Verbruikersake: Begroot is al wat gaan help

begroting-finansies-ekonomie-bestuur-stevepb-pixabay

Argieffoto (Foto: Stevepb/Pixabay)

Terwyl baie verbruikers verwag het om ʼn beter finansiële jaar te beleef as die vorige twee jaar, het dit ongelukkig toe nie so gebeur nie. Alles is duurder, rentekoerse styg en ʼn mens se geld raak al hoe minder. Die syfers styg vir mense wat nie meer hul skuld kan betaal nie en verbruikers is raadop. Al wat jy nou kan doen, is om ʼn begroting op te stel en daarby te hou. Ina Opperman verduidelik hoe om ʼn begroting op te stel.

Die afgelope paar jaar het verbruikers dikwels laat voel dat hulle nie in beheer is nie, maar ten minste kan jy jou finansiële lewe beheer met ʼn begroting. ʼn Begroting is kortliks ʼn opsomming van jou inkomste en uitgawes per maand en help jou om nie meer te bestee as wat jy verdien nie. Jou begroting sal egter slegs werk indien jy eerlik is oor jou inkomste en uitgawes.

Wanneer jy na jou begroting kyk, kan jy sien hoeveel geld jy inkry en hoeveel jy bestee op vereiste uitgawes, soos versekering of jou huislening of huur, en hoeveel jy uitgee op uitgawes wat jy kan beheer, soos uiteet en vermaak.

Dit is belangrik om jou begroting op skrif te doen, of dit nou in ʼn boek is, op jou rekenaar of op ʼn app op jou foon. Jou begroting word op die ou end ʼn finansiële instrument waarmee jy kan beplan hoeveel jy maandeliks gaan spaar en bestee en jou bestedingsgedrag aanpas en verander.

Dit is belangrik om te onthou dat begrotings op balans berus. Wanneer jy daarin slaag om jou besteding in een kategorie te verminder, het jy dus meer om uit te gee op ʼn ander kategorie.

Begin met jou begroting

Begin om jou begroting op te stel deur al jou betalingsdokumente bymekaar te maak. Dit sluit in bankstate, beleggingsdokumente, onlangse stadsraadsrekenings, salarisstrokies, kredietkaartrekeninge, kwitansies vir die laaste twee maande en state vir jou huis- en motorlenings. Gebruik dan hierdie inligting om uit te werk hoeveel jy gemiddeld per maand bestee.

Sit nou jou inkomste by

Nou moet jy uitwerk hoeveel inkomste jy per maand kry. Indien jy ʼn salaris verdien wat maandeliks dieselfde bly nadat belasting afgetrek is, gebruik die netto bedrag, maar as jy vir jouself werk of ook ander bronne van inkomste het, soos onderhoud vir ʼn kind of rente, tel dit by en skryf dit neer as die totale inkomste per maand. As jou inkomste wissel wanneer jy vir jouself werk, gebruik die maand wat jy die minste verdien as die gemiddelde inkomste.

Nou vir die lys van jou maandelikse uitgawes

Daarna maak jy ʼn lys van al jou maandelikse uitgawes, wat die volgende betalings moet insluit:

  • Huisleningpaaiemente of huur
  • Motorpaaiemente
  • Versekering
  • Kruideniersware
  • Stadsraadsrekening vir grondbelasting, water en elektrisiteit
  • Vermaak
  • Persoonlike versorging, soos jou haarkapper of skoonheidskundige
  • Uiteet
  • Kindersorg, soos skool, naskoolse versorging en naskoolse aktiwiteite
  • Vervoerkoste, soos buskaartjies en taxigeld
  • Reiskoste
  • Studenteleningpaaiement
  • Spaargeld

Hier gaan jou jou bankstate, kwitansies en kredietkaartstate van die laaste drie maande handig te pas kom om al jou uitgawes te bepaal.

Vaste en veranderlike betalings

Jou vaste uitgawes is verpligte betalings waarvoor jy maandeliks dieselfde bedrag betaal, soos jou huislening of huur, motorlenings, internetdiens, stadsraadsrekening en skoolgeld. Hier kan jy ook ander betalings bysit wat maandeliks hoofsaaklik dieselfde bly en sit ʼn bedrag by om te spaar indien jy elke maand dieselfde bedrag spaar.

Veranderlike uitgawes is uitgawes wat wissel van maand tot maand, soos kruideniersware, petrol, vermaak, uiteet en geskenke. Sorg dat jy ook ʼn kategorie het vir nooduitgawes vir onvoorsiene gebeurtenisse soos ʼn motor wat breek of ʼn yskas wat weens beurtkrag ophou werk.

Gebruik jou dokumente vir die laaste drie maande om te skat hoeveel jy per maand op elke kategorie bestee.

Jou maandelikse inkomste en uitgawes

Wanneer jy alles neergeskryf het, vergelyk jou inkomste en uitgawes. As jou inkomste meer is as jou uitgawes, is dit goed, want dan kan jy die ekstra geld gebruik om skuld vinniger af te betaal of jy kan dit spaar. Dit is ook ʼn goeie idee om die begrotingsformule van “50-30-20” te gebruik.

Volgens hierdie formule moet uitgawes waarsonder jy nie kan klaarkom nie, die helfte van jou begroting uitmaak, terwyl uitgawes op ander kategorieë 30% moet wees en jou spaar- en skuldbetalings 20%.

As jou uitgawes egter meer is as jou inkomste, beteken dit dat jy te veel uitgee en jou besteding moet inkort en verander.

Verander jou besteding

Wanneer jou uitgawes meer is as jou inkomste, moet jy jou veranderlike betalings verminder. Vind kategorieë waar jy minder kan uitgee, soos om minder dikwels uit te eet of skrap selfs ʼn kategorie soos satelliettelevisie en stroom liewer programme.

Indien die gaping tussen jou uitgawes en inkomste baie groot is of as jy baie skuld het, sal dit waarskynlik nie voldoende wees om jou veranderlike uitgawes te verminder nie. Jy sal dan moontlik jou vaste uitgawes moet verminder en jou inkomste moet vermeerder vir jou begroting om te klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Hoe begroot jy, waar bespaar jy, hoe spaar jy vir jou oudag as alles maandeliks aanhou styg? Diesel het amper verdubbel sedert verlede jaar die tyd, kospryse het maklik 15% verhoog die afgelope jaar, inflasie styg, rentekoerse styg terwyl inkomste stagneer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.