Wanderlust: Hoofstuk 3

Oompie Gerrit Nieuwoudt van Okahandja en sy broer, oompie Servaas Nieuwoudt van Carolusberg naby Springbok (Foto verskaf)

Hierdie is die derde uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

Iewers in 1967 of ‘68 het die Wanderlust vir Pappa ook gepak. Dit was die Junie-vakansie en ons het die geel Opel Kadet gepak en die langpad gevat na die noorde. Die eerste stop was by oompie Servaas op Carolusberg. Hy was ʼn baie belangrike man want hy was mynkaptein by die kopermyn daar. Ons is met ope arms ontvang en met raad en daad bygestaan vir die skrikwekkende tog donker-Afrika in. Ek weet nie of die hele pad tot in Windhoek nog grondpad was nie, maar vir my het dit in elk geval so gevoel. Ek vermoed ons het by die Hardapdam oorgeslaap daar naby Marienthal, want toe ek later jare weer daar aandoen, was die plek vreemd bekend vir my.

Hoe dit ook al sy, ons het ons hoofbestemming bereik en dit was die heerlike dorp van Otjiwarongo waar oompie Gerrit grootbaas van die polisie was – selfs meer belangrik as sy broer doer in die suide by Carolusberg. Ons kleinneefs het sommer dadelik vlam gevat en die dorp se swembad moeg geswem al was dit in die middel van die winter. En oompie Gerrit het vleis gebraai. Op hardekool stompe met ʼn omswaai rooster wat so aan kettings gehang het: koedoesteak en gemsbokrib en skilpadjies en goed wat ons kanaal-ape nog nooit eers van gehoor het nie. Hy het wonderlike stories vertel van Boesmanland en die Waterberge, rooiklei-mense wat nooit bad nie en die wonders van die Caprivi. Skynbaar moes hy baie rondry en die klein buitestasies gaan besoek, want hy kon vertel en vleisbraai.

Op die een of ander manier het hy vir Pappa-hulle oorreed gekry dat ons die Etosha-panne moet gaan besoek en so daag ons ongeboek daar op. Die een nag kon ons geen rondawel of huisie kry nie en moes ons lotjie by die Andersonshek slaap in ʼn karavaan of ʼn blikhuis van die een of ander soort. Maar ek was groot en dapper en my oupas het my geleer om nie bang te wees vir diere nie, so ek kondig aan dat ek vanaand buite gaan slaap. Later is almal kooi toe en ek maak my salig tuis teen die kampvuur op so ʼn rooi-en-blou-opvoumattrassie. Dit was salig: net ek alleen buite terwyl die res van die mensdom wegkruip in huise en hokke. Net ek om die sterre te geniet en die Afrika-veld waarlik in te drink.

Iewers in die na-nag ruk ek wakker en hoor ʼn ge-oempff en geroggel diep uit die keel van die een of ander boosheid. Ek skrik my eers lam en toe in overdrive in. Ek was eenvoudig te trots om te gaan aanklop by die ysterhok waarin Pappa-hulle salig snork en bestorm toe maar die Opel. Maar die kar is mooitjies gesluit. Tot vandag toe weet ek nie hoe nie, maar ek is by daai toe kar in sonder ʼn sleutel en sonder om iets te breek. Slaap toe maar verder op die agtersitplek. Met dagbreek is die gesin wakker en begin angstig na Koos soek om hom later opgerol soos ʼn stuk boerewors, in die Opel te vind. Maar die geheim bly steeds staan – hoe het ek die toe-kar ingekom?

Ná nog ʼn dag of wat het ons die pad suide toe aangedurf, maar by Marienthal weggeswaai die Kalahari in, oor Stampriet en in die rivierloop af in die rigting van Gochas. Iewers halfpad draai ons weer oos en betree die plaas “Schilflaage” van oompie Theuns Smit – my ouma se eie broer. Watter saligheid. Oompie se twee seuns boer saam met hom op die reuseduineveld en hulle het man-man ʼn span kinders so van ons portuur. Die seuns-hemel het behoorlik op ons neergedaal want ons werk skaap en ry met die Willys-Jeepies die wêreld vol. Ons gly duin af op kartonbokse en skiet duikers of steenbokkies in die nag met die “saloontjie” en dan vat Oompie-goed die Land Rovers en die grootmense klim met komberse en koskratte die gevaartes in en ons lot gaan hou piekniek iewers onder ʼn besonderse boom op ʼn besonderse duin. Iewers langs die pad ruk die een Land Rover se vergasser los, maar oom Babs pluk daar ʼn draadtang uit en knip ʼn stuk draad van die heining af. Toe pak hy die Land Rover en kort voor lank hoes die affêre en daar trek ons weer.

In die aande is daar vuur gemaak en iets op die kole gegooi en later kloek ons saam om die houtstoof en die familie dreun oor mooi tye en lekker herinneringe van vervloë dae. Ons is uiteindelik daar weg met vol harte en ʼn kattebak vol biltong en sukkel af met die Auob tot in die Gemsbokpark. Ek kan nie meer veel onthou daarvan nie want my hart was te vol van Schilflaage, maar weet darem dat voor ons Upington gehaal het, was die een skokbreker af en die eksorspyp flenters. So kom ons stukkend en donderend Upington in waar die spul weer gelap is. Verder onthou ek niks nie.

Maar die Wanderlust het toe behoorlik uitgebroei. Die lust na Duitswes, soos oompie Theuns dit genoem het en na stilte en na vryheid en na duine wat verveeld in die son sit niksdoen. Na krulhoring koedoes en fier spiesbokke en die heuning-reuk van springbokke wat hang teen die Willys se tralies. En so het ek kennis gemaak met PJ Schoeman en Sangiro en stap ek saam met hulle op ver paaie – tot vandag toe.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Spiekeries ·

Wat ‘n belewenis was dit nie! Ek onthou die ongerepte landskap soos gister. Dankie dat jy die geheue weer so bietjie opgehelder het en ek sien uit na nog wanderlust uit jou pen. Doe so voort!

Engela ·

Dankie vir hierdie stukkie onthou!
Ons het ook as redelike groot familie einde 1967 uit die Kaap Windhoek toe gery (al die pad grondpad) met ‘n VW kombi. Ook Etosha toe (het ook eerste aand buite geslaap maar dit was darem beplan!) Otjiwarongo, Outjo en toe kus toe. Henties, Swakop, Walvisbaai en terug Windhoek toe. Ongelooflike herinnering!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.