Verbruikersake: Dís hoe skuldberading in donker tyd kan help

(Argieffoto.)

Al kan die meeste mense weer werk toe gaan, het baie verbruikers erge finansiële skade gely gedurende die staat van inperking toe mense afgelê is of met ʼn verminderde salaris oor die weg moes kom. Nou maak ons reg om weer met ons lewe aan te gaan, maar die finansiële skade is steeds daar. Verbruikers het agterstallige skuld waarvan hulle moeilik ontslae kan raak. Ina Opperman verduidelik hoe skuldberading kan help om jou skuldlas te hanteer.

Baie huishoudings het al voor die aanvang van die afsonderingstyd met skuld gesukkel en is nou nog erger daaraan toe. Suid-Afrikaanse verbruikers wat te veel skuld het, kan al sedert 2007 skuldberading kies as ʼn manier om hul skuld af te betaal en hul terugbetalings hanteerbaar te maak, sodat hulle weer van voor af kan begin en ʼn skoon kredietrekord opbou, sê adv. Kedilatile Legodi, waarnemende bestuurder van opvoeding en kommunikasie by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR).

Legodi raai verbruikers wat ʼn inkomste verdien aan om skuldberading te oorweeg as ʼn oplossing voordat hul bates, soos huise en motors, teruggeneem word.

Onthou eerstens

  • Slegs mense wat ʼn inkomste verdien en diegene wat nie ook onder skuldadministrasie is nie, kom in aanmerking vir skuldberading.
  • Sodra jy aansoek gedoen het om skuldberading, kan jy geen verdere krediet kry nie en dit sal ook aangeteken word by die kredietburo’s.

Voordele van skuldberading

  • Dit bied jou die geleentheid om jou skuld af te betaal sonder dat jy nog skuld moet maak.
  • Indien jy aansoek doen om skuldberading voordat kredietverskaffers regstappe teen jou doen om jou te dwing om te betaal, word jy beskerm teen regstappe en die kredietverskaffers kan nie beslag lê op jou bates nie.
  • Verpligte uitgawes soos kruideniersware, skoolgeld en ander belangrike uitgawes word in ag geneem voordat die skuldberader besluit hoeveel jy kan bekostig om op jou skuld af te betaal.
  • ʼn Geregistreerde skuldberader onderhandel namens jou met jou kredietverskaffers om jou afbetalings te verminder, gegrond op jou bestaande inkomste.

Só werk skuldberading

  • Jy kan kies om elke maand ʼn enkele betaling te doen deur ʼn Betalingsverspreidingsagent wat geregistreer is by die NKR. Die agent het ʼn mandaat om jou skuldberadingsgeld in te samel en aan kredietverskaffers oor te betaal.
  • Skuldberading word aangebied deur skuldberaders wat geregistreer is by die NKR. Jy kan skuldberaders se registrasie nagaan op die NKR se webwerf by ncr.org.za, of bel die NKR by 0860 627 627.
  • Skuldberading is nie gratis nie. Die skuldberader moet die koste daarvan vooraf vir jou verduidelik. Die fooie wat gehef mag word, is beskikbaar op die NKR se webwerf onder “Guidelines”.
  • Wanneer die bevel vir skuldberading bekragtig is, kan jy net uit die proses van skuldberading tree indien jy ʼn klaringsbrief van die skuldberader het.

Werd om te weet

  • Die herstrukturering van jou skuld word deur ʼn landdroshof van die Nasionale Verbruikerstribunaal goedgekeur, wat jou die gemoedsrus gee dat die hersaamgestelde betalings waaroor onderhandel is, vasgestel is en so sal bly terwyl jy onder skuldberading is.
  • Daar is geen beperking op die bedrag wat jy skuld om onder skuldberading geplaas te word nie.
  • Daar is geen beperking op die termyn van skuldberading nie, aangesien dit afhang van jou finansiële omstandighede, soos skuld, inkomste en lewenskoste.
  • Kies ʼn skuldberader wat ʼn kantoor naby jou het sodat jy die kantoor kan besoek as daar probleme is.
  • As jy binne gemeenskap van goedere getroud is, kan jy nie individueel om skuldberading aansoek doen nie. Jy en jou eggenoot moet dit saam doen.
  • Dit gaan jou langer vat om jou skuld af te betaal omdat jy maandeliks minder betaal.

Wanneer al jou korttermynskuld betaal is

Indien al jou korttermynskuld betaal is, net jou huislening oorbly en jou huislening ook op datum is, sal jy ʼn klaringsertifikaat kry en alle kredietinligting van rekeninge wat onder skuldberading is, sal van jou kredietrekord verwyder word.

Vra jou skuldberader:

  • Sy naam en registrasienommer.
  • Wat is die gevolge van skuldberading?
  • Hoe gaan jou skuld hersaamgestel word?
  • Hoeveel gaan dit kos?
  • Wat is jou regte en verpligtinge sodat jy ingeligte keuses kan maak?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mallie ·

Dis n klomp bog. Die skuldberaders kyk eers na hulle sal voor hulle jou skuldeisers in kennis stel. Ek weet van twee gevalle waar bv Absa dreig om mense te ITC omdat hulle nie hul hiis kan betaal nie en die ander geval is Telkom. So moenie kom nonsens praat oor skuldberaders nie. Hulle is n klomp boewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.