Verbruikersake: Ligloop vir skelmstreke wanneer jy geld belê

finansies-geld-sente-rand-beleggings

(Foto: Stevepb/Pixabay)

Suid-Afrika het die afgelope jaar of twee meer beleggingskemas gesien vou as ooit tevore, maar daar is steeds verbruikers wat om die bos gelei word en van hul swaarverdiende geld beroof word wanneer hulle geld belê. Die groot geheim is om weg te bly van skemas wat rente bied wat te goed is om waar te wees, maar daar is ook ander rooi liggies waarvoor jy op die uitkyk moet wees. Ina Opperman gee raad oor hoe om seker te maak jou geld is veilig.

Met die wêreld wat so op sy kop gekeer is, wil mense seker maak dat hulle voorsiening maak vir die toekoms en soveel moontlik rente op hul spaargeld, aftreegeld of pakketgeld verdien. Hoewel sommige mense sal reken dit is pure gierigheid wat mense na bedrieglike skemas dryf, is daar ook diegene wat uit onkunde net die belegging kies wat die beste opbrengs belowe en so hul geld verloor.

Verbruikers word dikwels deur vriende of familie in hierdie soort skemas ingetrek wanneer lede “kommissie” verdien wanneer hulle nuwe lede laat aansluit. Hoe meer kommissie natuurlik op die spel is, hoe harder probeer hulle om jou te laat aansluit.

Hoewel dit fantasties klink en die beloftes jou laat dagdroom van eilandvakansies en ʼn huis by die see, is daar belangrike vrae om te vra voordat jy jou geld oorbetaal.

En moenie eers daaraan dink om skuld te maak, soos ʼn persoonlike lening of ʼn tweede huislening, om geld te kry om te belê nie, want as jy dit verloor, is jou skade nog groter.

Eerste rooi liggie: hoë opbrengs en min risiko

Wanneer ʼn beleggingskema rente “waarborg” wat ongelooflik hoog is, moet jy vra hoe iemand dit kan regkry om so ʼn hoë opbrengs te waarborg.

Vergelyk die rentekoers met ander beleggingsprodukte wat by erkende instellings beskikbaar is en indien die rente meer as omtrent 7% per jaar beloop, is die moontlikheid groot dat jy jou geld sal verloor. Onthou niemand kan ʼn rentekoers van ʼn belaglike bedrag soos 30% “waarborg” nie.

Tweede rooi liggie: die verduideliking maak nie sin

Iemand wat ʼn werklike belegging verkoop, kan verduidelik presies hoe dit werk sonder te veel grafieke en groot woorde wat gewone verbruikers nie verstaan nie.

Wanneer die beleggingsagent begin met verskonings soos dat die strategie te ingewikkeld is om te verduidelik of dat dit vertroulike inligting is wat nie met jou gedeel kan word nie, is dit ʼn duidelike teken dat hierdie ʼn skema is wat jou geld gaan sluk.

Derde rooi liggie: die skema is nie geregistreer

Dit behoort jou heel eerste vraag te wees. As die skema nie geregistreer is by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) nie, stap weg.

Vra ook vir die makelaar of agent se registrasiesertifikaat om seker te maak jy doen sake met iemand wat weet wat hy doen.

Vierde rooi liggie: die dokumente

ʼn Agent of makelaar wat nie die nodige dokumente en finansiële state by hom het nie, is beslis daarop uit om van jou geld te gryp. Iemand wat weet wat hy doen en dit reg doen, sal alles beskikbaar stel.

Vyfde rooi liggie: jy word gedruk om te belê

As enigiemand, byvoorbeeld ʼn vriend, familielid of die agent self, druk op jou plaas om so gou as moontlik te belê, veral as jy gewaarsku word dat jy “die geleentheid moet gebruik voordat dit verval”, hardloop weg.

Hierdie skemas gebruik gewoonlik nuwe lede se geld om ouer lede se opbrengs te betaal. Mense kan lelik raak as jy weier om aan te sluit. Daardie selfde mense gaan jou nie help as jou geld verdwyn nie.

Sesde rooi liggie: jou rente

 As jy steeds jou geld belê het ten spyte van al die vorige rooi liggies, is rente wat nie uitbetaal word nie beslis ʼn gevaarteken.

Beleggers in hierdie nare skemas word ook dikwels aangemoedig om hulle rente te laat oorloop na die volgende maand sodat hulle geld nog meer kan “groei”. Hulle sal selfs vir jou state stuur wat wys hoe jou belegging groei totdat jy dit wil onttrek en dan antwoord niemand meer jou oproepe nie.

Onthou:

  •  Jy kan nie rente van 30% per jaar verdien nie.
  • As dit te goed is om waar te wees, is dit.
  • Moenie belê in skemas waar jy nog lede moet werf nie.
  • Moenie belê in ongeregistreerde skemas nie.
  • Moenie toelaat dat ʼn ongeregistreerde makelaar jou geld vir jou belê nie.
  • Moenie enigiemand toelaat om druk op jou te plaas oor waar jy jou geld belê nie.
  • Moenie belê in ʼn skema wat op WhatsApp verkoop word nie.

Kla hier:

As jy van so ʼn skema hoor of in een belê het, stuur ʼn e‑pos aan die Gesagsowerheid vir Finansiële Dienste by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koen ·

En ten spyte van al die waarskuwings sal mense nog steeds vir sulke skemas val. En dan wil lang trane huil daarna.

VaalDonkie ·

Ek het in 2020 ‘n 50% opbrengs op my beleggings gehad. Maar ek het terloops gehoor van ‘n maatskappy wie se aandele erg gedaal het, maar dat hulle ‘n nuwe spul direkteure aangestel het om die ding reg te ruk. Toe klim ek maar in en ‘n maand later toe verkoop ek weer toe ek sien dinge lyk weer TE goed. maar ek het darem my 50% gemaak die een slag. Die probleem natuurlik is dat dit nie herhaalbaar is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.