Waarheid anderkant die reënboog

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Dit was weer Junie en vrolike reënboogkleure het gepryk in winkels, aanlyn, op klerasie en elders.

Dit was ook weer Junie en die aanlyn oorloë, ʼn deurlopende stryd, het weer verskerp met veral die klem op die aanvegbaarheid van homoseksualiteit en, toenemend, die identifisering van en met ʼn uitgebreide boeket van byderwetse benaderings op geslag, seks en die eise wat dit aan die samelewing stel.

Die vereenselwiging van geslagtelike korrelasie met genitalieë is in sommige kringe beklemtoon, in ander kringe bevraagteken en in sekere kringe as diskriminerend afgemaak met ʼn beroep op owerhede om ou wette te skrap en nuwe wette te skep om die denkstrome van nuwe benaderings op geslag en seks te akkommodeer en te beskerm.

En dit was weer Junie en elkeen met ʼn seepkissie (en elkeen hét immers in die era van sosiale media ʼn seepkissie!) het hulle stem gehef oor die gedoente, ʼn stuiwer in die armbeurs van opspraak gewerp en ʼn kwaak toegevoeg tot die oorverdowende paddakoor in die donker stroom van die mees sosiaal onstuimige tyd in menseheugenis.

En waarom sal ek dan nou so dwars wees om nie ook mee te doen nie? Kom ons gooi mielies (en oesters, ter wille van inklusiwiteit)! Dit lyk my ʼn redelike groot aangeleentheid in die lig daarvan dat ons een dag (9 Augustus) toewy aan vroue, maar dertig dae in Junie aan gay trots.

Na my (kortgeknipte) diensplig in 1990 het ek holderstebolder in die televisiewêreld ingetuimel. My streng Calvynse inbors en konserwatiewe agtergrond het die idee van homoseksualiteit op ʼn verre, byna mitiese afstand gehou. Trouens, ek het destyds in die Bybel (Lot se lot in Sodom, Romeine 1 ensovoorts) meer van homoseksualiteit verneem as in my alledaagse lewe. Maar werk in die televisiewêreld sou dit alles spoedig verander.

Skielik was ek in die werksplek gereeld in die geselskap van selfsogenaamde gay mans en vrouens. En dit sou daarvolgens ʼn algemene tendens in my lewe word. Die gay omies van vroeg 1990’s SAUK was teenoor my ʼn oulike spul – vriendelik, sonder om oordadig aan te lê. Daar was ʼn waardigheid, iets ingehoue en sagkens besluier in die subtiele vergestalting van hulle gay-heid. Ek het geleer om gay mense nie te vrees nie, en later sou ek leer dat baie van die mense wat ek geniet en mee bevriend geraak het, ook gay is. Ek het details van gay wees by gays geleer sonder enige agenda of bedreiging.

Een ding wat ek onomwonde in my jarelange interaksies met gays geleer het, is dat hulle alles kan doen wat heteroseksuele mense kan doen. Hulle kan ploeg en plant (jip, ek ken gay boere), kook, dokter, beskerm, verbruik, motors herstel, liefhê en letterlik elke ander ding doen waaraan jy kan dink. Kortom, daar is geen verskil tussen gay mense en die res nie, behalwe vir een, reëlregte onderskeiding.

Daar is ander tendense van gedrag, persoonlike- en omgewingsestetika, humor en waardes wat meer algemeen onder gay mense voorkom en ʼn mens moet hier onderskei tussen gay mans en gay vrouens, want tendense m.b.t. al die voorgenoemde aspekte verskil algemeen gesproke ook tussen hierdie twee groepe. Nietemin, ons werk steeds hier met veralgemening en nie onwrikbare reëls nie.

In die praktyk vind ek dus slegs een reëlregte onderskeiding tussen homoseksuele mense en heteroseksuele mense: wat hulle verkies om met hulle genitalieë aan te vang tydens seks. Dis so eenvoudig soos dit.

As jy vir my of die wêreld sê dat jy gay is, sê jy eintlik vir my wat jy verkies om in jou intiemste oomblikke met jou genitalieë aan te vang. Want daar is buiten hierdie verskil, geen ander verskil om jou van iemand wat nie gay is nie, te onderskei.

En nee, dit gaan nie om byvoorbeeld ʼn man se liefde vir mans nie. Ek het ʼn diep liefde vir sommige mans in my lewe; mans wat ek tyd mee wil spandeer, mans wat ek wil beskerm as dit daarop neerkom, mans vir wie ek omgee en mans wie se harte ek met sorg van verneem en mans met wie ek my eie hart deel. Ek het in vorige dekades genoeg rondgespeel om met sekerheid vas te stel dat ek nie verkies om fisies intiem met hierdie mans te verkeer nie. Van die eros, patos en agape is slegs die laaste twee hier relevant. Dis nes my liefde vir kinders, alle kinders, wat na die geboorte van my eie kinders enorm versterk het, maar ek het van nature ook geen begeerte om fisies intiem met hulle te verkeer nie.

En dit is die uitdaging wat die breë, openlike viering van gay trots in Junie vir ons samelewing bied. En daarom is gay Pride-Junie vir my problematies, nie uit hoofde van die liefde nie – ek bly ʼn vierder van die liefde, ongeag die persone tussen wie hierdie liefde ontwikkel – maar uit hoofde daarvan dat dit, ongevraagd en ongepas vir universele toepaslikheid, intieme seksuele inligting van ʼn baie spesifieke aard kommunikeer. Dis, sover my eie ondervinding strek, nêrens in die openbaar vir my gepas om vir mense die detail uit te lê van hoe ek verkies om my seks te bedryf nie. En ek sou by die veroorlowing van sodanige openbarings diskrimineer teen diegene wat behoudend oor seksuele openheid in sosiale omgang of, byvoorbeeld, in kinderopvoeding ingestel is. En hier verwar ek nie aanstoot met diskriminasie nie.

Aanstoot is wanneer jy iemand bloot ontstel deur jou handelinge, maar diskriminasie is wanneer jy iemand se fisiese gang in die lewe belemmer deur jou handelinge. Jy sal diskrimineer teen ʼn ouer se reg om die opvoeding van hulle kind te bepaal wanneer jy hulle kind aan seksuele inligting blootstel indien dit strydig met die ouer se opvoedingstyl is. Jy sal ook ʼn ongeoorloofde wysiging in die kind se seksuele trajek teweegbring. Jy sal diskrimineer teen iemand se voorkeur wanneer jy vir hulle ʼn openbare wêreld skep waarin hulle nie die keuse het om seksueel behoudend te wees nie. Daar gaan altyd sodanige botsings in ons samelewing wees en ʼn mens kan nie almal gelukkig hou nie, maar die beste benadering is om by die verandering in gevestigde gebruike stadig en oordeelkundig te werk te gaan en ook om die meerderheidsbehoefte in ag te neem (in gevalle waar die meerderheidsbehoefte ondeugdelik is, moet daar omvattende en duidelike ondersoek ingestel word alvorens die gevestigde orde omvergewerp word).

So lank as wat die wette van die land ouderdomsbeperkings instel vir heteroseksuele inhoud in openbare media, lyk die eis dat dieselfde beperkings vir ʼn gay trots-maand (met inbegrip van bogenoemde enkele spesifiek seksuele detail wat daarin vervat en daarmee gekommunikeer word) na ʼn konsekwente verwagting.

Ten slotte, dis vanselfsprekend dat die snelweg na normalisering so ver moontlik van die wispelturige kronkeling van uitsondering loop. Om normaal te wees, om ʼn gewone deel te wees van die samelewing, kry jy nie buitengewone voorregte nie. Jy kry nie jou eie maand nie, jy kry nie die hervorming van ander se taal en spraak nie, jy kry nie insae oor ander se opvoeding nie. Jy kry nie die etiket van normaliteit deur buitengewone vertoon nie. En vir alle veranderinge aan die voorgenoemde ding jy in die bondel mee, gerugsteun deur dieselfde regte en onder die juk van dieselfde beperkings as al die ander normales. Kortom, aanvaarding as deel van die norm is nie die Utopiaanse uitkoms wat dikwels verkondig word nie en die aandrang daarop is dikwels ydele tydverdryf. Dis lekker om spesiaal te wees, om anders te wees, en om dit so te hou verg ʼn bietjie beskeidenheid, ʼn tikkie verborgenheid, ʼn knippie stoïsisme en ʼn vleugie misterie, oordeelkundigheid en styl.

In al hierdie dinge bly ek oop vir gedagte aanvulling, bly soek ek na nóg waarheid anderkant die reënboog, want ek het al gesien hoe aanhoudende redevoering, groter mensekennis en belewing soms my wêreldbeskouing kan beïnvloed. Maar tot tyd en wyl ek die sin van sodanige beskouingsverskuiwing insien, bly ek aan die kant van versigtige, behoudende en, veral, beteuelde uiting.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Miss J ·

Ek stem 100% saam. Ek dink meeste mense aanvaar ook gay wees. Maar baie van hierdie Pride maand optogte het in ‘n sirkus van trans gender en perverse publieke ontbloting van “naaktheid en perverse fetishes” ingesluit. Ouers het selfs hulle kinders saamgevat wat dus die perversiteit aanskou.En daarom die negatiewe mening van baie mense. Soos jy tereg sê, wat ookal mense se voorkeur, hou dit privaat.

Petrus Albertus ·

Uitstekende stuk wat baie van wat die “heteronormatiewe” gemeenskap in die breë voel onder woorde bring. Onlangs was daar ‘n nie-baie goed ondersteunde optog in die Pta Moot area om bewusmaking van LGBTQ+ te skep. Die Moot is een van die gay-vriendelikste areas in die land waarom dan die behoefte aan bewusmaking? Een van die redes waarom die Moot so gay-vriendelik is is omdat die gay mense van die Moot hulself nog maar altyd net normaal gedra het – soos die res van hierdie diep middelklas, diep konserwatiewe en diep Christelike area. Soos die Nederlanders sê: “Doet maar normaal want normaal ben gek genoeg”. Geen Pride maand nodig nie dankie en ook nie spesiale regte om namens ander mense te besluit wat hulle moet en mag sê of dink nie.

B-Man ·

Dit raak ‘n modegier, ‘n foefie. “Kyk na my! Ek is anders. Ek wil ook net relevant wees en ander oordeel buiten myself!” Baie parallelle met ene Julius Malema.

Nommer 7 ·

Dit is net betreurenswaardig dat ‘n sekere groep die reenboog gekaap het, en dat die reenboog nou n ander betekenis het. Soveel so dat n kleuterskool die reenboog op hul Kombi verwyder het.

Anna84 ·

Dit is regtig betreurenswaardig, want eintlik is ‘n reënboog ‘n simbool van hoop, nuwe begin, transformasie…. iets wat ons land veel eerder nodig het.

Phil ·

Absoluut! Dit terwyl God self met die reёnboog ‘n verbond met die mens gemaak het dat Hy nooit weer die aarde deur water sal vernietig nie. Daardie selfde reёnboog vind ons in Openbaring rondom God te troon (Openbaring 4:3).

Vir my is die gebruik van die reёnboog deur die LGBTQ+ -gemeenskap ‘n tartende klap in God se gesig, so asof hulle vir Hom wil sê “wat gaan U nou eintlik hieromtrent doen?”

Anna84 ·

Dit is die beste skryfstuk wat ek in ‘n langtyd gelees het. Ek het ook geen afkeure vir gay persone nie, mans of vrouens. Inteendeel, ek dink van my beste vriende is gay… maar om dit vir die wêreld uit te basuin is onvanpas en swak smaak. Die gay mense wat ek ken, is nie van die “luidrugtige” *ek is tog gay en ek wil hê almal moet dit weet* -tipe mense nie. Omarm jou menswees en jou liefwees sonder om dit in mense se keel af te druk.

Phil ·

As Christen sal ek ongelukkig nooit “gay-wees” of enige van die swetterjoel alternatiewe geslagsbeskouings kan aanvaar nie, en dus verseker ook nie “gay trots” nie. Jammer as ek militant of “vêr regs” voorkom, want ek is nie so ‘n persoon nie.

Geslag gaan vir God self, wat die mens * na Sy beeld * geskape het, oor veel meer as die anatomiese verskille tussen man en vrou. In ons man-wees en vrou-wees (soos God ons geskape het en nie soos ons wil identifiseer nie) en wat dit vir God beteken, is ons ‘n lewende profesie van die uiteindelike huwelik van die hemelse Bruidegom met Sy bruid, die universele gemeenskap van gelowiges (d.w.s. die kerk).

En God is nie die Outeur van verwarring nie. Daardie onderskeid behoort aan die duiwel, die vyand van ons onsterflike siele wat by die mens verwarring saai oor God self, Sy skepping en oor die mens self. Enigiets, solank ons net nie met God se roeping vir ons lewens beantwoord en met Hom versoen word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.