Verbruikersake: Terugbetalings vir kaartjies

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media.)

Dis amper feestyd en veral mense wat met Jan Tuisbly se karretjie ry, maak nou al planne om prettige dinge saam met hul kinders te doen. Liggies is een van die dinge wat Kersfees so spesiaal maak en daarom is verbruikers gretig om hul kinders te neem om ’n park vol liggies te besoek. Verbruikers kla egter vanjaar oor sommige van hierdie liggiefeeste, aangesien hulle nie tevrede was om te sukkel met parkering, lang toue waarin mens tot vier uur moes wag om by die hek in te kom asook onvoldoende veiligheid en toiletgeriewe nie. Ina Opperman verduidelik wat jy kan doen as jy kaartjies gekoop het vir ’n geleentheid wat nie aan jou verwagtinge voldoen het nie.

Almal van ons is klaar in die bui om geld uit te gee op dinge wat ons gelukkig maak en wat is beter as om jou kinders se gesigte te sien as hulle Kersfeesliggies geniet. Dis egter juis nou dat mense moet oppas vir plekke wat jou geld wat vat en baie min wil teruggee. Gelukkig is daar die Wet op Verbruikersbeskerming wat gebruik kan word om hierdie instansies se onbillike verbruikerspraktyke hok te slaan.

Artikel 19

Volgens artikel 19 het jy sekere regte as verbruiker ten opsigte van die lewering van goedere of die verskaffing van dienste. ’n Besoek aan ’n liggiefees word beskou as ’n diens wat jy koop. Elke transaksie bevat ’n versweë voorwaarde dat die verskaffer verantwoordelik is om die dienste te lewer op die ooreengekome datum en tyd by die ooreengekome plek. Dit beteken, onder meer, dat die liggies moet lyk presies soos dit op die foto’s lyk wat gebruik word om die geleentheid te bemark.

Artikel 47

Hierdie artikel handel oor oorverkoping en oorbespreking en bepaal dat ’n instansie nie betaling vir goedere of dienste mag aanvaar as hy nie bedoel om dit te verskaf nie of van plan is om goedere of dienste te verskaf wat wesenlik verskil van die goedere of dienste wat aangebied is. As 5 000 kaartjies dus verkoop is vir ’n plek wat net 1 000 besoekers kan hanteer, is hierdie artikel van toepassing.

Artikel 54

Artikel 54 gee jou, as verbruiker, die reg om gehaltediens te eis. Dit sluit in jou reg op die tydige verrigting en voltooiing van die dienste en tydige kennisgewing van enige onvermydelike vertraging en die verrigting van die diens op ’n wyse en van ’n gehalte wat jy in die algemeen geregtig is om te verwag.

Indien ’n verskaffer versuim om ’n diens te lewer wat aan hierdie standaard voldoen, kan jy van die verskaffer eis om óf die fout met die diens reg te stel óf ’n redelike gedeelte van die koste (vir die diens wat onvoldoende was) terug te betaal.

Al drie hierdie artikels maak dit onwettig om iets aan te bied wat jy nie gaan lewer nie en al drie maak ook voorsiening daarvoor dat die instansie jou geld moet terugbetaal.

Voor jy kaartjies koop:

  • Stel vas wie bied dit aan en kyk eers op die internet of mense al gekla het oor vorige feeste; As daar klagtes was, moet liewer nie jou swaarverdiende geld hierop uitgee nie;
  • Moenie kaartjies op ’n Facebook-blad koop nie. As jy kaartjies by ’n bekende kaartjiekantoor koop, het jy ’n beter kans om jou geld terug te kry as iets verkeerd loop;
  • As jy wel êrens anders op die internet kaartjies koop, maak eers seker of daar ’n prosedure is om jou geld terug te kry; en
  • Maak ook seker dat jy weet wie die geleentheid aanbied, wat die naam van die maatskappy is en die fisieke adres en telefoonnommer.

Kla hier:

Kla by die kantoor vir verbruikersake in jou provinsie as jy nie jou geld terugkry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HPV ·

Eskom, SAL, SABC, Mangaung Metro ontvang betalings, self vooruit betalings en laat dan na om diens of die dienste te lewer waarvoor betaal word. Hulle is nie aanspreeklik nie, maar ander besighede word volgens wet aanspreeklik gehou, weer twee stelle wette.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.