Verbruikersake: Wees slim met jou bonus

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto.

Baie verbruikers ontvang hul dertiende tjek, of bonus soos dit meestal genoem word, in Desember. Die versoeking is groot om dadelik alles te koop waarvoor jy die hele jaar gewens het. Dit maak die winkels baie bly, maar beslis nie ons beursies nie. En dan wag Januarie ook nog met sy duisend dae voordat jy weer ’n salaris kry. Ons almal weet dat jy slim te werk moet gaan met jou bonus om te verseker jy stop genoeg gaatjies toe, maar koop is darem baie lekker, veral aan die einde van die jaar wanneer jy moeg is om jou sente om te draai. Ina Opperman gee raad oor hoe jy gaatjies kan toestop en jou gesin bederf.

Verbruikers kan hul bonusse vir verskeie dinge aanwend. Jy kan jou skuld minder maak, voorsiening maak vir die nuwe jaar, spaar, of jou gesin bederf. As jy slim te werk gaan, kan jy al hierdie dinge doen, hoewel die bederf dalk bietjie minder sal wees as wat jy graag sou wou gee. Daardie slegte gevoel dat jy nie genoeg gee nie, sal egter gou verdwyn wanneer jy in die nuwe jaar minder bekommernis het omdat jy bietjie skuld afbetaal het of korte mette gemaak het van dinge soos skoolgeld deur met jou bonus te betaal.

Suid-Afrikaanse verbruikers het baie skuld en hulle sukkel om dit te betaal. En as Jan Taks eers klaar is met jou bonus, is daar ook nie meer so baie oor nie. Jy kan dalk meer uit jou bonus kry as jy dit verdeel tussen al jou verpligtinge. Stel ’n begroting op vir jou bonus en gebruik ’n persentasie om jou skuld te verminder, ’n persentasie om voorsiening te maak vir 2019, ’n deel om te spaar en ’n persentasie om jou geliefdes te bederf.

Verminder jou skuld

Finansiële kenners gee graag raad oor wat jy met jou bonus kan doen en hulle stem nie altyd saam nie, behalwe oor een ding: betaal jou skuld af voordat jy ’n sent van daardie bonus op enigiets anders bestee. Die rente wat jy spaar op jou skuld is die beste manier om te spaar as jy skuld het.

Maak ’n lysie van al jou skuld en kyk waarop betaal jy die meeste rente. Jou duurste skuld is dikwels jou kredietkaart. Onthou wanneer jy ’n bedrag in jou kredietkaart stort, sal dit steeds beskikbaar wees in ’n noodgeval wanneer jy skielik geld nodig het. Volgende op die lys is persoonlike lenings en daarna klererekeninge. Indien jy nog geld oor het vir skuld afbetaal, kan jy altyd ’n bykomende bedrag in jou huisverband inbetaal om dit vroeër af te betaal.

Reg vir 2020

Verbruikers vergeet gou hoe lank Januarie kan voel wanneer jy op die tweede dag van die maand besef daar is bitter min geld oor vir die res van die maand. En dan moet jy nog skoolklere en skryfbehoeftes koop en al die gewone maandelikse uitgawes hanteer. Januarie is nie vir sissies nie en daarom is dit belangrik om ’n deel van jou bonus te gebruik om Januarie te oorleef.

Jou bonus kan ook gaatjies toestop waar eenmalige betalings vir die jaar, soos skoolgeld en versekering, vooruit betaal kan word. Jy kry gewoonlik ook korting as jy in Januarie vir die jaar betaal, wat jou nog meer geld spaar terwyl jy ook nie meer elke maand hierdie uitgawe het nie.

Spaar of belê

Dit is ook belangrik om ook ’n geldjie af te knyp vir spaar. Suid-Afrikaners is bekend daarvoor dat hulle nie spaar nie, maar mens besef ook dat dit moeilik is om in tawwe ekonomiese tye ’n geldjie weg te sit. As jy nie skuld het nie of ’n paar rand oor het, spaar dit. Dit is ook makliker om te spaar as jy spaar met ’n doel: vir ’n vakansie oorsee of om te studeer.

Bederf jou geliefdes

Hou gerus ’n bietjie van jou bonus uit om jou geliefdes te bederf en te beloon vir die afgelope jaar se harde werk. Soek ’n bietjie rond om aktiwiteite te vind wat nie so duur is nie – hoe minder jy betaal, hoe meer kan jy doen. Mense (en veral kinders) onthou meer wat hulle ervaar het as wat jy vir hulle gekoop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mark ·

Nee wat, ons geld word nou alles in ons buitelandse rekening in betaal.

Wielspore ·

Spaar het sy tyd, skuld het sy tyd, werk net met ‘n begroting wat klop deur die jaar. Ons begroot vir daardie bederf gedurende Desember omdat ons die hele jaar hard gewerk. Geniet die ekstra geld, jy verdien dit.

charmaine ·

Bonus is altyd welkom ek is bevoorreg om n verjaarsdag bonus te kry, so hierdie jaar het my kar nuwe bande gekry dit is n duur ding. En ek het n bedrag gespaar myself bederf met n paar boeke en vir my en my man n bietjie bederf en dan kersgeskenke en verjaarsdag goedjies vir die kinders. Die res moet maar le. Soos die artikel se betaal eers jou skuld ek moes n keuse maak n nuwe kar of betaal die een wat ek Junie maand klaar, was n maklike besluit ek betaal hom klaar oor 6maande petrol is goedkoper as n maandelikse paaiement en my kar is baie mooi opgepas en versorg. So nog na paar randjies wat gebere word.

Snorkop ·

Amen op Blom se kommentaar – bonus is deesdae ‘n rare verskynsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.