Tel jou woorde – Begryp lettergrepe

Argieffoto

Een van die groot kopkrappers vir onderwysers, leerders en dié se gefrustreerde ouers, is lettergreepverdeling. Dit het ʼn doolhof, ʼn martelinstrument en ʼn uitvangparade geword waarmee jong sprekers geterroriseer word, sonder dat enigeen werklik weet waarom hulle moet weet hoe om woorde in lettergrepe te verdeel.

Kom ons begin net eers by die begin: Wat is ʼn lettergreep, en hoe verskil dit van ʼn sillabe (ook genoem “klankgreep”)?

Daar is baie ooreenkomste tussen ʼn lettergreep en ʼn sillabe (albei bevat byvoorbeeld ten minste ʼn klinker/vokaal), vandaar die verwarring. Maar ʼn lettergreep is iets wat ʼn mens op grond van die letters (spelling) bepaal, terwyl ʼn mens ʼn sillabe op grond van die klank (uitspraak) vasstel. Daarom stel ʼn mens lettergrepe altyd in letters voor en klankgrepe eintlik slegs in fonetiese skrif. ʼn Lettergreep is ʼn groepering van letters volgens bepaalde beginsels, ʼn klankgreep is ʼn groep klanke wat met ʼn enkele asemstoot uitgespreek word. As ʼn mens die verdeling van plasse x plase as voorbeeld gebruik, raak hierdie onderskeid duidelik. Die lettergreepverdeling van die twee woorde is onderskeidelik plas-se en pla-se. Die klankgreepverdeling vir plasse is [plɑ.sə] en vir plase is dit [pla.sə].

Daar is ook verwarring oor die verskil tussen lettergrepe en woorddele (ook genoem “morfeme”). Lettergrepe het (weereens) te doen met spelling, woorddele met die morfologie van die woord. In ʼn woord soos gehuur loop die verdeling parallel, want die lettergreepverdeling is ge-huur en die woord bestaan morfologies uit ‘n voorvoegsel ge- en ‘n stam huur. Daarteenoor is ʼn woord soos beginsel se lettergreepverdeling ­be-gin-sel maar dit bestaan uit die stam begin en die agtervoegsel -sel.

Nou vir die hoekom: Hoekom moet leerders woorde in lettergrepe kan verdeel? (Wenk: Die antwoord is nie “want dit staan so in die kurrikulum” nie.) Die antwoord lê in wat kennis van lettergrepe leerders in staat stel om te doen:

  • Woorde word aan die einde van ʼn reël volgens lettergreepverdeling afgebreek, en dit is noodsaaklik dat Afrikaanse leerders dit handmatig kan doen, want sommige woordverwerkingsprogramme breek alle tale volgens Engelse reëls af.
  • ʼn Mens moet lettergrepe verstaan as jy taalreëls volledig wil begryp, want baie spelreëls berus op oop en geslote lettergrepe. As jy dit verstaan, kan jy byvoorbeeld vir ʼn kind verduidelik waarom letters wat ʼn bepaalde klankwaarde voorstel in oop lettergrepe ʼn kappie kry (soos skêre), maar dieselfde klankwaarde in ʼn geslote lettergreep (soos sterre) nie met ʼn kappie aangedui word nie.

Dit is dus van kardinale belang dat leerders lettergreepverdeling moet begryp, maar dis ook belangrik dat ons nie lettergreepverdeling verhef tot ʼn stuk verabsoluteerde kennis wat in ʼn grammatikale lugleegte bestaan nie. ʼn Woord word byvoorbeeld nie in gewone teks op sestien plekke afgebreek nie, dit word net een keer afgebreek, en al wat ʼn leerder moet kan doen, is om die sinvolste plek te kry om die woord af te breek. ʼn Vraag soos “verdeel die woord kloosterskooluniform in lettergrepe” is dus eintlik onsinnig. Vra eerder: “Waar sou jy die woord kloosterskooluniform afbreek?” (en aanvaar dan meer as een korrekte antwoord) Of nog beter: Gee vir kinders ʼn stuk teks wat volgens Engelse reëls geformateer is, en laat hulle die afbreekfoute regmaak.

Maar goed, hulle moet dan steeds weet hoe die reëls vir Afrikaans werk om sulke korreksies te kan aanbring. Die beste plek om dié reëls op te spoor, is in hoofstuk 1 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls.

Ek gee hier ʼn werkwyse (in ʼn bepaalde volgorde wat ʼn leerder myns insiens moet kan toepas:

  1. Moenie eenlettergrepige woorde probeer afbreek nie. Onthou dat diftonge nie woorde meerlettergrepig maak nie; meervoudsvorme beteken ook nie outomaties dat die woord meerlettergrepig geword het nie. Die woord leeu het net een lettergreep. Die woord leeus
  2. AWS 1.3-1.5 bepaal dat woorde altyd heel eerste tussen betekenisvolle of verstaanbare dele afgebreek word om die arme leser te help om steeds kop te hou al staan daar halwe woorde aan die einde van reëls. Dit beteken daar word gebreek tussen dele van samestellings (lang-broek; sy-tjalie; mors-jors) en tussen voegsels en herkenbare woorddele (be-arbei en nie *bear-bei nie; ver-enig en nie *vere-nig of *ve-renig nie; klooster-agtig en nie *kloo-steragtig, *kloosterag-tig of *klooste-ragtig nie). Hierdie reël word toegepas voor die reëls in c) en d) hier onder toegepas word.
  3. AWS 1.6-1.7 gee leiding oor lettergreepverdeling tussen klinkers (letters wat vokaalklanke voorstel). Die reëls maak voorsiening vir drie moontlike afbreekplekke
    • Waar klinkers en diftonge langs mekaar staan, is die lettergreepverdeling tussen die klinker en diftong en nie tussen die twee letters van die diftong nie, bv. vloei-end en nie *vloe-iend nie; ge-ui-ter en nie *geu-i-ter nie. (Kyk AWS 1.6.)
    • Waar twee klinkers langs mekaar staan wat nie een spraakklank weergee nie en ook nie ʼn diftong vorm nie, vind die verdeling tussen die twee klinkers plaas, bv. be-angs, ge-o-lie la-er, spi-oen. (Kyk AWS 1.6.)
    • Waar daar twee klinkers langs mekaar staan waarvan een ʼn skryfteken het, vind die lettergreepverdeling tussen die klinkers plaas. Voorbeelde wat jy hier kan gebruik, is lê-er en cliché-agtig. Onthou veral dat ʼn deelteken se funksie juis is om die begin van ʼn nuwe lettergreep aan te dui – uiteraard is die lettergreepverdeling dan altyd voor die klinker met die deelteken. In so ʼn geval kan die klinker wat normaalweg met die deelteken geskryf word en wat nou op die nuwe reël staan met of sonder die deelteken geskryf word. Voorbeelde wat jy hier kan gebruik, is droe-ër of droe-er; spie-ël of spie-el. (Kyk AWS 1.7.)
  4. AWS 1.8-1.16 gee leiding oor die afbreek van woorde by medeklinkers (letters wat konsonantklanke voorstel).
    • By ʼn groepering van drie medeklinkers waarvan die eerste een ʼn s is, word daar voor of ná die s afgebreek: fru-streer of frus-treer; di-skreet of dis-kreet. Onthou dat die reël nie vir woorde soos manuskrip en disproporsioneel gaan geld nie, want jy gaan die reël oor betekenisvolle dele eers toepas en dan afbreek by manu-skrip en dis-proporsioneel. (Kyk ook AWS 1.8.)
    • By ʼn groepering van twee medeklinkers waarvan die tweede ʼn l of ʼn r is, word daar voor die groepering afgebreek: ba-klei; kamoe-fleer; pro-gram; ru-briek. Onthou weer eens dat voorbeelde soos bok-lam en skaap-ram nie hier van toepassing is nie, want dit is reeds volgens betekenisvolle dele verdeel. (Kyk ook AWS 1.9)
    • Die lettergreepverdeling vind plaas tussen twee identiese medeklinkers: bal-let; kop-pie, em-mer; bot-tel. (Kyk ook AWS 1.10.) Dis veral in hierdie opsig dat lettergreepverdeling en sillabeverdeling radikaal verskil.
    • Verdeel tussen ʼn n en ʼn g, ongeag of dit een klank is of nie: ban-ger; hon-ger; win-gerd; in-ge-nieur. Moenie vergeet dat gevalle soos bang-broek en lang-tand as gevolg van die reël oor betekenisvolle dele anders werk nie. (Kyk ook AWS 1.11.)
    • AWS 1.12 en 1.13 dek gevalle waar ʼn s en ‘n j langs mekaar staan. Die verdeling vind plaas tussen die twee medeklinkers as dit twee spraakklanke voorstel (dis-junk; as-jas), maar as dit een klank voorstel, is die verdeling daarvoor of daarna (bro-sjure; ma-sjien; kasj-mier).
    • AWS 1.14 en 1.15 handel oor die verdeling by woorde of woorddele wat eindig op \-djie\ of \-tjie\. Die maklike verdeling is waar die -tjie die verkleiningsmorfeem is. Daar breek ons voor die -tjie af: skool-tjie; jan-tjie; vou-tjie. Waar die oorspronklike woord op ʼn d of ʼn t eindig en die verkleiningsvorm met -jie gemaak word, breek ons tussen die d/t en die -jie: hond-jie; band-jie; mat-jie; fout-jie. Waar dit nie ʼn verkleiningsvorm is nie of nie duidelik is of die -djie/-tjie ʼn verkleiningsvorm is of nie, vind die verdeling ook tussen die d/t en die j plaas: baad-jie; mand-jie; biet-jie.
    • AWS 1.16 handel oor woorde waarin daar ʼn x voorkom. Die verdeling vind daarna plaas: Alex-andryns; Mex-ikaan.

Twee laaste opmerkings:

  • Wees versigtig om met “maklike” reëls vir lettergrepe vorendag te kom in ʼn poging om leerders te help, maar wat hulle dan eintlik van die wal in die sloot help. Dit is byvoorbeeld nie korrek om te beweer dat die lettergreepverdeling by ʼn enkele medeklinker altyd voor die medeklinker plaasvind nie. Dit is meestal so, maar nie altyd nie: ka-ros; la-tent; ge-na-de; u-ni-form; bi-la-te-ra-le, maar ver-e-wig; pas-op; on-eer. Onthou maar altyd van betekenisvolle dele.
  • Sommige gevalle is as gevolg van historiese redes (lettergreepverdeling wat in die verlede ook op grond van sillabegrense gedoen is) problematies. Die verdeling van va-naand teenoor van-og-gend is so ʼn voorbeeld.

VivA-groete

Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Zelda ·

Kinders van vandag sukkel want hul het nie van kleins af lettergrepe geleer by ma nie…….

hoe / veel / keer / moet / ek / sê / maar / jy / lui / ster / mos / nie. Dit was op ons boude ritme gehou. In die klas het jy jou hande geklap met afbrekings.

Lekker lag ek nou as ek terug dink

Andrea ·

Stem nie saam met ‘plasse’ se fonetiese transkripsie nie. Lae voorvokaal [a] en die [e] moet die neutrale schwa vokaal wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.