Wanderlust: Hoofstuk 23

Sononder by Palmwag (Foto: Koos Greeff)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust –Red

Ek weet nie of die mense bed-moeilikheid het nie maar die man wil kom jag en die vrou wil gholf speel – sommer vir veertien dae aaneen. So vlieg hulle saam-saam tot in Johannesburg en daar skei hulle van bed en kas. Die vrou hou aan tot in die Kaap en die man vat die masjien na Windhoek toe. Monika vat vakansie en wag vir haar in die Kaap en hulle vat die wynroetes van die Klein-Karoo en gholf die hele pad tot in Oudtshoorn. Ons jag – elke môre voordag drink ons eers koffie en knaag ʼn paar beskuite – dis nou die jagter wat knaag want die buitelanders glo mos nie daaraan om die ding in die koffie te doop nie.

Teen elfuur strompel ons weer die kamp pootseer in waar die Duitser regstaan met ʼn etery wat skrik vir niks nie, want ons vat sommer brekfis, oggendtee en middagete aaneen. Dan rus ons ietwat om die volpense te laat sak en namiddag is ons die hoogsitte in of loop ons rustig die terasse van die Ugab-vallei en soek horingman-koedoes.

Volgens Monika hou die antie net vier dae toe daal die weemoed op haar neer en is die gegholfery nie meer so lekker nie. Toe hulle Oudtshoorn haal, moet hulle op die foontjie klim want sy moet nou inderhaas Windhoek toe vlie om die bed-en-kas-bedryf weer een te maak. En dis nie van eers vir my bel en vra hoe ons werkery uitsien nie. Want as jy nou gedink het om ʼn ander ou op ʼn jagtog te vat is soos vakansie hou, dan lieg jou oeka. Dis harde werk en jou bek is later skeef van glimlag en mooi woordjies praat oor die onhandige mens se snaaksighede – gewoonlik is hulle mos ryk en slim en dwars. Boonop kry ek kommissie op die wildjies wat ons uiteindelik dood kry, so die werkery vat aan my sak.

Maar die antie land mooitjies vieruur die middag in Windhoek en ek en “Jagter” moet op aandag staan. Daarna is dit eers gekopery in die Marua Mall voordat ons die donkerpad anderkant Okahandja vat noorde toe. En ek hou geheel en al nie van in die donkerte ry nie want ek het mos geleer om vieruur by my plek te wees.

Die koedoes staan hier en daar tot by Otjiwarongo maar toe ons daar wes draai rigting Khorixas, toe is dit vlakvark, gemsbok en koedoes. My oge brand later van stip kyk en ek het die wiel vasgevat en nader gesleep totdat hy hier teen my borskas druk. Ek sprak g’n sprook nie, maar die twee gaste is besig om die bed en die kas bymekaar te bring. Vroegdag môre klim ons eers in die kooi.

Sy gee ons net een dag van genade toe begin byt die miere haar op ʼn anderse plek. Ons moet nou vort die “orrelpyp-gesteentes” doer anderkant Khorixas gaan kyk. Ek smeek later en vertel dis eintlik net vir geoloë en ander ouens wat in oergoed wil rondkrap, maar die antie staan vas. Sy’t vir “Jagter” so opgewerk dat hy ook permanent mis skiet – ons het net die eerste dag ʼn duiker kon platskiet.

Die Duitser pak padkos en so vat ons die pad oor Khorixas weswaarts. Ek het vrede gemaak met my lot en vat vir laptoppie saam, want ek reken ek het darem so twee ure se genadetyd waar ek my twak-storietjies kan opteken. Maar die verliefdes was net by die kantoortjie anderkant uit toe sit die antie om en kom klim hulle weer die bakkie. “Nee” reken sy, hulle wil eintlik die boesman-gravure by Twyfelfontein sien. Dis reeds lekker warm – jy weet mos hoe warm Suidwes soms op ʼn wintersdag kan word en ek vertel haar mooi dat as ons by Twyfelfontein kom, sal dit skraps ná middag wees en sy sal dood brand. “Nee” antwoord sy. Sy kom uit Europa en hulle ken van warm kry – hierdie warmte is sommer ʼn grappie.

Nou vat ons die draaipad af na Twyfelfontein en toe ons daar in ʼn stofstorm stop, los ek sommer die bakkie om te luier. Die aircontjie spoeg sulke lou-koel luggies uit en ek stoot die sitplek plat om darem my middagslapie in te kry. Ek weet nie of die verliefdes die klipkantoor gehaal het nie, want toe ek weer sien, sit hulle in die bakkie – skynbaar was daar ʼn ongekende hittegolf daardie dag by Twyfelfontein.

Ons ry toe maar terug jagplaas toe. ʼn Hele 400 km grondpad om die wonderlike uitstappies te geniet!

Van toe af laat teken ek mense vas vir die safari. En as jy my wil rondja met ekstra geryery sal jy wragtag betaal – sommer sulke verneuk-pryse. As ons jag, dan jag ons en jae ons nie rond agter klippekyk of gholfballe nie.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Eish ·

Mensig! Dis n veeleisende joppie om toer en jaggids te wees!
Seker waar die franchise bedryf sy oorsprong het.
Dis die menu en basta!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.