Waar, o waar is die deugsame huisvroue dan?

Anita Lloyd, Amy Klein hans-Curd, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl is die “Real Housewives van die Wynlande” wat kykers sprakeloos laat met hulle manewales. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Terwyl skrywers mekaar in koerante se briewekolomme na aanleiding van die gewraakte Real (vir my unreal) Housewives van die Wynlande aanvat dat die swaeldampe in die lug rondhang, het my gedagtes ʼn ander koers ingeslaan. Ek het begin dink aan die deugsame vroue wie se waarde “vêr bo korale” is.

Dié wat die Bybel nog ter harte neem kan in die Spreukeboek ʼn beskrywing van ʼn deugsame vrou lees. Daar kan seker gewonder word waarom daar nie oor ʼn deugsame man ook geskryf is nie. Tong in die kies is die antwoord dalk dat daar agter elke deugsame vrou ʼn deugsame man is.

Die knap, deugsame vroue wat ek die beste ken, was my ouma, ma en tans my vrou en ons dogters. Daar was ook juffrou, Tant’ Lucy, en nog ʼn juffrou, Tant’ Japie, in die skool, wat die weg gebaan  het wat ek met vreugde vir die res van my lewe kon volg. Hulle was vir my soos ma’s.

Vroue, glo ek, is die grondleggers vir ʼn gesonde samelewing en daarmee wil ek g’n man te na kom nie, want hulle het ander rolle te vervul. Man plus vrou kán en behoort die wenspan, die droomspan te vorm. God het die vrou geskep om te doen waarvoor die man nie gemaak is nie, maar ook andersom. God het hulle vir mekaar gemaak.

Deur die eeue heen was dit die deugsame vroue wat in leefwêrelde verskille gemaak het. Te midde van oorloë, rampe en ellendes het deugsame vroue hulle kant gebring om, op hulle manier, die waens deur die drif te sleep.

By hulle gaan dit nooit oor eie belang of eie gewin nie en die sáák is altyd van primêre belang. Nie wat hulle kan uitkry nie, maar wat hulle kan inploeg. Niks word aan die groot klok gehang nie en in die stilligheid word gedoen wat gedoen móét word.

ʼn Mens kan dit vêr gaan haal: Tydens en ná Vryheidsoorloë endepressiejare het deugsame vroue uit ellende opgestaan om ʼn verskil te maak. Dink maar aan die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, provinsiale Vroue Landbou-unies, kultuurorganisasies en welsynsorganisasies, om maar enkeles te noem en ons gee hulle die eer wat hulle nie soek nie, maar wel van harte toekom.

Na amper 80 jaar, sou ek boekdele kon skryf oor die deugsame vroue wat die fondasie gelê het waarop geslagte en nageslagte hulle lewens kon bou en hulle toe ook geleer bou het, en eintlik was hulle maar die messelklei wat alles aanmekaar gebind het.

Ek onthou nog toe my pa, kort voor sy dood, alleen by my ma wou wees. Hy het Spreuke 31 vanaf vers 10 vir haar gelees en toe afskeid geneem en gesterf.

Dit is seker so dat deugsame vroue vroeër nie die erkenning en waardering van ʼn volk of nasie gekry het nie. Dit was so half as ʼn gegewe beskou en dat dit so móés wees en tóg het hulle nooit ophou gee nie, en vandag pluk ons, die ouerwordende geslagte, die vrugte daarvan.

Vandag se deugsame vroue is soos die rooi gloed van die opkomende son en die geelgoud van die sakkende son. Tussendeur laat hulle lig deurbreek in ʼn snel donkerwordende wêreld. Met ʼn onblusbare gees beweeg hulle op die voorpunte om ʼn verskil te maak.

Benewens vloede en droogtes, word ons wêreld deur ander ellendes aan flarde geruk. Benewens ʼn staat, op die drumpel van ineenstorting, werkloosheid, natuurrampe en gepaardgaande skade en ontbering, het armoede, hongersnood, mishandeling, nog vele meer en depressie, tot die dood toe, daaruit voortgevloei.

Erik Hazelhoff Roelfzema, leidende figuur van die Verzetbeweging teen die Duitsers tydens die Tweede Wêreldoorlog en verantwoordelik vir koningin Wilhelmina se terugkeer uit ballingskap, het dié gevleuelde woorde geuiter: “In het leven van ieder mens komen ogenblikken voor waarop hij tot zichself zegt: Tja, dat kan niet! En dan doet hij iets!”.

Dit is presies wat deugsame vroue doen. Hulle sien dit kán nie so aangaan nie en dan doen hulle iets daaraan.

So was dit vir die afgelope jare met die deugsame vroue in ons land. Toe die nood op plase hoogty gevier het en nou nog, was dit hulle wat op alle denkbare maniere tot aksie oorgegaan het om die wa deur die drif te sleep.

Toe hongersnood en ander ontberings toegeslaan het, was en is dit steeds hulle wat geen koste ontsien het om met geld, wat hulle self moet genereer, verligting te bring nie. Met verstommende kreatiwiteit en uithou- en aanhouvermoë word berge versit.

Daar is nie meer ʼn lewensterrein waar die deugsame vrou nie haar voetspoor nalaat of stempel afdruk nie. Sy doen dit met beskeidenheid en grasie. Doen dit nie om eiebelang te soek nie. Is nie opgeblase nie en soek nie eie belang nie.

Die deugsame vroue in ons wêreld is die hartslag van ons samelewing en as manne gee ons hulle graag die eer en erkenning wat hulle toekom. As hulle dan die lof wat hulle toekom toegesing word, staan hulle in skrille kontras met die leefwyse van die (Un)Real Housewives en al die TV-kykers wat hulle verlekker in platvloersheid, losbandigheid en die oorskryding van alle grense van waardes, norme, beskaafdheid en ordentlikheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Die vroue in ons lewens is die kern van ons bestaan, soos die gesegde agter elke suksesvolle man staan ‘n vrou ,maar hierdie vroue is ‘n ” embarrassment ” vir elke ordentlike vrou in hierdie land.

Nettie ·

Ek kyk nie die reeks nie, maar ai, watte lekker artikel om te lees. Dis pragtig geskryf. En ‘n riem onder die hart om te hoor daar is nog mans wat vrouens waardeer vir hulle deugsame, stil, ondersteunende rol. Wat net vat wat gedoen moet word, en dit doen. Baie dankie vir die pragtige brief. Mag jou ma, vrou en dogters jou elke dag waardeer.

Miena ·

Ek kyk nie hierdie reeks nie. Maar ek weet van dit – te danke aan my verslaafde kolegas. Dit is nou vir my die mees blatantste bizarre plein en on-sjarmantste program waar n klomp vrouens bymekaarkom en hulle lippies tuit en pruim oor wie die grootste bankbalans het, weelderigste huis en spoggerigste motor en en en . Ek het nog nie een keer gehoor van al die verskillende reekse (Dbn / Kaap / Joburg en Pta) dat daar n persoon was wat gespog het of aangebied het om donasies te maak aan oue-tehuise, inrigtings, diere beskermings organisasies of kleuterskole nie.
Wat my deksel is… en ja jy kan tussen die lyne lees wat ek wou se… – is van die meer bekende mees prominente vrou-figure in die land (wat ons eens op n tyd verteenwoordig het in die wereld / heelal) – en hier kan jy weer tussen die lyne lees van wie ek praat – wat haar ophou met die banale, laer as grond-klas tydverdryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.