Wanderlust: Hoofstuk 17

Foto: Koos Greeff

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust -Red

Die vrou praat so ietwat Ingels en die man darem ʼn skaflike Duits, maar verder verstaan hulle net Hongaars. So, as ek met die man praat, moet hy tolk sodat sy darem weet ons skinder nie oor haar nie, en weer andersom met haar. Dis die driegangsafari, hierdie ene. Maar dis skaflike mense en sommer gou is hulle mak en ons trek die Namib deur tot doer bo in Kaokoland. Toe ons by Warmquelle se fonteintjie insak, is daar g’n mens in sig nie en die tante beklee haar in ʼn “two piece” – so ʼn swarte. Die volgende dag het sy weer ʼn “two piece” aan, maar hierdie keer so ʼn gekamoefleerde ene. Sy is al ʼn grootmens en dis ietwat onaardig, maar wat – ek hou my oë doelgerig. Ons kuier sommer lekker en die twee oues geniet die warm water en stilte. Ons staan toe sommer paar dae daar by die Ongongo-fonteintjie.

Ons trek later ooste toe en sy hou sommer haar ritme. Dis óf swart óf gekamoefleer, met ʼn petjie op en hofskoentjies aan. Dag vir dag. Ons praat van Viëtnam se oorlog want hulle was beide betrokke daar. Sover ek kan onthou, was hy die sekretaris van vervoer of so iets vir die Oosblok-lande, en sy was ʼn sekretaresse. Maar hulle mag maar praat van skepe en treine en lorries, en hulle vertel hoe hulle die Amerikaners se blokkasies omseil het.

Later vat ons Angola se oorlog, want ook daar het hulle die Russe help skietgoed aanry en ek kry die anderkant van die storie. Hoor ook van vragskepe vol vis wat hulle van Namibië se noordgrens weggery het. Eintlik is hulle my vyande, maar ons is darem algar bekeerd nou.

Maar ek hoor ook van die situasie agter die Ystergordyn van destyds. Soos die slag toe die Russiese soldaat en sy Hongaarse maat saam wag gestaan het op hulle gemeenskaplike grens. In die donkernag hoor hul mense wat oor die drade klim en weswaarts beur. Skiet sommer so die donkerte in en toe is dit weer stil. Later stap hulle twee daarheen en vind ʼn sak vol klere en ander kosbaarhede. Toe reken die Rus hulle moet stilbly van die fonds en die buit broederlik verdeel. “Nee,” antwoord die Hongaar. “Nie broederlik nie, want jy’s die grootboet en deel verkeerd. Ons deel dit vyftig-vyftig.”

So hoor ek die Oosblok het maar lank gely onder die grootbroederskap van die Russe. Lyk my die “grootbroederskap” is maar ʼn geneukery dwarsoor die aardbol.

Later kies ons koers om vir ʼn paar dae die Okavango te gaan bekyk. Grootfontein het destyds ʼn lekker Spar met ʼn eetplek daar in die hoek. Die tante is teen die tyd totaal mak en help kosmaak en opwas dag vir dag. So maak ons die oom sit om solank koffie te drink en ek en die tante vat die rakke. Ek stoot trollie en sy pak in. Maar die mense wil ons nie uitlos nie. Hulle staar ons behoorlik aan en party gluur geheel. Ek is later heel ongemaklik, want eintlik is ek baie mens-vriendelik. Dis eers later dat ek oplet ou Eva het nog steeds haar tweestuk aan – die swarte!

So is ons deur die grens Botswana in en later uit en toe Zimbabwe in. Daar het ek hulle gelos. Ek weet nie of sy, toe hulle in Vic-valle in die vliegmasjien klim, darem iets anders aangetrek het nie. Maar dit weet ek, mens kan met min klere regkom in Afrika. Weet nou nie van in Rondebosch of Houghton nie, maar in elk geval: dieper die bosse in kan jy regkom met min.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Eish ·

Dankie Koos. Nou is my gedagtes genadiglik verplaas na die beter dinge in die lewe dan die geweldadige nuus van gebeure in die helhool.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.