Verbruikersake: ’n Hanteringstarief vir defekte goedere?

(Foto: @calliframe/Unsplash)

Meubels koop is ook nie perdekoop nie, veral as jy ontevrede is met meubels waarvoor jy baie betaal het. As jy egter vooraf weet wat jou regte is, kan jy baie woede en lyding vermy. Dit sal natuurlik ook help as die winkelpersoneel weet wat die verbruiker se regte is, maar ons, as verbruikers, moet maar saamstaan en aandring dat ons regte gerespekteer word. Ina Opperman verduidelik.

Verbruikers se regte met enige transaksie word beskerm deur die Wet op Verbruikersbeskerming en die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste gebruik ook die bepalings van die Wet om verbruikers se klagtes op te los.

’n Verbruiker het by die ombudsman gekla oor ’n eetkamerstel, waarvan die tafel middeldeur gekraak het vier maande nadat dit afgelewer is. Die verbruikers het die winkel laat weet, maar toe niks van sy klagte kom nie, het hy die winkel besoek. Maande later is die tafel uiteindelik opgelaai en teruggeneem.

Die winkel het die verbruiker gevra om ’n nuwe tafel te kom uitsoek, maar nie een van die tafels in die winkel het by die res van die verbruiker se meubels gepas nie. Volgens die winkel sou dit twee weke neem om ’n nuwe tafel te maak. ’n Paar dae later is die nuwe tafel afgelewer en hoewel die verbruiker nie heeltemal tevrede was daarmee nie, het hy dit tog aanvaar. Die nuwe tafel was goedkoper.

Nadat die verbruiker gevra het dat die verskil in prys tussen die eetkamerstelle aan hom terugbetaal word, het die winkel hom in kennis gestel dat hy ’n hanteringstarief van 20% moet betaal, maar die verbruiker was nie gelukkig daarmee nie, aangesien daar fout was met die eerste tafel.

Die verbruiker het gekla dit was verkeerd van die winkel om aan te voer dat die tafel in direkte sonlig gestaan het terwyl die plek waar die tafel deur die afleweraars gesit is, nie direkte sonlig kry nie.

Volgens die winkel het sy personeel probeer om die verbruiker te help selfs nadat hy die tafel beskadig het deur dit in die son te los, wat dit laat kraak het. Die winkel het laat weet sy personeel het ook aangebied om die 8 sitplek-eetkamerstel te vervang met ’n soortgelyke stel. Op die ou end het die winkel glo ingewillig om ’n ander 6 sitplek-stel te maak in ’n ander styl wat kleiner is, maar saam met ’n koffietafel.

Volgens die winkel het die verbruiker ingestem en toe van plan verander en gevra dat die winkel net die tafel aflewer en die aankoop van die stoele en koffietafel kanselleer. Dit is toe dat die verbruiker gevra het dat die verskil terugbetaal word. Hy sou nie die tafel aanvaar as hy nie die terugbetaling kry nie en hy wou nie die 20%-hanteringstarief betaal nie.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Volgens artikel 56 (1) van die Wet op Verbruikersbeskerming is daar ʼn versweë bepaling in elke transaksie of ooreenkoms, waarin goedere aan ʼn verbruiker gelewer word, dat die produsent of invoerder, verspreider én die kleinhandelaar elkeen waarborg dat die goedere voldoen aan die vereistes en standaarde van artikel 55, tensy dit verander is teenstrydig met die instruksies of nadat dit die produsent of invoerder, verspreider of kleinhandelaar se beheer verlaat het.

Jy kan goedere, volgens artikel 56, binne ses maande nadat dit gelewer is, aan die verskaffer teruggee sonder om ʼn boete te betaal en dit doen op die verskaffer se onkoste en risiko, indien dit nie aan die vereistes en standaarde in artikel 55 voldoen nie.

Wanneer jy goedere teruggee omdat dit nie aan die versweë waarborg voldoen nie, moet die verskaffer volgens artikel 56 die gebrekkige, onveilige of defektiewe goedere herstel of vervang of jou geld terugbetaal.

Indien ʼn vervaardiger die produk of ʼn onderdeel daarvan herstel en dit word nie binne drie maande reggestel nie of jy ontdek ʼn verdere gebrek, defek of onveilige kenmerk, moet die verskaffer die produk vervang of jou geld terug betaal.

Die ombudsman se besluit

Volgens artikel 56 is die verbruiker geregtig op ’n terugbetaling. Die winkel het egter ’n hanteringstarief van 20% gehef. Die ombudsman het aan die winkel verduidelik dat ’n hanteringstarief nie gehef mag word indien daar fout is met die goedere nie, en gevra waarom die tarief gehef word.

Die winkel het aangevoer dat die hanteringstarief gehef is omdat die winkel ’n nuwe tafel moes laat maak met ’n ander ontwerp en ’n ander soort hout. Die verbruiker het die verduideliking aanvaar en die 20%-hanteringstarief is afgetrek en die balans is aan die verbruiker terugbetaal.

Kla hier

Jy kan jou klagte direk op die webwerf indien by www.cgso.org.za, of jy kan die oproepsentrum skakel by 0860 000 272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ansie ·

Die winkel behoort die die hanteertarief van die vervaardiger te verhaal en hom boonop ‘n boete laat betaal vir swak vakmanskap/substandaard goedere en die koper dan korting te gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.