Verbruikersake: As jy nou jou vastetermynkontrak wil kanselleer

kontrak

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Wanneer jy jou werk verloor of net ’n deel van jou salaris ontvang, soos wat nou tydens die Covid-19-pandemie gebeur, is finansiële kundiges se raad om te sny aan uitgawes op luukshede, soos vermaak en uitgawes op dinge soos gimnasiumgeld en duur selfone. Die redenasie is dat jy kan oefen sonder dat dit jou geld kos en dat jy net soveel met ’n goedkoop selfoon kan doen as die heel duurste een. Dit beteken dus dat jy ’n hele paar vastetermynkontrakte sal moet kanselleer om kos op die tafel te sit. Ina Opperman verduidelik hoe om vastetermynkontrakte te kanselleer en wat jou regte is.

Baie verbruikers het al ’n bloutjie geloop en deur hul nekke betaal om ontslae te raak van vastetermynkontrakte, ten spyte van die beskerming wat die Wet op Verbruikersbeskerming bied. Vastetermynkontrakte waaruit verbruikers nou wil wegkom, is hoofsaaklik vir DStv, duur selfone en gimnasiums. Verbruikers oorweeg dit ook om ander vastetermynkontrakte vir satellietopsporing vir motors, sekuriteitsdienste by die huis en kleuterskole te kanselleer.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 14 and regulasie 5 van die Wet beheer die gebruik van vastetermynkontrakte in Suid-Afrika en dui aan hoe lank die kontrak mag wees en hoe verbruikers te werk moet gaan om dit kanselleer.

Hoe lank nog?

Regulasie 5 van die Wet bepaal dat vastetermynkontrakte net 24 maande lank mag duur, tensy jy instem tot ʼn langer tyd omdat die verskaffer kan bewys dat dit tot jou finansiële voordeel sal wees om so ʼn kontrak te teken.

As jy wil kanselleer

Volgens Artikel 14 kan jy ʼn vastetermynkontrak kanselleer wanneer dit verval sonder om ekstra te betaal, behalwe vir die laaste bedrag verskuldig aan die einde van die kontrak. Hierdie artikel ken aan jou die volgende regte toe:

  • Diensverskaffers moet jou binne 40 tot 80 kantoordae voordat jou kontrak verval, op skrif in kennis stel dat die kontrak gaan verval en dit duidelik maak of die prys wat jy maandeliks betaal, dieselfde gaan bly indien jy die kontrak hernu;
  • Diensverskaffers moet jou die keuse gee om met die kontrak voort te gaan op ʼn maand-tot-maand-grondslag, onderworpe aan belangrike veranderinge soos prys, tensy jy dit duidelik maak dat jy die kontrak wil kanselleer op die datum waarop dit verval, of instem om die kontrak te hernu vir nog ʼn termyn.

Kansellasie voor die vervaldatum

Die Wet maak daarvoor voorsiening daarvoor dat jy ʼn vastetermynkontrak kan kanselleer voordat dit verval.

Wat jy moet doen: Jy moet die verskaffer 20 dae voor die tyd op skrif kennis gee dat jy wil kanselleer.

Wat die verskaffer moet doen: Die verskaffer kan kansellasiegeld hef vir goedere wat verskaf is, soos ʼn selfoon, dienste verskaf of afslag wat toegeken is tot op die datum van kansellasie. Dit beteken dat, indien jy vooraf betaal het (soos vir ʼn gimnasiumkontrak), moet die verskaffer jou terugbetaal vir die dienste en goedere wat jy nog nie ontvang het nie.

Direkte bemarking: Indien jy egter ʼn vastetermynkontrak uitgeneem het toe iemand jou gebel en die kontrak aangebied het en jy nie eers self gebel het om navraag te doen nie, kan jy die kontrak binne vyf dae op skrif kanselleer sonder enige kansellasieheffing, aangesien die Wet voorsiening maak vir ʼn afkoelperiode van vyf dae vir direkte bemarking.

As die diensverskaffer kanselleer: Die diensverskaffer kan ook die kontrak kanselleer binne 20 dae nadat hy jou kennis gegee het dat, indien jy nie die vasgestelde bedrag betaal of hou by ander voorwaardes van die kontrak nie, dit gekanselleer sal word.

Fynskrif: Diensverskaffers mag nie kansellasievoorwaardes in fynskrif onderaan ʼn kontrak wegsteek nie, aangesien die Wet ook fynskrif en onbillike kontrakterme, veral dié wat vereis dat jy jou regte ingevolge die Wet opgee, verbied.

Kansellasiegeld

Volgens die Wet moet die verskaffer die kansellasieheffing bereken op grond van:

  • die bedrag wat jy nog skuld;
  • die waarde van die transaksie tot en met die datum van die kansellasie;
  • die waarde van die goedere, soos ʼn selfoon;
  • die waarde van die goedere wat jy kan teruggee, soos ’n gebruikte selfoon;
  • die lengte van die kontrak;
  • die verbruiker se voordele en nadele;
  • die aard van die goedere of dienste;
  • die lengte van die kennistydperk;
  • die moontlikheid om iemand anders te kry om binne die kennisgewingtyd die kontrak oor te neem; en
  • die algemene praktyk in die betrokke bedryf.

Die diensverskaffer mag egter nie ’n kansellasietarief hef wat dit vir jou onmoontlik sal maak om jou reg tot kansellasie uit te oefen nie. Wanneer jy ʼn vastetermynkontrak sluit, moet die diensverskaffer dit ook duidelik maak dat ʼn kansellasietarief gehef sal word indien jy kanselleer voordat die kontrak verval.

Wanneer is hierdie Wet nie van toepassing nie?

Artikel 14 is nie van toepassing op ooreenkomste tussen maatskappye, individue en banke en konsessies nie en vastetermynbeleggings is ook uitgesluit.

Kla hier

Kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of die verbruikersakekantoor in jou provinsie oor vastetermynkontrakte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.