Verbruikersake: Moontlike boete van miljoene vir MTI

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het Mirror Trading International (MTI) in kennis gestel dat hy beoog om te vra dat die maatskappy ʼn boete van R100 miljoen opgelê word vir die oortreding van verskillende wette van toepassing op die finansiële sektor. Ina Opperman het gaan kyk wat in die brief staan.

Internasionale deskundiges het MTI al beskryf as een van die grootste kriptoskelmstreke ooit. Die maatskappy is op 30 Junie vanjaar finaal gelikwideer.

Die FSCA se brief is aan Johann Steynberg gerig wat aan die hoof van die maatskappy gestaan het en wat vermoedelik na Suid-Amerika gevlug het. Die brief is ook aan Clynton en Cheri Marks, Charles Ward, Monica Coetzee, Romano Samuels, Leonard Gray, Usher Bell asook die likwidateurs gerig.

Oortredings

Volgens die FSCA kan hy, wanneer iemand ʼn wet in die finansiële sektor in terme van die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor oortree, ʼn administratiewe boete oplê. Die boete is gegrond op die ondersoek wat die FSCA gedoen het.

Die brief dui aan dat MTI – deur middel van die optrede van Steynberg en Cheri Marks en die hulp van Clynton Marks en ander – onwettige finansiële dienste gelewer het en só die Wet op Finansiële, Advies- en Tussengangersdienste vir ten minste twee jaar lank oortree het.

Die aktiwiteite van MTI, Steynberg en Cheri en Clynton Marks was ook ʼn oortreding van die regulasies van die Wet op Finansiële Markte en die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor toe hulle wanvoorstellings aan hul kliënte gemaak en hulle só mislei het.

Volgens die FSCA het MTI die volgende oortredings begaan:

  • Van April tot Julie 2019 was MTI nie in besit van die lisensie om as ʼn finansiële raadgewer op te tree nie, soos deur die Wet op Finansiële, Advies- en Tussengangersdienste vereis, maar het nogtans hierdie dienste gelewer. MTI het só ongeregistreerde finansiële dienste gelewer wat ʼn oortreding is van die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor.
  • Van Augustus 2019 tot Oktober 2020 het MTI ook ʼn ongeregistreerde finansiële dienstemaatskappy bedryf wat ook ʼn oortreding is van die Wet op Finansiële, Advies- en Tussengangersdienste.
  • Van Oktober 2020 tot Desember 2020 het MTI begin om sy bates te skuif omdat hy gereken het registrasie dan nie nodig sou wees nie; dit terwyl registrasie steeds vereis is. Hier het MTI ook die wet oortree, omdat dit nie gelisensieer was in terme van die Wet op Finansiële, Advies- en Tussengangersdienste nie.

Nie eintlik geld gemaak nie

Volgens die FSCA se brief het MTI net ʼn klein persentasie van die beleggers se bates gebruik om handel te dryf, maar die balans van die bates wat gevind is, laat dit lyk asof Steynberg dit in sy naam gehou het en beleggers daaruit betaal het wanneer hulle onttrekkings versoek het volgens hul “winste”.

Behalwe dat MTI sy beleggers mislei het, glo die FSCA volgens die brief dat MTI ʼn lisensie moes hê om handel te dryf en het MTI hier ook die Wet op Finansiële Markte sowel as die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor oortree.

Die mense aan wie die brief gerig is, het tot 6 Augustus tyd om kommentaar oor die ondersoek en voorgestelde boete in te dien. Indien hulle nie reageer nie, sal die FSCA voortgaan met die voorgestelde afdwinging van die regulatoriese aksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.