Verbruikersake: Moet jy jou huislening se rentekoers vasmaak?

(Argieffoto: pixabay)

Die inflasiekoers het in Desember tot 5,9% gestyg en noudat die Reserwebank vir die tweede keer die repokoers verhoog het, wonder verbruikers of dit hulle sal baat om die rentekoers op hul huislenings vir ʼn paar maande vas te stel, aangesien hulle nou na verwagting elke paar maande meer aan rente gaan betaal.

Aangesien die repokoers die afgelope twee jaar gedaal het of dieselfde gebly het tot November verlede jaar, kon baie meer verbruikers dit bekostig om ʼn eie woonplek aan te skaf. Maar nou begin die wolf aan die deur klop met ekonome wat voorspel dat die Reserwebank se monetêre beleidskomitee elke keer wat die geleentheid hom voordoen, die repokoers sal verhoog om inflasie te beperk.

ʼn Vasgestelde rentekoers maak dit moontlik om te begroot omdat jy weet wat jou maandelikse paaiement gaan wees vir die vasgestelde tydperk, al styg die repokoers elke keer wanneer die komitee sit.

Is ’n vasgestelde rentekoers ’n goeie idee?

Verbruikers wat dit oorweeg om die rentekoers op hul huislenings vas te maak, moet egter mooi dink. Die vasgestelde rentekoers wat jou bank gaan aanbied, gaan hoër wees as die rentekoers wat jy tans betaal, aangesien die bank voorsiening moet maak vir stygende rentekoerse in ʼn tyd waar dit voorspel word dat die rentekoers gereeld kan styg.

In moeilike finansiële omstandighede soos ons tans beleef, tree verbruikers op voordat hulle mooi daaroor gedink het om te keer dat hulle in finansiële moeilikheid beland. Elke verbruiker se individuele omstandighede verskil ook en daarom kan ʼn mens nie een oplossing vir almal aanbeveel nie.

Banke bied vasgestelde rentekoerse oor ʼn jaar, twee jaar, drie jaar en vier jaar aan kredietwaardige verbruikers en hoe langer die termyn wat jy kies, hoe duurder gaan jy betaal. Indien jy die vasgestelde rentekoers kanselleer voordat die termyn ten einde loop, betaal jy ook boeterente.

Vasgestelde rentekoerse is dus beskikbaar, maar dit is belangrik dat verbruikers met hul banke praat oor al die moontlike opsies, soos om ʼn deposito te betaal sodat jou paaiemente van die begin af minder is en dat jy vir ʼn beter rentekoers kwalifiseer.

Oorweeg ’n vasgestelde rentekoers, maar onthou:

  • Al klink dit oorweldigend dat rentekoerse nou gaan aanhou styg, dink voordat jy doen.
  • Kyk hoeveel jy gaan betaal en of die hoër rentekoers nie reeds by die bank se aanbod vir ʼn vasgestelde koers ingesluit is nie. Vergelyk die bank se huidige aanbod met hul aanbod van ʼn jaar gelede om dit vas te stel.
  • Wees ook versigtig vir die tydperk waarvoor jy jou rentekoers wil vasmaak sodat jy nie meer betaal wanneer die repokoers weer begin daal nie.
  • Die verhogings in die repokoers begin nou teen ʼn baie lae rentekoers en selfs met gereelde verhogings gaan dit steeds onder die koers bly wat dit voor die pandemie was.
  • Onthou jy begin ook dadelik die hoër koers betaal terwyl die repokoers nog nie naby daaraan is nie.

Wanneer jy in die finansiële knyp is

As jy reeds begin voel dat jou beursie al hoe platter raak omdat jy byvoorbeeld jou werk verloor het en jou huislening te veel van jou begroting begin vat, is dit belangrik om dadelik met jou bank te praat. Banke vertel gereeld dat hulle nie jou huis wil hê nie, maar die geld wat jy skuld en jou eerder sal help om jou huis te behou en aan te hou betaal.

Banke bied deesdae ook ʼn diens waar hulle jou help om jou huis te verkoop en jou skuld te delg sodat jy na ʼn goedkoper woning kan verhuis.

  • Hierdie artikel verskaf nie finansiële raad nie, aangesien net ʼn gekwalifiseerde finansiële adviseur dit kan doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Nee. Want die bank gaan jou rentekoers vasmaak teen ‘n verhoogde koers. En as die repokoers TE hoog styg, dan verval daai vasgemaakte koers by die bank in elk geval. Die bank sal NOOIT geld verloor nie. Dis net jy wat al die pad gaan verloor.

AmY ·

Nee wat. Op die oomblik is ons verband so laag, dat ons dit eers na vyf rentekoersverhogings gaan begin voel. Ek betaal ook sommige maande ‘n bietjie meer, wanneer moontlik.

VaalDonkie ·

Wat ek doen is om my hele salaris in my huislening in te betaal en dan dit as ‘n spaarrekening gebruik. Jou rente word daagliks saamgestel, so jy spaar ‘n klomp rente oor die langtermyn so. Jy kan omtrent 3 jaar van jou verband afhaal net deur dit te doen. Dit word ‘n “access bond” genoem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.