Verbruikersake: Hof vir klein eise

(Foto: pixabay)

Min verbruikers het die geld en die tyd om iemand wat hulle ingeloop het, vir ’n bedrag minder as R20 000 hof toe te sleep. Daar is egter ’n goedkoper en vinniger manier om jou geld terug te kry: die hof vir klein eise (HKE). Jy het nie ’n regsverteenwoordiger nodig nie en jy kan jou saak stel in Afrikaans. Ina Opperman verduidelik wat jou te doen staan.

Wie mag eis?

Enige individu wat ouer is as 18, mag ’n eis instel deur die hof vir klein eise, terwyl kinders jonger as 18 deur ’n ouer of voog bygestaan moet word. Niemand dwing jou om ’n eis vir minder as R20 000 eers by die HKE in te dien nie: dit is jou keuse. Maar maak eers seker of die persoon van wie jy eis, die bedrag sal kan betaal. Dit mors net tyd om van iemand te eis wat werkloos is en geen bates het nie.

Van wie mag jy eis?

Jy kan deur die HKE ’n eis instel teen enigiemand en dit sluit maatskappye, beslote korporasies en verenigings in. Jy kan net nie eis van die staat en munisipaliteite in hierdie hof nie.

Hoeveel kan jy eis?

Jy kan ’n bedrag tot R20 000 eis sedert die minister die maksimum bedrag onlangs verhoog het. As jou eis meer beloop, kan jy besluit om die res af te skryf en R20 000 te eis in die hof vir klein eise.

Waarvoor kan jy eis?

  • Geld wat jy vir iemand geleen het: as jy vir iemand nie meer as R20 000 geleen het nie en die lener betaal nie die geld terug soos ooreengekom nie, kan jy die geld in die HKE terugeis;
  • Goedere waarvoor jy betaal het, wat nie afgelewer word nie: as jy iets by iemand anders of ’n winkel gekoop het, soos meubels of ’n stuk grond wat nie meer as R20 000 gekos het nie, kan jy jou geld of die goedere eis in die HKE;
  • Huurgeld wat agterstallig is: wanneer iemand eiendom by jou huur en die agterstallige huurgeld beloop nie meer as R20 000 nie;
  • Eise wat gegrond is op likwiede dokumente: as iemand jou ’n skuldbrief, huisverband of tjek gee vir minder as R20 000 en nie die geld oorbetaal nie;
  • Eise ingevolge kredietooreenkomste: as jy die alleeneienaar van ’n onderneming is en soms krediet verskaf vir jou klante. Wanneer ’n klant nie die bedrag wat hy skuld, betaal soos ooreengekom nie, kan jy by die hof vir klein eise aanklop om jou geld terug te kry as dit nie meer as R20 000 beloop nie; en
  • Skadevergoeding: vir skade wat byvoorbeeld spruit uit ’n motorongeluk en die skade aan jou voertuig is nie meer as R20 000 nie.

Wanneer kan jy nie eis nie?

Jy kan nie in die volgende gevalle ’n eis in die hof vir klein eise instel nie:

  • Wanneer die waarde van jou eis meer is R20 000 is;
  • Wanneer jy van die staat of munisipaliteit wil eis;
  • Wanneer jy die oordrag van regte eis;
  • Eise vir skade ten opsigte van laster, kwaadwillige vervolging, onregmatige tronkstraf, onregmatige arrestasie, verleiding en verbreking van belofte om te trou;
  • Eise vir die nietigverklaring van ’n huwelik;
  • Eise oor die geldigheid van ’n testament;
  • Eise oor toerekeningsvatbaarheid; en
  • Eise waarin jy spesifieke optrede vereis sonder ’n alternatiewe eis vir skade, behalwe as jy eis vir goedere wat nie meer as R20 000 werd is nie.

Wat van ’n regsverteenwoordiger?

Jy mag nie ’n prokureur of advokaat se dienste in die hof vir klein eise gebruik nie, maar jy kan, op jou eie onkoste, ’n regsverteenwoordiger kry om jou te help om jou saak voor te berei. Regsassistente en die klerke van die hof vir klein eise kan jou ook gratis bystaan.

Kan jy jou saak in Afrikaans voer?

Ja, jy kan. Mense kan enige amptelike taal in die HKE gebruik. Jy moet vooraf sorg dat daar ’n tolk is, indien nodig, deur met die klerk van die hof te skakel.

Volg hierdie stappe

Volg hierdie stappe om jou eis by die hof vir klein eise in te dien:

  • Stel die persoon of onderneming teen wie jy die eis indien in kennis dat jou eis betaal moet word binne 14 dae.
  • Indien jou eis steeds nie betaal word nie, gaan na die naaste klerk van die HKE met ’n afskrif van die brief waarin jy gevra het dat die eis betaal word saam met bewys dat die persoon dit ontvang het. Vat ook enige kontrak wat jou eis ondersteun, saam en die persoon of onderneming se kontakbesonderhede.

Die klerk van die hof sal dan die dagvaarding voorberei wat die ander party sal dwing om by die hof te wees op die vasgestelde datum. Jy kan die dagvaarding aflewer of jy kan betaal vir die balju om dit te doen.

By die hof

  • Vat die bewys dat die dagvaarding afgelewer is saam.
  • Die hofprosedure is informeel en eenvoudig.
  • Die voorsittende beampte sal jou vra om jou storie te vertel en dan die ander persoon ’n kans gee om sy kant te vertel.

Betaling van jou eis

Indien die uitspraak in jou guns is, moet die persoon die geld dadelik betaal. Andersins sal die hof vasstel wat die persoon se finansiële posisie is en ’n betalingsplan opstel. Indien die betaling nie gedoen word nie, sal die saak na die landdroshof verwys word.

Jy kan by jou naaste landdroshof vasstel waar die naaste hof vir klein eise is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Braam van Wyk ·

‘n Vriendelike versoek: Kan Verbruikersake asb. ‘n ondersoek doen en ‘n artikel skryf oor Alternatiewe vir dstv. As mens sonder dstv wil klaarkom, watter opsies is daar , wat is die kostes daaraan verbonde, ens. Dit sal baie wardeer word en is ‘n baie aktuele saak. Dankie.

Eben ·

Ek het lank gelede nogals die HKE probeer en dit was 100% ‘n mors van tyd. Ek kon niks uitgerig kry nie omdat die ander persoon vir verskyning na verskyning eenvoudig nie opgedaag het nie. Al die moeite waardeur mens moet gaan om dan ‘n lasbrief te verkry om die persoon te dwing om op te daag is nog verder ‘n mors van tyd. Nou moet mens met die balju werk om sekere dokumente af te lewer en op die persoon op te spoor en wie weet wat als. Dit hang af van wat jou tyd werd is maar vir klein bedrae is dit eenvoudig nie die moetie werd nie.

Pieta ·

Kan kleinhof eiser die eis in sy/haar woon/werks regsdistrik instel vir verhoor bv. Krugersdorp, teen Respondent wie se motor verkoops lokaal in Pretoria is, maar wie se invoer kantoor in Kaapstad is, die motor fabriek in China en die besigheids pos en bestel adres in die Caymen Islands is, geheel en al standvastig met handels lisensie uitgereik aan R5,000 Ltd. geregistreerde Maatskappy met pos/bestel adres in Alexandra? Vooraf behoorlike huiswerk= hou verby!

Philip Meyer ·

In praktyk werk die HKE nie: die voorsittende beamptes is almal sg “vrywilligers” , maar eintlik “forseer” prokureursfirma’s se senior vennote hulle juniors om as beamptes op te tree sodat dit lekker “window dressing” is van hoe “baie hulle vir die gemeenskap omgee”. Hierdie juniors weet baie keer maar min van sake bereg en weet ook dat daar nie teen hulle opgetree word as hulle fouteer in uitsprake nie.
Verder is geen appèl of hersiening moontlik nie, selfs waar voorsittende beamptes growwe foute maak. En as jy dink Justisie se wiele het afgeval tydens kantoorure, dink weer: die mense wat die HKE se personeel uitmaak en die admin daaraan verbonde, is ‘n groot grap.
Hou maar verby !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.