gehoorsaam nie? Hoe lank moet burgers wat net begeer om in vrede en veiligheid te leef, met kragonderbrekings, moord, verkragting en geweld tevrede wees, terwyl die regering opsigtelik onmagtig is om sy onderdane te beskerm en ter wille te wees?

Nee, ons kan nie weer na die Bybelse teokrasie terugkeer nie. Sal ons ooit weer in ons land ʼn dispensasie van vrede onder ʼn verantwoordelike regering hê? Sal die erwe van ons vaders regtig vir ons kinders erwe kan bly? In vergelyking met die talle skandes van wêreldlike leiers kan ons gerus ʼn bietjie meer erkenning gee aan ʼn Britse monarg wat kop en skouers bo wêreldleiers uitgestaan het.

Verder kan Christene steeds met trots en dankbaarheid onderdanig en gehoorsaam wees aan die Koning van alle konings, Jesus Christus. Sy lewe en woord is onbesproke en sy integriteit is bo verdenking. Aan Hom is alle mag in die hemel en op die aarde gegee (Matteus 28:18), totdat Hy kom om sy heerskappy ook op aarde te vestig. Slegs dán sal daar ware vrede wees (Openbaring 21).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lourens CFG ·

As ons aan die huidige regeerder (keiser) van ons land moet betaal wat hom toekom, behoort ons eintlik amper geen tax te betaal nie, en selfs dít sal te veel wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.