Singapoer se lesse en SANEDI se merietevoorbeeld

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

So nou en dan beleef ʼn mens as joernalis ʼn storie wat bemoedigend is. Dit het ek onlangs ervaar tydens ʼn besoek aan SANEDI – die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie Ontwikkelings-instituut.

Voorheen het ek nie eens geweet van die bestaan van dié staatsonderneming nie. Jy sal kwalik elders ʼn instansie kry waar jy so ʼn versameling flinke breinkrag byeen sal vind. Dis almal goed gekwalifiseerde wetenskaplikes wat hulle voltyds toespits op navorsing oor oplossings vir die land se knellende energie-kwellinge.

Dit is daarom dat ʼn mens kan sê dié klomp is op meriete in hul poste aangestel. (Jy weet natuurlik nie hoeveel ander verdienstelike kandidate daar was nie.) Meriete as voorwaarde om te kan kwalifiseer vir ʼn pos is ʼn term wat dikwels rondgegooi word deur veral witmense. Dis natuurlik so omdat die beleid van swart bemagtiging ras bo meriete oorweeg. By SANEDI blyk dit dat die kennerpersoneel in eie reg by die dinktenk aangestel is. Dis soos dit hoort en hopelik sal dit natuurlikerwys al hoe meer so ontwikkel. Want meriete is fundamenteel noodsaaklik vir ekonomiese sukses.

Dit het my laat dink aan Singapoer.

ʼn Mens moet seker maar die land nie te veel ten hemele aanprys nie en uitwys dat die koloniale moondheid, Brittanje, met die vestiging van infrastruktuur, in ʼn mate bygedra het tot die land se merkwaardige ekonomiese ontwikkeling. (Dit het voormalige leier van die DA, Helen Zille, gou agtergekom toe sy gedurf waag het om dié stelling in ʼn twiet te maak).

Maar waarheid is dat dié eilandstaat, met sy vyf miljoen mense, ná onafhanklikwording in 1965 met rasse skrede vooruit gegaan het onder sy sterk leier, Lee Kuan Yew. Hy het geglo dat sukses bepaal sou word deur die ontwikkeling van die land se enigste natuurlike hulpbron – sy mense. Ek het die voorreg gehad om die land te besoek. By ʼn kleuterskool het ons gesien hoe jong kinders van vier jaar oud, twee-twee saam sit by ʼn rekenaar en basiese vaardighede aanleer.

Na kinders hulle kwaliteit onderwys deurloop het, word die bestes gekies om met studiebeurse by die beste universiteite in die wêreld te gaan studeer. Hulle konsentreer op die studierigtings wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Vir elke jaar wat ʼn student geborg word, moet hy/ sy twee jaar vir die staat werk. So word verseker dat net die bestes staatsamptenare word. Die ander pilare van sukses is: meriete, pragmatiese leierskap, die vasvat van korrupsie en om te leer by ander lande.

Dis alles baie eenvoudige beginsels wat ’n groot verskil kan maak.

By SANEDI is daar ʼn meriete-basis wat momentum kan kry. Maar dis nodig dat groter samehorigheid verkry word. Byvoorbeeld: op die oomblik is daar vier ministeries wat besluite neem oor die ontwikkeling van energie-beskikbaarheid. SANEDI, ʼn staatsonderneming, se politieke baas is die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, en nie die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, nie. Dit terwyl Mantashe koel staan teenoor die gedagte om steenkoolkragstasies vinnig uit te faseer. Daarteenoor het SANEDI die spesifieke opdrag om alternatiewe bronne van energie te ontwikkel om te voldoen aan internasionale ooreenkomste vir die vermindering van kweekgasse.

Dan is daar die minister van wetenskap en innovasie, dr. Blade Nzimande, en die nuutaangestelde minister vir elektrisiteit, “Sputla” Ramokgopa. Daarby is daar verskeie ander instansies wat hulle besig hou met energie-navorsing, soos die Nasionale Navorsingstigting (NRF) en die WNNR.

Dis maar ʼn deurmekaar prentjie en getuig nie van pragmatiese leierskap nie. Hoewel daar “pockets of excellence” is, sal baie meer gedoen moet word om al die goeie werk te koördineer. Die sweep sal geklap moet word om korrupsie en sabotasie uit te roei. Dit was juis in die energiesektor waar dié euwels hoogty gevier het.

Die laaste les van Singapoer, is die handhawing van ʼn bestendige politieke bestel. As die kiesers aanstaande jaar ʼn duidelike mandaat aan die politieke partye gee, kan ʼn stabiele politieke bestel daaruit voortvloei. Intussen kan ons gewaardeerde wetenskaplikes die werklikhede ontbloot en oplossings help ontwikkel vir die uitdagings waarmee ons worstel.

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan Tredoux ·

Singapoer is Singapoer. n Paar slimkoppe het nooit n goeie land gemaak nie. En hier in “sunny South Africa” is ek bevrees die buiteland het ander bedoelings as n goeie uiteinde.

chris ·

Ja die grootste verskil is die natuurlike hulpbronne.Singapore se natuurlike hulpbron is sy mense .Daarin stel die res van die wereld nie soseer in belang nie .Ons natuurlike grondstowwe en minerale soos die van die Ukraine is vir hulle meer aanloklik

Groen Ghoen ·

Die droom dat SA die “Tiere van Suid-Oos Asië’ navolg het na seker vier dekades ‘n stille dood gesterf? Ek was ook in Singapoer en die ander “Tiere.” Gemeet teen hul sterk, besielende leiers asook die werksetiek van kinders tot bejaardes….. is al wat SA kan doen, om te bly droom van ‘n “beter lewe vir almal.”

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Kaapse metro, Stellenbosch en Paarl kan dieselfde pad stap en ‘n stadstaat word. Ja, die migrante in die suide is ‘n probleem, maar dit kan opgelos word binne een generasie. Die res van die Wes Kaap kan ‘n tradisionele federasie vorm.

annie ·

Met ‘n bevolking van 5 miljoen teenoor ons seker amper 70 miljoen, die uitlanders bygereken, as ons eendag die vorige sensus se uitslae gaan kry, is ‘n vergelyking bra onmoontlik en die rasse totaal verskillend, maar ja, as ons ooit eendag dinge anders kan wil doen, sal ons sekerlik groei sien. Ons sien ook in die artikel hoeveel oorvleueling daar is. Waaroor die vreeslike gedink en gedink?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.