Verbruikersake: As die aanlynprys verkeerd is

(Argieffoto)

Meer verbruikers as ooit doen nou hul inkopies aanlyn and daarom moet hulle ook gewoond raak aan ’n hele nuwe manier van doen, soos dat aanlyn winkels ook foute kan maak met pryse wat hulle ná die tyd mag regstel. Waar mens in ’n winkel byvoorbeeld ’n produk se prys kan bevraagteken soos om te vra of dit regtig soveel afgemerk is, bestaan hierdie geleentheid nie wanneer jy aanlyn koop nie. Wat is jou se regte dan wanneer jy iets bestel en die aanlyn winkel laat weet die prys is eintlik twee keer soveel? Ina Opperman het gaan kyk wat sê die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste hieroor.

’n Verbruiker het by die ombudsman gekla oor ’n rekenaarspeletjie by ’n aanlyn-winkel wat aangebied is teen R499. Sy bestelling is bevestig, maar ’n paar dae later het hy ’n e-pos ontvang wat hom inlig dat sy bestelling gekanselleer is omdat daar ’n fout ingesluip het op die webwerf en dat sy geld terugbetaal word.

Die verbruiker was nie tevrede met die terugbetaling nie en het aangedring op die produk teen die prys wat aangedui is, maar die aanlyn winkel het geweier. Volgens die aanlyn winkel is hy nie verplig om goedere te verkoop teen die prys wat aangedui word nie, aangesien daar ’n fout was met die pryse op die webwerf sodat al die pryse gehalveer is.

Die fout is dadelik reggestel nadat die winkel daarvan bewus geword het en die verskoning is aan die verbruiker gestuur. In sy webwerfvoorwaardes, waartoe almal wat op die webwerf iets koop, moet instem, dui aan dat, terwyl alle moontlike sorg getref word om te verseker dat die pryse wat aangedui word, korrek is, alle foute reggestel sal word indien daar ’n fout met ’n prys is, maar dat hy nie verplig is om die produk teen die verkeerde prys te verkoop nie of verantwoordelik is vir enige skade as gevolg daarvan nie.

Artikel 43

Verbruikers se regte in hierdie verband word beskerm deur artikel 43 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies. Artikel 43 handel oor inligting wat die aanlyn winkel vir jou as verbruiker moet gee. Hierdie inligting sluit in:

  • Die winkel se volle naam en regstatus;
  • Fisieke adres en telefoonnommer;
  • Webwerf en e-posadres;
  • Lidmaatskap van enige selfregulerings- of akkreditasieliggaam en die kontakbesonderhede;
  • Enige kode of gedragskode waartoe die winkel verbind is en waar die verbruiker dit kan kry;
  • Indien die winkel ’n regspersoon is, die registrasienommer, die name van die mense in beheer en die plek van registrasie;
  • Die fisieke adres waar die winkel regsdokumente kan ontvang;
  • Voldoende beskrywing van die produk sodat die verbruiker ’n ingeligte keuse kan maak;
  • Die volle prys, wat vervoerkoste, belasting en enige ander tarief of kostes insluit;
  • Hoe jy betaal vir die produk wat jy koop;
  • Enige voorwaardes of ooreenkomste, wat waarborge insluit, wat van toepassing is op die transaksie en waar jy daardie voorwaardes kan sien, aflaai en elektronies stoor;
  • Hoe lank dit sal neem om die produkte te stuur of af te lewer;
  • Hoe jy die koopgeskiedenis van jou transaksie kan kry;
  • Hoe jy te werk moet gaan om goedere terug te stuur, om te ruil of om jou geld terug te kry;
  • Enige alternatiewe klagte-oplossingskode waaraan die winkel voldoen en waar om dit te kry;
  • Die veiligheidsprosedures en privaatheidsbeleid met betrekking tot jou betaling, betalingsinligting en persoonlike inligting; en
  • Jou regte kragtens artikel 44 van die Wet waar van toepassing dat jy eers die elektroniese transaksie moet kan nagaan, foute regmaak en kan onttrek van die transaksie voordat jy finaal iets bestel.

As jy wil kanselleer

Indien die winkel nie jou regte respekteer om kragtens artikel 44 te kanselleer nie, kan jy die transaksie binne 14 dae nadat jy die goedere ontvang het, kanselleer deur die goedere terug te stuur. Die winkel moet dan jou geld terugbetaal behalwe die direkte koste om die goedere terug te stuur.

Ombudsman se antwoord op die klagte

Volgens die ombudsman kan die winkel dus in sy voorwaardes aandui wanneer die transaksie voltooi is, solank dit onder die verbruiker se aandag gebring is. Selfs al sluit die winkel nie so ’n voorwaarde in nie, sal die verbruiker die fout in die prys moet aanvaar, tensy die verskil so groot is dat die verbruiker moes besef het dat dit ’n fout was.

Volgens die aanlyn winkel waaroor die verbruiker gekla het, was die prys van die speletjie aangedui as omtrent die helfte van wat dit gewoonlik kos. Die verskil in prys is dus so groot dat die verbruiker moes agtergekom het dat dit ’n fout is.

Die ombudsman het daarom bevind dat die winkel nie verplig was om die speletjie aan die verbruiker te verkoop teen die verkeerde prys nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KhoiKhoi ·

Die Wetgewing is uiteraard nie van toepassing op internasionale transaksies nie.
So koop Suid Afrikaans!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.