Verbruikersake: Verskaffersooreenkomste vir skoolklere gestop

skoolskoene-2

(Argieffoto)

Eksklusiewe verskaffersooreenkomste vir skoolklere sal van nou af nie meer toegelaat word nie nadat die Mededingingstribunaal ʼn instemmingsooreenkoms met ʼn verskaffer van skoolklere bevestig het om nie meer eksklusiewe ooreenkomste met skole aan te gaan nie.

Vir verbruikers beteken dit dat jou kind se skool jou nie meer kan dwing om jou kind se skoolklere by ʼn bepaalde kleinhandelaar of verskaffer te koop nie. Indien daar meer as een verskaffer is, sal daar meer mededinging wees wat prys betref en jy kan koop by die een wat jou die beste prys bied.

Die instemmingsooreenkoms is nou ʼn bevel van die tribunaal en dra dieselfde gewig as ʼn bevel van die hooggeregshof en sluit in dat die verskaffer, McCullagh & Bothwell, bestaande eksklusiewe verskaffingsooreenkomste ook dienooreenkomstig moet aanpas.

Die Mededingingskommissie het tot die gevolgtrekking gekom dat die eksklusiewe ooreenkomste tussen McCullagh & Bothwell en verskeie skole heel moontlik ʼn oortreding van artikels 5(1), 8(a) en/of 8(c) van die Wet op Mededinging is, maar McCullagh & Bothwell het nie saamgestem nie.

McCullagh & Bothwell het nie skuld erken nie en aangevoer dat dit nie in enige onwettige optrede betrokke is wat die wet oortree nie, soos beskryf in die ooreenkoms.

Eksklusiewe verskaffingsooreenkomste nie meer toegelaat

McCullagh & Bothwell moet nou seker maak dat enige nuwe verskaffingsooreenkomste met skole nie ʼn klousule bevat wat dit aanwys as die enigste verskaffer van skoolklere nie. Die verskaffer moet ook bestaande verskaffingsooreenkomste verander deur ʼn afsnydatum by te voeg van nie later as vyf jaar vanaf die datum wat dit onderteken is nie.

Nuwe verskaffingsooreenkomste moet ook die tydsduur beperk tot nie meer as vyf jaar nie en McCullagh & Bothwell mag ook nie in die toekoms onbepaalde ooreenkomste aangaan nie. McCullagh & Bothwell het takke in Hyde Park, Sandton, Fourways en Sacred Heart.

Die kommissie maak dit in die ooreenkoms duidelik dat McCullagh & Bothwell van die begin van die ondersoek af goed saamgewerk het en reeds begin het om bestaande ooreenkomste te verander.

Volgens die kommissie sal die belange van verbruikers en mededingers beter gedien word deur nou veranderings in die mark te verseker, deur ondernemings te kry van respondente oor hul toekomstige optrede, eerder as om lang uitgerekte regsoptrede in te stel wat dieselfde doel het.

Die bevestiging van die ooreenkoms tussen McCullagh & Bothwell en die kommissie is deel van die kommissie se pogings om mededinging aan te wakker, struikelblokke in die pad van mededinging te verwyder en laer pryse te verseker in die skoolklerebedryf.

Klagtes oor die pryse van skoolklere

Die kommissie het hope klagtes gekry oor die hoë pryse van skoolklere en eksklusiewe ooreenkomste wat verskaffers gekeer het om die mark te betree voor 2015 en het verskeie pogings aangewend om hierdie kommerwekkende kwessie op te los voordat dit in 2017 ʼn ondersoek van stapel gestuur het.

Verskeie skole en vervaardigers en verskaffers van skoolklere is ondersoek vir moontlike oortredings van die Wet op Mededinging. Die ondersoekers het gevind dat langdurende eksklusiewe verskaffingsooreenkomste dit moontlik gemaak het vir die verskaffers van skoolklere om verbruikers te verplig om hoë pryse te betaal en ander moontlike verskaffers uit die mark te hou wat kan meeding om klante.

Hierdie ooreenkomste het beteken dat klante skoolklere net by een verskaffer kon koop, aangesien hulle ʼn gevange mark was, wat die risiko verhoog het dat die verskaffer hoë pryse kon vra.

Die ondersoek het dan ook bevind dat die eksklusiewe verskaffingsooreenkomste mededinging voorkom of verminder deur voornemende skoolklereverskaffers uit die groeiende mark te hou.

ʼn Openbare weergawe van die ooreenkoms met meer inligting sal mettertyd beskikbaar gestel word op die tribunaal se webwerf by www.comptrib.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rooikoos ·

Maak soos die res van die wereld en skaf skool uniforms heeltemal af.

ABDP ·

Dit sal ‘n duidelike skeiding tussen arm en ryk kind bring, want wat van die arme kind wat nie kan Billabong, Nike, Addidas, Puma klere bekostig nie. Buitedien met watter tipe modes sal die kinders nie alles by die skool aan kom nie. Hoe keer jy ‘n “spaggetti top” van ‘n dogter wat alle vroulikheid bokant die middel verkoop? Geen seun sal kan konsentreer nie. Wat van die seun wat met ‘n broek oder sy heup wat sy agterstewe se gleuf tentoonstel? Dit is om van naar te word. Hou skool klere eerder eenvoudig (al is dit net ‘n ordentlike denim broek met ‘n golfhemp). Skool uniforms bring eenheid en speel ‘n belangrike rol in die samelewing.

ᛄᚪᚾ ·

Ag asseblief, dit is ‘n onsinnige redenasie. Daar is in ieder geval `n “duidelike skeiding tussen ryk en arm”, kyk byvoorbeeld na die voertuie waarmee leerders by hul skole afgelaai word. Watse “eenheid” bring skool uniforms? Watse “belangrike rol” speel dit in die samelewing? Op universiteit het die dames aangetrek wat hul wou, en dit het nie my aandag van my studies afgetrek nie. Daardie selfde kinders met hul swak mode keuses en gebrek aan… dekking gaan so geklee winkels en restaurante toe.

Die kostes van die skole se uniforms is uitspattig, my seun se doelgemaakte skool sweetpak kos R800, slegs beskikbaar by die skool se klerewinkeltjie. En dis nie ‘n ekslusiewe privaatskool nie, dis ‘n gewone voorstedelike Afrikaanse staatskool. Hoe op dees aarde moet die “arm” ouer daardie sweetpak bekostig?

Racheltjie Debeer ·

Skoolklere is belaglik duur. My seun se skool vra R140 vir ‘n paar kouse, net oor dit ‘n geel en blou strepie inhet. R290 vir ‘n gewone kortmou withemp want die skoolwapen is gedruk op die sak. R300 vir ‘n atletiek hempie en R250 vir die atletiek kortbroek.
En ons mag SLEGS by die skool se klerewinkel koop. Dis GLADNIE in die winkels beskikbaar nie.

Pierre ·

Maak die uniforms dieslefde wit hempie met onderwys departement wapen en grys broekie, hoekom elke skool sy eie kleur van klere kry, as PEP dit vir so goedkoop kan verkoop kan ander ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.