Verbruikersake: Te min versekering kan jou duur te staan kom

weer-storms-huis-dakloos-versekering

Argieffoto: Blitzmaerker/Pixabay.com

In moeilike ekonomiese tye oorweeg talle verbruikers dit om hul korttermynversekering te staak, want daar kan mos nie nog slegte goed gebeur nie. Stop net daar: dit kan en dan sal dit nog slegter gaan met jou as jy self vir jou verlies moet betaal. Daarom is dit ook uiters belangrik om seker te maak dat jou eiendom nie onderverseker is nie, anders gaan jy in dieselfde moeilikheid beland. Ina Opperman verduidelik hoe jy kan seker maak dat jy nie onderverseker is nie.

Jy wil beslis nie eers uitvind dat jy onderverseker is wanneer jy moet eis nadat diewe jou huis leeggedra het, of al jou besittings in ʼn brand verwoes is nie. Dit is belangrik om elke jaar seker te maak dat jou korttermynversekering vir jou huis en huisinhoud voldoende sal wees indien ʼn ramp jou tref.

Dit is eerstens belangrik om te sorg dat akkurate waardasies gedoen word van vaste toebehore en toerusting, vaste ontspannings- en ornamentele strukture en plaveisel van enige aard. Hierdie waardasies sluit nie gruis, grensmure en ander mure en hekpale en hekke, insluitende hekmeganismes en heinings, in nie.

Jy moet ook genoeg weet van die natuurlike omgewing om die huis, veral as die omgewing al voorheen getref is deur brande of vloede. Nadat so ʼn ramp jou getref het, wil jy nie ook nog sit met die wete dat jy van vooraf moet begin om ʼn huis te bou en in te rig met hoofsaaklik jou eie geld nie.

Die belangrikste punt hier is dat jou huis en huisinhoud verseker moet wees vir vandag se vervangingswaarde en nie hoeveel jy aanvanklik daarvoor betaal het nie. Die gemoedsrus om te weet as iets met jou huis en die inhoud gebeur, dit vervang kan word, is baie meer werd as die maandelikse premie.

ʼn Mens dink maklik dit sal nie met jou gebeur nie, maar kyk hoe het die vloede wat KwaZulu-Natal in April getref het mense se lewens verwoes.

“Ons data wys dat die meeste eisers in KwaZulu-Natal voldoende versekering gehad het vir die skade aan geboue en huisinhoud weens die vloede, maar diegene wat onderverseker was, het aansienlike verskille gehad tussen die bedrag waarvoor hulle verseker was en die skade wat hulle gely het,” sê Ernest North, medestigter van Naked, ʼn digitale versekeringsplatform.

“Sommige polishouers onderskat die werklike vervanging van hul goed en daarom is dit belangrik om ʼn lys van goedere te hê wat ook aandui hoeveel dit sal kos om dit te vervang teen vandag se pryse. Dis baie makliker om onderverseker te wees as jy nie ʼn idee het van wat jy het of besit nie. ʼn Totale verlies kan jou beursie en begroting erg knou.”

Hoeveel verskering is genoeg?

North stel voor dat jy net een eenvoudige oefening doen: bereken hoeveel dit sal kos om al die klere in jou kas te vervang. Tel dan by hoeveel dit sal kos om alles in jou kombuis te vervang, veral as jy duur toestelle of kristalware het. Doen dit met al die kamers in jou huis, dan sien jy hoe groot die bedrag kan wees.

Hy sê baie verbruikers vergeet ook om hul polisse aan te pas wanneer hulle iets nuut koop, soos ʼn duur TV-stel, en om hul polisse te laat aanpas vir inflasie.

“Dis maklik om te vergeet hoe duur dinge soos meubels en groot toestelle is om te vervang.”

Dis wat gebeur as jy alles verloor en onderverseker is

“Baie mense kom eers agter dat hulle onderverseker is wanneer hul huise afbrand of alles uit hul huise gesteel word. ʼn Assessor van jou versekeraar sal bereken hoeveel dit sal kos om alles te vervang teen vandag se pryse. Indien die vervangingswaarde van jou huis en sy inhoud R625 000 is en jou huis en inhoud net verseker is vir R500 000, sal jy self die ander R125 000 moet betaal om alles te vervang. Min mense het soveel geld in hul spaarrekenings.”

ʼn “Gemiddelde” uitbetaling

Indien jy onderverseker is, sal die assessor die beginsel van “gemiddeld” gebruik om jou uitbetaling te bepaal. “Gemiddeld” beteken die proporsie waarteen jy onderverseker is, word gebruik om die versekering wat uitbetaal word te verminder op elke eis.

Indien ʼn dief byvoorbeeld jou televisiestel en van jou juwele steel ter waarde van R100 000 en jou huisinhoud is verseker vir R250 000 terwyl dit egter R500 000 werd is, sal jy net R50 000 kry (trek dan nog jou bybetaling af) omdat jy met 50% onderverseker was.

Hoeveel is genoeg?

North sê dit is belangrik om items te verseker teen die prys wat hulle vandag sou kos. “Jy moet ook seker maak dat jy alles in jou huis verseker, soos jou klere, messegoed en boeke. Gaan van kamer tot kamer en maak ʼn lysie en kyk wat jy het en hoeveel dit sal kos om te vervang. Moenie die motorhuis en stoorkamer vergeet nie.

Hy beveel aan dat jy ʼn app daarvoor gebruik, of ʼn tabellys, om seker te maak alles van waarde is verseker. “Indien jy nie seker is van die prys nie, kyk op die internet. Indien sekere items nie meer gemaak word nie, kies iets wat dieselfde lyk en doen.”

Nadat jy alles nagegaan het, sal jy ook onthou waarvan jy intussen ontslae geraak het en wat jy gekoop het wat nuut is. Sommige versekeraars sit sommer R50 000 of R100 000 by om op te maak vir kleiner items wat jy nie sal aanmeld nie.

* Die berig is gewysig sedert plasing – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tuinuitsig ·

Spelling met opskrif?Verbruikersake: Te min verskering kan jou duur te staan kom

Koen ·

Geen trots om dit reg te stel nie. Gods water oor gods akker.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Koen en Tuinuitsig

Ons vra om verskoning vir die spelfout. Die berig se opskrif is gewysig met die regte spelling.

Groetnis
Esté Meyer Jansen namens Maroela Media

marius ·

As daar nie geld is nie is dit die eerste wat gaan . Jy kan nie versekering op die tafel voor honger mae sit nie . Dis die waarheid .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.